Onderhoud met Jerzy Koch oor sy bundel “Polkadraai”
Joan Hambidge (JH)
Hartlik geluk met jou skitterende bundel. Dit is slim en aangrypend.
Jerzy Koch (JK)
Baie dankie, ek waardeer dit. Ook omdat almal weet jy is ʼn kritikus met ‘n skerp oog.
JH
Jy het sopas jou tweede bundel gepubliseer Polkadraai waarin jy sowel die buitelandskap as die binnelandskap tegelykertyd in ʼn eiesoortige polka verken. Vertel ons iets meer van die titel.
JK
Dit was aanvanklik slegs die werkstitel en daarmee het ek met my uitgewer gewerk – jy stuur mos nie die naamlose klomp gedigte nie; ‘n mens wil nie praat oor “ʼn bundel” nie, jy wil hom doop, selfs al is dit ʼn tydelike naam. Die struktuur van die boek het reeds vasgestaan, maar die titel was steeds die werkstitel. Ek was toe meer besig met die inhoud en het aan afsonderlike gedigte geslyp en met hul volgorde gespeel toe my uitgewer Marlene Malan gesê het hoekom behou ons nie die werkstitel nie? Toe het ek die titelgedig geskryf wat op ʼn manier hermeties is of ernstig en in ʼn ander sfeer baai as die eerste assosiasies wat die woord verwek: vrolike en vinnige volksdans uit Boheme, baie populêr in Pole maar ook hier, en tegelyk ʼn plaas en ʼn pad buite Stellenbosch. Daar is ook ʼn verwysing na die Kaapse draai, d.w.s. na taalverandering wat Nederlands in Suid-Afrika ondergaan het, sedert die 17de eeu, en wat onlangs met my gebeur het. Min Afrikaanse mense weet dat “polka” in Pools “ʼn Poolse” beteken, Poolse vrou dus. En daar is nog ander draaie in die titel se betekenisse maar ek los dit as voer vir ontleders.
JH
Jy is vertaler, bloemleser, geskiedskrywer, digter, dosent. Hoe sien jy jou verskillende rolle? Voed die een die ander?
JK
Die rolle mag verskillend wees, die mens is steeds dieselfde. Of tog nie heeltemal nie: as jy ouer word, verander jy nie; jy word alleen maar méér. Ek bedoel daarmee dat sekere karakter- of selfs liggaamstrekke intensiveer.
As vertaler het ek begin werk omdat ek in 1982 ʼn politieke Berufsverbot gekry het om aan die universiteit te gaan werk waar ʼn plek vir my gewag het. Dit was die gevolg van my politieke betrokkenheid as student en die ondergrondse aktiwiteite; in 1982 was ek vir ʼn rukkie sonder om verhoor te word in die gevangenis geïnterneer. Hierdie soort aanhouding sonder tydsbeperking van “staatsvyandige” burgers tydens die sogenaamde oorlogstoestand in Pole is deur die wet in die kommunistiese Pole moontlik gemaak – vir my was dit ʼn traumatiese ervaring wat my byna gebreek het. Op die werk by die universiteit waaroor ek gedroom het, moes ek wag: ek het aanvanklik as argivaris gewerk, later as onderwyser op hoërskool, dosent aan die akademie vir beeldende kunste en toe uiteindelik aan die universiteit by Neerlandistiek. Maar in die tussentyd het ek begin vertaal.
Wat ek daarmee vir jou wil sê, is dat daar reeds in die begin verskillende ervarings, aktiwiteite en draaie vir my in my lewe voorgeskryf is. Ek is dus baie meer as ʼn professor, ʼn digter of ʼn literatuurhistorikus. En dit spreek vanself dat die ervarings in ’n mens se lewe ophoop, kumuleer en dat die een rol of funksie die ander ondersteun én aanvul. Die vertaalaktiwiteite waartoe ek sedert 2017 na jare van onderbreking teruggekeer het, is ʼn ander manier om met literatuur om te gaan – jy beweeg tussen bron- en doeltaal en vertoef in die grysgebied tussen hulle; gedigte skryf beteken ook diep in die woordmaterie sit, klasgee is aanvoeling vir jonger mense ontwikkel en oordra van wat jy weet, en met die nagraadse of PhD-studente deel jy selfs dít wat jy nog nie of nog nie heeltemal weet nie en dis die grootste en lekkerste uitdaging.
