Ek is op 2 maande deur die gypsies gesteel en deur hulle grootgemaak. Dis hulle wat my leer toor het. Ons het baie rondgereis en op die ou end hier beland, waar ek gedwing is om te leer skryf en somme te doen.
Skryf is soos toor: Dit verg verbeelding en verbeelding is leuens. Toor en skryf is soos om te droom sonder om te slaap.
My ma is ’n ou krokodil wat in die vlak water lê en loer. Sy het goue tande en kan ’n bok uit ’n bos toor. My pa was ’n reier. Op ’n dag het hy ’n padda ingesluk. Dit het in die verkeerde gat beland en hy het stuiptrekkend die gees gegaf. Ek het sy tuxedo geërf en dra dit twee keer per week wanneer ek by Arthur Murray gaan dans.
Dis my pa wat hierdie twee vlerke aan my skouers vasgegom het. Ek vlieg met volmaan by Melville-koppies. Ek vlieg nie meer bedags nie. Die mense kyk en sê: Daar gaan ’n rare voël verby. Hulle stel wippe en sluit my dan agter tralies toe.
Ek en my broer maak musiek met blikkies wanneer ons op die platteland kom. Dit bring reën. My suster is ’n perd van ’n ander kleur. Sy het haar siel verkoop aan Dale Carnegie en Tupperware. Sy het eierklitsers vir hande en wanneer sy soufflé maak, rys dit by die kombuisdeur uit tot buite in die straat.
My tydverdryf is om te lê. Ek staan net op as my geld op is. Ek het twee honde wat ’n Hongaarse dialek praat en ek het hulle na my hand geleer. Die een maak my bed op. Die ander een kan ’n lekker pot tee maak. Hulle kan ook ballet doen, skaats en brood bak.
Ek is al jare lank ’n radikale selibaat ek hou my nie op met sulke kak soos seks nie. Ek het dit ’n paar keer probeer, maar dit was so kielierig dat ek my elke keer disnis gelag het. My minnaars het almal benoud die berge in gevlug en ek het nooit weer van hulle gehoor nie.
My boek, ’n Gelyke kans, het vanself gebeur nadat ek een aand in Stellenbosch ’n roos in ’n kat verander het. Sedert daardie aand stel die geleerdes weer hulle wippe vir my, want sien, ’n gelyke kans is in Hongaars geskryf en net ’n hond sal iets daarvan uitmaak.
- Curriculum Vitae: Jeanne Goosen
(Metelerkamp 2020: 108)
Dink ’n mens aan Jeanne Goosen, dan dink jy aan die trieksterargetipe. Goosen word in haar biografie, Jeanne Goosen – ’n lewe vol sinne gerepresenteer as biografiese triekster. Maar ook Goosen se hele oeuvre wemel van die trieksters: die vertellers in haar novelles, romans en kortverhale, die sprekers in haar verse, die rollespel in haar klugte en die aanbod van haar tematiek. Goosen word onder meer ’n towenaar, kulkunstenaar, geliefde rebel, buitestaander en anargis genoem.
Die triekster
Die triekster is ’n argetipe en kom voor in die volkskuns, mitologie, religie en letterkunde. As sulks kan die triekster die gedaante van ’n manlike of vroulike godheid, gees, mens, dier, of ’n antropomorfistiese wese aanneem. Die triekster word onder meer geëien aan ’n superieure intellek, wysheid, maar ook uitgeslapenheid. “How to beat the system” mag dalk ’n gepaste motto vir die triekster wees – en gevolglik ’n weiering om te konformeer aan samelewingstandaarde, of om te hou by die voorskriftelike konvensies van sosiaal aanvaarde gedragsnorme.
Die triekster, as grensoorskrydende entiteit, funksioneer binne transliminale ruimtes, vergesel van ongewone truuks (of trieks), leuens en diefstal. “Tricksters love playing with boundaries and one of their favorites is the line that separates the sacred from the profane” (Smith 1997).
In hierdie verband is trieksters skelm, ondeund of onnutsig, of gewoon dwaas. Hulle daag outoriteit uit; bevraagteken en ontwrig die bestaande orde en maak ’n bespotting van enige vorm van wettisisme. In die Griekse mitologie is Herme ’n triekster, ’n pionier en beskermling van diefstal en leuens, ’n gawe wat hy oorgee aan Autolikus. In die Noorse mitologie staan Loki bekend om sy ondeundhede en transmogrifikasie (shapeshifting); trieksters kan van gedaante verander, soos byvoorbeeld geslagsverandering, of verandering in ’n dier.
