Roland Barthes se duidelikste gesprek met Freud vind ons in A lover’s discourse. Fragments. Wat in 1977 verskyn het as Fragments d’un discours amoureux en in Engels in 1979.
Fragmente, omdat die geliefde nie in totaliteit besê kan word nie.
Barthes skryf oor die “angoisse” of agonie wat die geliefde ervaar: die wag op ‘n wederwoord of ‘n verwerking van die afsegging, van die verby-wees oftewel, die “cri de coeur”.
http://joanhambidge.blogspot.com/search?q=roland+barthes+a+lover%27s+discourse Besoek 1 Desember 2022
Hierdie teks is ‘n semiologiese studie soos Jonathan Culler uitwys in sy studie Barthes (1983).
Writing as the intransitive verb
Die geliefde leef in ‘n universum van tekens, is die uitgangspunt van hierdie studie. Alles wat die geliefde doen (of nie doen), word deur die minnaar opgeteken en geklassifiseer.
Barthes is die meester van die fragment. In sy outobiografiese biografie Roland Barthes par Roland Barthes (1977) word die teks in lexias opgebreek. George R. Wasserman argumenteer oor hierdie aspek soos volg in sy studie: ”The importance for Barthes of avoiding the critical ‘last word’, of producing a criticism of the signifier rather than the signified, appears again and again on the last pages of his books and essays – that point in discourse at which the signifier will close upon itself unless extreme measures are taken” (1981: 120).
Die taal wat die verliefde gebruik in hierdie diskoers word voortdurend onderwerp aan beperkinge: ”Happy and / or tormenting remembrance of an object, a gesture, a scene, linked to the loved being and marked by the intrusion of the imperfect tense into the grammar of the lover’s discourse” (1979: 216).
Die einde van ‘n verhouding kan ook die universum uitmekaar laat spat.
Barthes en die sisteem
In ‘n genderstudie is die onderliggende sisteem van Barthes geanaliseer.
In Roland Barthes se Système de la mode (1967) oftewel The fashion system (1983) word die sogenaamde taal van modeverskynsels ondersoek. Barthes verwys na die “taal” (“language”) van kleredrag en dat daar ‘n spesifieke grammatika bestaan waarvolgens ‘n mens hierdie sisteem kan dekodeer. Hy verwys ook na die werkwoorde wat in aksie tree wanneer die persoon klere aantrek.
Barthes onderskei tussen “Image-clothing” en “written clothing”, oftewel die voorstelling van die kledingstuk in foto en die transformasie daarvan in woorde. Ofskoon beide na dieselfde werklikheid verwys, verskil die struktuur.
Modeverskynsels het ‘n eie leksikon, grammatika, sintaksis en goedgekeurde “turn of phrase”, argumenteer Barthes. ‘n Reël kan net gebreek word as die reël bekend is (2000: 38, 39).
Barthes as teoretikus
Op die voorblad van Cuddon se bekende teoretiese handleiding is daar op die omslag afdrukke van Aristoteles, Samuel Johnson en Roland Barthes.
Barthes is ‘n opgeleide filoloog en die konsep logosthetes verwys na die skep van ‘n nuwe taal. (Die logothete hierteenoor is die term vir sg. chancellor in die Bizantynse tydvak.)
Digterlike taal breek die reëls van taal en Snyman verwys na die vele implikasie-verskynsels by die lees of interpretasie van ‘n gedig in Mirakel en muse (1983). Barthes verwys ook na die grein van die stem (le grain de la voix).
Die verhouding tussen die werklikheid en die spel met sintaksis skep ‘n bepaalde soort spanning in ‘n gedig. Die polarisasie tussen die werklikheid en die sogenaamde poëtiese gestalte is van die kernaspekte vir ‘n gemotiveerde lesing.
En die magiese attribuut van ‘n gedig hang direk saam met die rol van implikasie (Snyman, 1983: 27).