JH
Op die buiteblad staan die woord glissandi saam met kierie en kamma en karring. En (pitch)? Dat jy as nie-moedertaalspreker juis bewus is van die verskillende klanksisteme tussen tale?
JK
Dis moontlik. Ek weet nie of ek dit so bedoel het nie, maar noudat jy dit so stel, sluit ek dit nie uit nie. Die woordwolke op die omslag was my idee, want ek probeer altyd om my sê te sê by die omslagprojekte van my boeke, ook akademiese publikasies. Maar in hierdie geval het Turksvy duidelik gevra watter idee ek het oor die moontlike omslag. My redakteur Daniel Hugo het my seleksie van woorde beaam. En dit was grafiese kunstenaars wat ingeskakel is en wat dit so fantasties uitgewerk het – ek is baie, baie bly oor die resultaat. Vanaf die begin het ek gedink ek wil hier die twee are by mekaar sit wat Afrikaans – en op ʼn manier ook my – voed. Beide stromings kom by mekaar, vul mekaar aan én versterk mekaar. En dalk het die klanke, die musikaliteit van die woorde ook veroorsaak dat ek in party van my gedigte na Latyn en Khoi gegryp het, maar – let wel – al daardie woorde wat ontlenings is, behoort deesdae tot die Afrikaanse woordeskat.
JH
Jy verwys na Escher. Dalk die twee wêrelde wat saam-bestaan?
Dis waar. In een van die gedigte verwys ek na dié Nederlandse kunstenaar wat reeds baie vroeg indruk op my gemaak het. Escher is soos Bach – wiskundig ingestel en tegelyk met baie verbeelding. Jy sê, saam-bestaan van twee wêrelde? Ja, op ʼn paradoksale manier want op die oog af – soos by Escher – kan dit nie so wees nie; kan daardie argitektoniese perspektiewe wat hy geskep het nooit bestaan nie, maar dit het tog ontstaan, want die ónmoontlike het sy bekorings en menslike brein, ons verbeelding en kuns, ingesluit woordkuns, maak dit moontlik en werklik.
JH
Dit is opvallend hoe Olga Kirsch en Boerneef nou telkens terugkeer by vele Afrikaanse digters. Hoekom dink jy word hulle nou weer “lewend” gemaak?
JK
Om die waarheid te sê, ek weet nie. Ek kan nie namens ander praat nie. By my was dit partykeer ʼn literêre of selfs anekdotiese inspirasie. Die biografie oor Kirsch wat my vriendin Egon Roth geskryf het, het ek in ʼn vroeë stadium gelees en dit het Kirsch nog nader aan my gebring. Ook is ek later benader deur Chaim Beneven-Botha, ʼn Suid-Afrikaner van Joodse afkoms, wat vir my sy artikel uit De Kat (Junie 1998) gestuur het, ʼn verslag van sy besoek aan die digter toe sy op haar sterfbed gelê het. Uit daardie inlewing in die posisie van die besoekende het my gedig voorlesing ontstaan. En Boerneef is een van die getoonsette digters met wie se werk ek danksy musikale bewerkings reeds in ʼn vroeë stadium kennis gemaak het. Ganse het in die sambreeldenne gaan sit in die Maraispark waaraan ons huisie gegrens het toe ek en my vrou vir ʼn half jaar in Stellenbosch gebly het. Dit was die direkte aanleiding tot die gedig godgans.
Vir my is dit vanselfsprekend dat ek ʼn gesprek begin met die ander, partykeer ouer digters. Ek was tenslotte literatuurhistorikus vóór ek gedigte in Afrikaans begin skryf het. Afrikaanse literêre werke is goeie leerstof om die taal te leer ken en te verken. Geen wonder dat party van my assosiasies literêr is nie. Ons moenie vergeet nie dat ʼn mens altyd op die skouers van die reuse staan wat ons voorgegaan het. Daar is altyd sekere elemente van die klassieke benadering tot die literêre materie sigbaar. Soos in die antieke retoriek of kunsbeoefening: eers is daar translatio (vertaling), dan imitatio (nabootsing) en aemulatio (poging om te oortref). Daardie laaste sou ek vandag verander na die soeke na eie toonhoogte. Maar ook as jy dit gevind het, besef jy dat jy by die groot koor van stemme aansluit wat van ouds sing en weerklink. Die gedigte uit die afdeling “Literatuurgeskiedenis”, in beide digbundels Pleks van plaas en Polkadraai, kan gelees word as erkenning aan en huldiging van die Afrikaanse skrywers, terwyl ek met my eie stem probeer praat.