Verhale van die triekster is so oud soos die mensdom en verskillende kulture, etniese of orale tradisies beskik elk oor hulle onderskeie trieksters.
Volgens Jung figureer die triekster as ’n skadu-argetipe op die grenslyn tussen bewuste en onderbewuste, en vergestalt so ’n komedie van kontrasterende eienskappe. Op ’n kontinuum van uiterstes kan die triekster as skurkagtig, diabolies of selfs rein en engelagtig beskryf word. Die trieksterargetipe, as ’n allegoriese figuur met sy dualistiese aard: mens / god / dier het Jung herinner aan die Middeleeuse karnaval met die ommekeer van ’n sosiale hiërargie – en insgelyks dink ’n mens aan Bakhtin se beskouing van die karnavaleske. Die triekster verteenwoordig die irrasionele, chaotiese en onvoorspelbare aard van menslike denke en gedrag.
Sjamaans en narre – of die Middeleeuse hofnarre – is tipiese trieksters. Oor trieksters as grapjasse en dwase sê Janik (1998) die volgende: “Fools, jesters, and clowns entertain and elicit laughter, a pleasant and even restorative function. They respond to and act in the world with surprise, unconventionality, and even absurdity, with their apparent misperceptions, metaperceptions.” Spitsvondig en vlug van begrip, is trieksters lief daarvoor om poetse op ander te bak of om gewoon moeilikheid te soek. Hulle is storievertellers per excellence en vermaak hulle gehore, dikwels met versinsels wat aangebied word as waarheid, maar wat die waarheid gelieg is. “Interpreter, storyteller, and transformer, the trickster is a master of borders and exchange, injecting multiple perspectives to challenge all that is stultifying, stratified, bland, or prescriptive. Tricksters embody the complexity, diversity, and paradoxes of literary studies today, which demand the recognition of competing voices. In multicultural debates, the trickster is a lively, diverse, unpredictable, vital actor, enlivening postmodern discourse and everyday lives” (Smith 1997).
Bekende literêre trieksters is byvoorbeeld Viola (Shakespeare se Twelfth Night), Peeves (J. K. Rowling se Harry Potter), Tom Sawyer (Mark Twain se The Adventures of Tom Sawyer), Puck (Shakespeare se A Midsummer Night’s Dream), of Matilda (Roald Dahl se Matilda). Uiteindelik is die triekster ’n agent van verandering, en dit is wat ek wil beklemtoon met hierdie essay. Goosen se oeuvre, bekronings en biografie bevestig haar rol as triekster / pionier binne die sosiopolitiese en maatskaplike konteks van Suid-Afrika toe verandering in denke broodnodig was. Hierdie essay het geensins ten doel om Goosen se lewe en werk deur ’n morele lens te ondersoek nie. Dalk som Frank Zappa dit ten beste op wanneer hy sê: “Without deviation from the norm, progress is not possible.”
In ’n pak speelkaarte verteenwoordig die triekster die Joker (Grapjas); maar, weens die komplekse aard van hierdie argetipe, sou dit reduksionisties wees om die triekster binne die Tarot se Groot Arkana bloot te eien aan die Dwaas (Fool). Nichols (2019) verduidelik dat die triekster beide die Dwaas en die Magiër (Magician) verteenwoordig: “The Fool and the Magician are both at home in the transcendental world. The Fool dances about in it like an unconscious child; the Magician journeys through it as a seasoned traveler. Each is related to the Trickster archetype, but in different ways. The differences between the Fool and the Magician in this respect parallel those between a practical joke and a magical performance. The Fool plays tricks on us; The Magician arranges demonstrations for us. The Fool perpetrates his surprises behind our backs; the Magician can perform his magic before our eyes if we will attend his performances. The Jester fools us and makes us laugh; the Magician mystifies us and makes us wonder.”
Jeanne Goosen as triekster
“Dis nie genoeg om dankie te sê dat sy my ore en oë oopgeblaas het en dat ek deur haar werk, haar unieke blik op die lewe, ’n nuwe wêreld kon betree waar alles magies, skreiend, wreed, teer én laf was nie. Jy het my betower, Jeanne, al wou ek soms jou nek omdraai.” – Sandra Prinsloo in haar huldeblyk aan Jeanne Goosen.