Vasgevang in ‘n diskursiewe sirkel
Die doxa (populistiese mening) probeer Barthes telkens nuut maak.
Hy begin sy loopbaan deur te skryf oor eksperimentele skrywers soos Camus en Robbe-Grillet.
Hy wys op die kompleksiteite van Sollers in Sollers écrivain: en die verskillende topologieë van skryf.
In S/Z (1970) suberverteer hy ‘n verhaal van Balzac teen die intensie van die outeur. Hy wys hoe die teks die leser kan manipuleer en onkant betrap (Culler, 1983: 118).
In A lover’s discourse is dit Die lyding van die jong Werther wat saam met Plato, Nietzsche, Freud en Lacan (én Maria Callas) wat die liefdesboodskap dekonstrueer. ‘n Naam van die geliefde is net ‘n voorletter. Dalk ‘n werklike geliefde wat alfabeties “behandel” word?
Teen die einde van sy lewe skryf hy oor Balzac se kamerjas, Flaubert se notaboeke en Proust se kamer; ‘n ironie waarop Culler wys dat die “dood van die outeur” só ondermyn word (Culler, 1983: 119).
Roland Barthes deur / par Barthes kan gelees word as ‘n refleksie op sy skryfloopbaan.
Larvatus Prodeo
Maskers en jouissance. Die plesier van die leesaksie.
Selfs wanneer hy bely, is hy gedistansieerd. In ‘n derdepersoon. Met ‘n masker aan.
Van s’abîmer (to be engulfed) tot by voulour-saisir (will-to-possess) word die geliefde in ‘n tekensisteem ingebed. Die verlange deurnag kan nie verwoord word nie: Onuitspreekbare liefde (Barthes, 1979: 97).
Daar is 26 verwysings na Freud en Lacan.
Logosthetes
Op ‘n gereedheidsgrondslag
óntskryf ek die wêreld.
Ek lewe met ‘n drif,
ter wille van die skrif.
Vér van inspirasie,
nader aan ‘n konstellasie.
Ek lewe met ‘n drif,
ter wille van die skrif.
Éraflure, blessure,
onsigbare letsels?
Ek lewe met ‘n drif,
ter wille van die skrif.
Vreemde woorde agter-
volg my asindeties.
À voix basse, stiekem
betrap hierdie vers my.
Die drif word die skrif.
Die skrif is die drif?
Die psige se plattegrond
‘n arktiese sirkel dalk?
Geen toepassing gevind
in hierdie klein eklips.
Ek lewe met ‘n drif,
ter wille van die skrif.
Joan Hambidge
Desember 2022
Bronne:
Barthes, Roland. 1977 / 1979. A lover’s discourse. Fragments. Vertaal deur Richard Howard. Londen: Jonathan Cape.
– 1975 / 1977. Roland Barthes. Londen: The MacMillan Press.
– 1970/1974. S/Z. An Essay. Vertaal deur Richard Miller. New York: Hill and Wang.
– 1967/1983.The fashion system. Vertaal deur Matthew Ward & Richard Howard. New York: Hill and Wang.
– 1973/1975. The pleasure of the text. Vertaal deur Richard Miller. New York: Hill and Wang.
–1953/1967. Writing degree zero. Vertaal deur Annette Lavers en Colin Smith. New York: Hill and Wang.
Cuddon, J.A. 1976. Dictionary of literary terms and literary theory. Londen: Penguin.
Culler, Jonathan. 1983. Barthes. Glasgow: Fontana Books.
Hambidge, Joan. 2000. Gender-konstruksies in die Afrikaanse letterkunde:‘n Ondersoek in kultuurstudies, literêre teorie en kreatiewe skryfwerk. UCT. PhD.
Snyman, H.J. 1983. Mirakel en muse. Johannesburg: Perskor.
Thody, Philip. 1977. Roland Barthes. A conservative estimate. Londen: The MacMillan Press.
Wasserman, George, R. 1981. Roland Barthes. Boston: Twayne Publisher.