JH
’n Mens sou jou bundel kon benader as ’n soort herkanonisering. Jy skryf ook ’n literatuurgeskiedenis van die Afrikaanse letterkunde. Hoe sien jy die sentrum teenoor die periferie?
Ag, jy weet, Afrikaans is in die periferie, Nederlands of selfs Pools met byna 40 miljoen sprekers ook, want dit gaan mos nie oor die aantalle nie. Ons is nie in die wêreld se kulturele sentrum nie. Dis hoekom ons met mekaar moet praat, meer as tot dusver en nie noodwendig deur bemiddeling van groter of wêreldtale nie. Maar ek dink nie jy bedoel die posisie van literature nie, maar herkanonisering binne die Afrikaanse lettere. In daardie geval sou ek liewer sekere outeurs hoër begin waardeer as wat dit tot dusver die geval was, pleks om sekere name af te skryf. Dis wat ek probeer het met die Twintigers in deel twee van my literatuurgeskiedenis A History of South African Literature: Afrikaans Literature. Part Two: The Period of Emancipation, 1900–1930 (Van Schaik 2022). Daardie groep of generasie digters verdien om ʼn beter historiese posisie te beklee as wat die ouer kritici en party lesers aan hulle toegeskryf het. Die Twintigers het die Afrikaanse literêre taal verryk deur vertalings en ontlenings uit ander tale. Hulle het begin met die grootskaalse invoer van gemeengoed wat in die Afrikaanse literatuur in daardie stadium nog nie bestaan het nie. Ek bedoel kollokasies, motiewe, metafore, temas of topoi uit ouer en/of groter literêre tradisies. Opgeleide mense het daarmee in aanraking gekom in Nederlands, Engels of Duits. Dis hoekom party van hulle daardie skrywers as sekondêr en onselfstandig gesien het. Die Twintigers was nie net besig om die poëtiese erfenis van die Europese Middeleeue of Renaissance in Afrikaans in te voer nie (soos A.G. Visser), of na die antieke en Germaanse mites en tradisionele beeldspraak uit 17de-eeuse Nederlandse en 19de-eeuse Engelse poësie te kyk nie (soos Toon van den Heever), maar hulle was bewus van die nuwe ontwikkelinge binne die moderne Europese literature en het dit tegelykertyd aan Afrikaans bekendgestel. Die Twintigers het nie die tweede viool gespeel nie. Of ek iets soortgelyks doen, weet ek nie. Mense sê ek slaan ʼn ander toon aan en het my eie voorkeure by woordkeuses. Indien dit by die Afrikaanse poësie aansluit en my relatiewe outsiderskap iets nuuts bydra, is ek verras maar gelukkig. Noudat ek dit sê, herinner ek my dat een van my eerste artikels oor die Afrikaanse literatuur die betekenisvolle titel gehad het nl. “Hierdie vreemde in die laer”. Enkele aspecten van de Afrikaanse literatuur door een vreemde (1995). Daarin het ek verskillende outeurs bespreek wat uiteenlopende soorte vreemdheid of andersheid of buitelandsheid getoon het.
JH
Kommentaar op die impak van Russiese en Poolse gedigte – soos o.a. Wisława Szymborska – op jou werk.
JK
Ek dink nie daar is direkte invloede nie, of ek is nie van hulle bewus nie. As jy dit so stel, dink ek dat ek nie genoeg belese is nie. Indien jy Charles Reznikoff bedoel, wat uit ’n Joodse emigrantefamilie uit Rusland kom hoewel self reeds in Brooklyn gebore, dan was dit ʼn toeval dat ek in Maart verlede jaar, drie weke na die Russiese aanval op Oekraine, sy gedigte in Poolse vertaling gelees het, eintlik as ʼn soort onderbreking in my swaar en intensiewe werk aan die vertaling van die Nederlandse roman van M.L. Rijneveld Mijn lieve gunsteling. Toe ek een van die gedigte lees, dink ek dis nie Hitler en die Duitse kultuur met haar skrywers en filosowe wat daar figureer en waarvan Reznikoff praat nie, dis nou die Russe en Poetin. So het daardie herskrywing in 24 februarie 2022 ontstaan. En Szymborska wat ek in die gedig voordrag aanhaal, lees ons almal op skool. Sy is die outeur van ʼn aantal gedigte wat klassiek geword het. Ek hou baie van haar humor, woordspel en die manier waarop sy oor die lewe nadink.