Jeannette Helena Goosen is op 13 Julie 1938 gebore is Parow, ’n voorstad van Kaapstad. Metelerkamp verwys in haar biografie hoe Nurse Spies die baba gevang, en Goosen se moeder vir haar gesê het: “Jy het mos agterstevoor uitgekom. Nou ja, toe sy jou vir my bring, sê sy: ‘Dè, Mrs. Goosen, daar’s jou probleem’” (Metelerkamp 2020:11). Die spreker-digter se selfspot as “agterstevoor” kind (probleemkind), herhaal ook in verse waarin ’n liefde en verlange na haar moeder weerspieël word:
My mamma is bossies
Sy is dood nou
ingeweef in die familietapisserie
Sy jaag haar ganse strandlangs
met ’n dun swepie aan
Sy draai om, sien my
My agterstevoorkind, sê sy
Mag dit goed gaan met jou
(De Wet et al 2020: 259)
Asook:
Vir Christina Landman
Soos ’n ou lover het ek by die bushalte gewag
op my ma se as in ’n fles,
wat met die Greyhound-bus sou kom.
[…]
My agterstevoorkind, het sy my genoem
en al was ek al in die tronk
het sy nog my part geneem
want ek was haar kind
die onderstebo bliksem
– nota: werk verder hieraan
(Goosen 2020: 106)
Die belewenis van buitestanderskap word in reliëf tot die spreker se moeder verwoord.
Sonder om direk na die triekster te verwys, projekteer Metelerkamp die argetipe deurlopend op Goosen se biografiese gegewens. Die aanbod van Goosen se biografie wyk af van die konvensionele “model”: die biograaf bied die lewensverhaal aan as ’n werk van fiksie en maak die leser daarop bedag dat daar onsekerheid bestaan oor die waarheid, of geloofwaarheid, van die gegewens. Goosen se oeuvre word outobiografies vervleg met die biografie, wat aan die werk ’n veelstemmige kwaliteit verleen. Die biografie verskyn ook sonder bronverwysings (na byvoorbeeld bestaande onderhoude) agter in die werk. “Met so ’n vrugbare verbeelding [van Jeanne] is dit nie aldag moontlik om te onderskei tussen feit en fiksie nie. Die leser van die lewensverhaal wat hier oorvertel, saamgestel en veronderstel is, moet asseblief maar vertrou: Dit is so na moontlik aan die waarheid. Raar maar waar, die essensie van Jeanne en haar verbeelding: die waarheid gelieg” (Metelerkamp 2020: 10). Ten spyte van sommige resensente se kritiek teen Jeanne Goosen – ’n lewe vol sinne, is Herman Lategan vol lof vir die biografie. Hy vergelyk Goosen met die Amerikaanse joernalis skrywer, Hunter S. Thompson en verklaar onomwonde: “Die biografie fynkam al die kleurvolle en donker tye van Goosen se lewe.” Joan Hambidge bevind: “Dis ’n hoogs leesbare biografie.” Durf ek duiwelsadvokaat speel en vra of Metelerkamp die biografie op enige ander wyse kón skryf – meer konvensioneel, dalk? Want die neerpen van Goosen se gefragmenteerde lewe was, om te begin, ’n haas onbegonne taak; tog het die biograaf haar uitstekend van haar taak gekwyt. Die psige van die persoon onder bespreking, Jeanne Goosen, word gereflekteer in die werk – ’n belangrike toetssteen vir ’n geslaagde biografie. En alhoewel die projeksie van die triekster in dié werk waarskynlik intuïtief tydens Metelerkamp se skryfproses geskied het, laat dit die leser wonder of ’n mens nie baie ná aan die waarheid beweeg nie. Goosen het ook nooit ’n goeie storie bederf met feite nie. En die triekster, op haar beurt, laat haar nie inperk of vasskryf nie.
Goosen word groot in ’n disfunksionele huis in die (laer-)middelklasomgewing van Parow. Haar pa, Pieter is ’n tekenaar by die Spoorweë en haar ma ’n huisvrou en by tye ’n winkelklerk by die OK Bazaar, temas wat op hul beurt uitspeel in haar oeuvre byvoorbeeld die gedig, “By Copernicus leen ek ’n slim slypglas” (Elders aan diens), asook die roman, O.a. Daantjie Dromer.
Alhoewel die ouers hoogsbegaafde individue is – uitstekende storievertellers en musikante – is die Goosen-gesinsopset egter ’n disfunksionele een. Die vader toon tekens van sielkundige stoornisse en sterf later aan selfdood, ’n gegewe wat beskryf word as biografiese waarheid, maar deurlopend gefiksionaliseer word deur Goosen. Aldus die biografie maak Goosen geen geheim daarvan dat sy haar pa gehaat het nie; sy emosionele mishandeling het dekades later steeds by haar bly spook. Sy staan ambivalent teenoor hom, want sy het hom ook liefgehad. “Bibberende Piet”, die spreker-verteller se pa is ’n ingeburgerde figuur in Goosen se oeuvre, die leitmotief van ’n problematiese dogter-vader-verhouding wat dwarsdeur haar oeuvre bly herhaal.
