Die Volledigheid van Water
(fuga as kleinood van yin)
Die stad, sê my vriend, Johannes¸ is nie vir dromers nie:
hy ween van geslag tot geslagte mense in onvolledigheid.
Heiligheid, ʼn vae (vrug)beginsel – miskien soos om gedig te skryf
oor gister om die vraag oor vraagstelling te beantwoord.
Elke Adamiese siklus het terloops ʼn beginpunt
maar ook ʼn val – áltyd ʼn benadering oor Syn en Syne
wat deur die poort van die ek, die my-mense
uitdrukking moet kom vind in die lied:
Kom laat ons sing!
Dat die afsydigheid van onslewe steeds die stad kom voed
is nie vir my om te verstaan of te beaam nie: my opinie van is
was en wat moet wees, is irrelevant – woorde maak nie die man:
woorde is op sig Self die antwoord, miskien ʼn
vertroostende herhaling. Want om ondergronds
te leef is om van ʼn brokkie waarheid te spreek:
dat daar weer deur die korteks gebreek sal moet word na (en van) lig.
Om te wéét hoe watere straal en soek, ontvorm en dans
is om aartappels, kool en mieliepap te berei
vir ʼn nuut-begeesterde besending mensvleis:
om my gort-is-gaar-beeld van die wêreld
met Sy lettere van waarheid
te probeer maak dans in dié vers.
Maar, hol is óns waarheid:
want dis die verstaan wat
weet dat die verstaan nie
volkome kan wees sonder
hart nie, en dat hart nie
sonder sonde kan leef
of volkome uiting aan
sin of wete kan gee nie –
As die handskoen daarom na-genoeg
by(passend) is en die korf ʼn ontdekking
dat dit die swerm is wat ons stadskinders
tot ʼn sprokie doem: bely dan my taal, bely:
dat alles wat mooi, goed en bevrydend is
weer herhaal kan word, soos byvoorbeeld:
liewe Afrikaner, hier is ons nou, voorlopig,
as vermoeiende reis al deur die suide –
en ons hoop steeds op belofte van vryheid:
iets wens dat mens weer in jou sal groei –
dat ons ʼn gedenknaald kan oprig
in die ode groter as ál die wonde
wat die stad in pyn kom dompel het.
(Ek is) die boustene van die bouvalle van gister
máár (jy is) die ek wat ekkerigheid ver-moontlik:
dat elke kouseltjie kool van vriende, vyande
kan maak, en dat elke bouseltjie ballingskap
die vers wat vryheid, of dan eerder,
moontlike vryheid kan fatsoeneer
verdoem word tot by die punt
waar omdraai, ʼn nadraai tot gevolg het:
maar vervelens, vervelig
die geykte ode, en daarom: stil, stil(te) …
Praat dan eerder met ons oor ys óf grot óf water:
die spieëlbeeld is mos op sy beste
as daar nog nie rimpels
oor die oppervlakte beier –
wat is ʼn stadskind sonder son, maan en sterre
wat in meesterlike harmonie golwe leer bestaan/verstaan?
Watter einde moet daar voorspel word
om te weet, te verwoord: dat die klippie
wat die water laat kring, die hand
vir altyd moet verlaat, om te verklaar:
die dienaar van son, maan en sterre
– koolvretende mieliepapbereiers –
is soos die klippe in Sy hand
en water soms in die hoogste plekke
donker, só stil, die stagnante poel –
Dat daar al gesê is:
dat Sterwe-self eintlik net sisteem is –
Dat daar al gesê is:
Lewe is ʼn siekte waaraan ek
stuk-stuk – goddank – (sal moet) genees –
En selfs, ʼn vroulike geheimenis:
dat – dit – nie van wees (is) nie
maar van wording –
dat die vloei van die tye dit is wat
die breinmurg van die skynvlies (moet) onderskei.