JH
Ek meen: “Koch is die meester van grensoorgange tussen tale en verskillende ars poeticas.” Hoe sien jy die hele kwessie van liminaliteite?
JK
Sjoe, jy wil mos dat ek as digter en nie as akademikus praat nie, of hoe? Maar goed dan sal ek oor liminaliteite praat as die mens Jerzy Koch.
Soos my van al verraai, het ek Duitse wortels. My voorsate het aan die einde van die 18de eeu uit Noord-Rhein-Pfalz na die ooste getrek soos talle ander in die kader van die sogenaamde Josephinische Kolonisation georganiseer en gefinansier deur die Oostenrykse keiser Joseph II. Daardie suidelike deel van die eertydse Poolse Gemenebes was deur Oostenryk beset. Dink nou mooi wat van my sou geword het as my voorvaders na Suid-Afrika getrek het?! Van beroep was hulle nie kokke nie, hoewel hulle Koch geheet het. Hulle was boere en smede wat ʼn goeie en by wyse van spreke sosiale beroep was. In my Oupa Karol se smidswinkel het die manne bymekaar gekom om te gesels en te debatteer en hy het selfs tande getrek as dorpsbewoners in nood was. In die Eerste Wêreldoorlog was hy ’n smid in die Oostenrykse leër. Daar het hy met offisiere se driftige perde gewerk. My Pa het ná 1946 in die stad gaan leer en later studeer en as ingenieur daardie tradisie op sy manier voortgesit. Ek het sogenaamd ontaard, maar is nie skaam daaroor nie. Dit is die eerste, historiese grense waarmee hulle my gekondisioneer het.
Van my ma se kant het hulle nie in daardie suid-oostelike deel van die eertydse Pole, genaamd Galisië en Lodomerië gewoon nie, soos my pa se familie, maar in die oostelike deel wat deur Rusland beset was. In die gebied wat nou Wit-Rusland is, het hul as verarmde adellikes ’n bestaan gemaak deur vir ryk mense hul plase te bestuur of van hulle grond te huur. My oupagrootjie het ʼn klein plasie besit, Agalin, suid van Minsk. Ek het nog die ou kaart daarvan en die opgawe van die skade wat die Bolsjewieke aangerig het toe die familie moes vlug. My oupa het as vrywilliger in die Pools-Sowjetse oorlog 1919-1921 geveg, hy was rapportryer by die lugmag se eskader en het ʼn wonderlike motorfiets gery.
Ek onthul my herkoms om te wys dat daar altyd staats- en taalgrense oorskry is. Partykeer omdat daar ʼn nuwe staat ontstaan het, was dit nie nodig om te skuif nie, die wêreld self het geskuif terwyl jy op dieselfde plek gebly het. Hoe gaan ons dus om met hierdie dimensie van liminaliteite, hoe kom ons in die reine met hierdie soort grensoorgange?
Ek weet ek antwoord baie indirek op jou vraag, maar ek wil dit duidelik stel dat grensoorskrydende ervarings reeds in my DNA gelees kan word. Maar ek maak daarvan in my lewe en digwerk iets persoonliks. Trouens, “Oor liminaliteite gepraat”, neem ek graag van jou aan as titel van ʼn moontlike gedig. Dankie!
Nog ‘n onderhoud Met Jerzy Koch:
https://www.litnet.co.za/n-onderhoud-met-jerzy-koch-oor-pole-rusland-en-oekraine/
Resensie Rapport deur Joan Hambidge:
Joan Hambidge
19 Maart 2023
Joan Hambidge skryf:
Hier is die resensie op my blog wat 19 Maart in Rapport verskyn het:
http://https://versindaba.co.za/joanhambidge.blogspot.com/2023/03/resensie-jerzy-koch-polkadraai-turskvy.html