Inkonsekwente dissipline en die afdreig met godsdiens en straf word afgewissel met verbeeldingryke en aangename jeugherinneringe, en Goosen, as jong kind, leer om haar toevlug tot die wêreld van verbeelding, rollespel en magie te neem. Sy druip standerd drie, maar word die skool se hanswors: “Sy oefen om ’n gehoor te vermaak. Sy laat haar broer en suster in die agtertuin sit om haar vertoning te sien. Met haar pa se tuxedo aan, waarvan die broekspype en moue opgerol is, en haar ma se serp om haar middellyf om die broek bo te hou, hou sy konsert.” (Metelerkamp 2020: 14). In die hartverskeurende kortverhaal, “Lenie” (’n Gelyke kans) beskryf die jong verteller dat haar pa verloor het op die perde, en hoe sy ’n hoender moet gaan “uit-raffle” as die gesin die Sondag wil eet. Die dogtertjie doen trieks om die kaartjies te verkoop, en teen die aand tap haar moeder vir haar ’n bad vol water terwyl sy haar troos omdat sy haar troetelhen verloor het: “[…] en jy is jou ma se otherwise clowntjie” (Goosen 1995: 19). Sy vertel dat sy haar lewe lank volgehou het met die speel van rolle, wat sy “clowning” noem. In standerd ses word Goosen die junior Kersvader in Ackermans in Parow. Sy was alom bekend as entertainer: sy kon meesterlik klavierspeel, stories vertel, en was berug vir haar kaskenades. Om te ontvlug van haar gebroke omstandighede skep Goosen ’n fantasiewêreld waarin sirkusse, konserte, humor, towerkrag en fantasie reeds kleintyd ’n ontsnaproete gevind en bygedra het tot die vorming van die latere triekster. “Mense is honger vir magic. “Die lewe is ’n sirkus and the show must go on.” – Goosen 14/3/95
Sy erken dan ook dat diefstal en leuens deel van haar en haar ouer broer se oorlewing was (Metelerkamp 2020: 14). Die jong en rebelse triekster eggo op ’n sardoniese wyse die Nobelpryswenner, Doris Lessing, se woorde wanneer die volwasse skrywer aanhaal: “I was fortunate enough to escape education at the age of fourteen,” ’n beskouing wat resoneer met Mark Twain se bekende woorde: “I have never let my schooling interfere with my education.”
’n Ander vermaaklike gebeurtenis (nogal makaber) is die verwysing na Goosen se familie wat in die “begrafnisbedryf” werksaam was as ondernemers of grimeerkunstenaars. Goosen onthou haar en haar niggies se direkte konfrontasie met lyke (wat gereed gemaak word vir begrafnisse), asook die feit dat hulle ingeval het by die roubeklaers en saam gesing en gehuil het, al het hulle die oorledenes van geen kant geken nie. Hierdie biografiese opgaaf vind neerslag in die kortverhaal, “’n Kat in die sak” en “Piet-pop” (’n Kat in die sak), asook die verwysing na die “mooimaak” van lyke, soos in die gedig, “here”: “Die begrafnisondernemer het hom mooi gemaak vir u poorte” (Groot Verseboek, deel 2). Die absurde, makabere of bisarre elemente, wat Goosen se werk kenmerk, is ironies reeds teenwoordig in haar lewe as jong kind. Die skrywer skep temas wat dien as hiperbool vir ’n leë en banale lewe – daar kan slegs ontvlug word van die werklikheid deur galgehumor; anders gestel, ’n mens kan slegs van hierdie nihilistiese bestaanswerklikheid en gepaardgaande eksistensiële Angst ontvlug deur daaroor te lag.