Die gelaaide woord is ook wonderwerk, ook gesang
óók die Woord – grondig of gegrond of gerond: op
selfs af – is die verduidelikings van die stad
en die stad-self die verduideliking dat
skepe altyd en oor en oor
die hawens moet verlaat
om in die soeke na die oergrot
(– wat moontlik, maar heel moontlik níé – )
die kyker aan die primordiale beginpunt kan bind:
die weg en die waarheid en die lewe is
wat dalk geen bestaansreg sonder die siklus van sonde het
met die gevolg dat ys nie verstaan kan word sonder water nie
en dat water nie verwoord kan word sonder skepe
wat dobber nie – en óm in en uit hawens te gaan, is om te síng:
om te sing is ritme, en ritme, dan gevolglik die antwoord?
Óf is ritme gelyk aan (Sy) aard?
Met ander woorde: die vergelyking is water:
ná-water, yswater, stilwater,
water-op-geen-begrensing-van-tyd –
om af te tuimel oor die rant van beskikking
en só te vind – dalk vindingryk – te vind
wat uit(-er) (my) aard verborge is.
Om te kan erken dat my woorde my faal
– feilbaar soos ʼn lyf vol wonde –
tóg lepellê in die nag soos ons Liefde
en die stad se geheime
net eenkeer op ʼn slag bevryding kan bring:
en daarom dan: Heilig, Heilig, Heilig
die lepellê – die sing van die eeue
is Sy aangesig wat my woorde
gebrekkig agterlaat –
deur vingers laat val.
Soos skynbomwerpers, die stad één met selfmoord-
bomaanvallers, één met die wysgere van ouds,
één met onderdrukking en verrukking,
één met die ballingskap van die Self:
die walg oudmodies
tóg sien hy hom as refleksie in die spieël
van die moderne, die post-moderne, die meta-moderne
die droom van verheerliking, en die teken bly steeds
haat waaraan die hart nie wil proe,
waarvan die hart nie wil weet
en sluimer – daarom – in naamloosheid
én om te probeer benaam is – soos die ode –
die beginpunt van geheimenis wat gestalte vind
in presies waartoe die gevleuelde woord in staat is?
Dat die wêreld stiller gaan word:
is ʼn bewys van lewe – juis dat die
hart vervlietend aan kan gaan bui-
te die reëlmaat van die lied – en
daarom nie vergesog nie – maar
om te straal en te roep, om te
omgord en om wording te ver-
haal, kort die ritme van die lied,
ʼn uitreik na ʼn goddelike vroulik-
heid om mensvleis te beywer vir die
vorm wat na ʼn stiller wending roep
en vandaar uit te kring na wat as
vorm – die vererwing van die self
ontvorm tot die beenmurg alom.
Ter afsluiting, miskien nét dit: want dit is soos Dit
en kan nooit deur die stad lewe gegee word nie –
Water wat ys is klip(hard). Klip(hard) is die hart
wat nie die vloei van water kan omvat – wat nie die vraag
kan herhaal nie: Kan iets wat geys en versteen is, woorde bring?
Kan dit aanhou om in die stil stilte van nag, die hawens oop te hou
vir skepe se reise na plekke waar odes nog hoor hoort te word?
Kan dit aanhou bestaan met juistheid, trots, selfs ʼn bietjie (kleine) liefde?
Die heelal is kleiner as die skoenlapper se vlerk
in die grenslose uitspansel van die hart (sê ʼn Palestynse vriend)
haweloos opsoek na bewyse dat
watere nóg (kan) straal nóg (kan) soek:
dat die skepe in kan kom, uit kan gaan
(aan kan gaan – )
as onvermydelikheid
en om tot in alle ewigheid terug te keer
tot die wete dat die skepe die stad
sal moet agterlaat
soos die donker hawens
wat juis deur die walg opgerig moes word
om van die groot (ge)weet-word te ontkom:
as sluimerende volledigheid van water.
© Bester Meyer, 2022