Goosen se pa is in 1975 oorlede aan selfdood (vergassing), ’n tema wat sy ook kaalvuis aanpak in haar skryfwerk. In die kortverhaal “Piet-Pop” het die karakter (Piet) selfmoord gepleeg deur homself met ’n haelgeweer te skiet. Goosen hou by die trauma van selfdood, maar verander die detail. Toe haar broer, Danie, in 1990 oorlede is aan ’n hartaanval, het sy in verskeie skrywes, onder meer in ’n rubriek, “Bestendig maar kritiek” beweer hy het sy eie lewe geneem: “Die volgende dag kry ons my broer dood. Hy het homself opgehang aan ’n balk in die garage.” (Metelerkamp 2020: 89) Maar waarom dié roekelose spel tussen fiksie en werklikheid? Die antwoord lê waarskynlik in die herhalende uitspeel van trauma, ’n vorm van retrokognisie (of nákennis) waarin die tema, selfdood, die lyer van PTSS bly volg, maar die inkleding van die vertelling telkens verander. Tog laat Goosen genoeg leidrade aan ’n wakker leser dat sy inderdaad woeker met fiksie. In dié rubriek lewe Bibberende Piet (wat jare gelede reeds oorlede is): Hy is gekoppel aan ’n ventilator, en sy toestand is “bestendig maar kritiek” – wat ’n oksimoron! Goosen het kort tevore self ’n hartoperasie gehad, en projekteer met ander woorde haar eie mediese probleme op Piet. Sy skryf Piet lewend en haar broer dood, ’n stuk fiksie wat lesers ongelukkig as ’n “feit” aanvaar het. Het die triekster weer eens haar gehoor uitoorlê?
Na skool ontkom Goosen van haar huislike omstandighede: sy sny haar hare kort soos ’n seun s’n, trek haar broer se klere aan en begin duimgooi. Haar voorkoms is nou androgien (’n interessante kenmerk van die triekster), en die mense wat haar oplaai op pad Johannesburg toe, aanvaar sonder meer dat sy ’n seun is. Aangekom in die groot, vreemde stad slaap Goosen in leë polisieselle, aanvanklik as gevolg van ’n tekort aan blyplek. Op ’n dag sien sy ’n klavier in ’n hotel se sitkamer staan, en kom ooreen met die eienaar dat sy vir die gaste sal klavier sal speel in ruil vir ’n gratis kamer. Sy was op daardie stadium onbewus daarvan dat die vroue, wat in die straat rondhang, prostitute was wat hulle op hul beurt oor die “seun” ontferm het – vroue met “harte van goud.”
In 1962 kwalifiseer Goosen haar as diagnostiese radiografiste. Sy vertel dat die hospitaal se radiografie-afdeling baie stil was – dan het sy van die pasiënte se X-strale geneem, ’n skuifspeld daarop gesit, dit weer afgeneem en vir die niksvermoedende pasiënt gevra waarom hy ’n speld ingesluk het! Die triekster is lief vir poetse en Goosen was male sonder tal in die sop oor soortgelyke kaperjolle.
As skrywer was Goosen ’n belangrike agent van verandering. Reeds met Om ’n mens na te boots verwys André P. Brink na dié novelle wat as sleutelwerk in ons prosa sal bly staan. Haar groot deurbraak kom egter met Ons is nie almal so nie, in 1990: Dit is die vyftigerjare en die Groepsgebiedewet tree in werking. Die bruin bure moet uit die “blanke buurt” trek. Gertie, die verteller se ma, versier ’n koek vir Oupa, maar:
”My ma stap om na Gregory se ma se kant toe met die koek. ‘Ek het net gou gekom om vir julle ietsie te gee om julle nuwe plek mee te vier,’ sê my ma en hou die bord met die koek na die vrou.
Gregory se ma kyk na haar en sê: ‘Ons het niks nodig nie, dankie Mevrou.’ Toe draai sy haar gesig en kyk voor haar by die venster uit.
Die man bly net so sit agter die steering.
Sy vrou sê vir hom: ‘In godsnaam, ry net dat ons hier kan uit!’
Hy sit die enjin aan en reverse.
My ma hardloop agterna met die koek en skree: ‘Ons is nie almal so nie!’” (Goosen 2000: 97).
Met die skryf van hierdie toneel sit Goosen haar pen neer en bars uit van die lag. “Dit gaan nou my hele reputasie beduiwel. Maar dit is baie belangrik dat ek hierdie goed wil sê. Toe word dit vir my ’n uitdaging” (Metelerkamp 2020: 79). Ons is nie almal so nie het inderdaad ’n veelbekroonde en veelvertaalde ikoniese Afrikaanse roman geword. Die gaping wat Goosen gesien het, illustreer die grense en liminale ruimtes waarbinne die triekster werksaam is – sy het die kans/gaping gevat, en die boek was ’n sukses. Goosen beskryf die roman as ’n verset teen sosiale logika, en sy voltooi die werk net voordat F.W. de Klerk op 2 Februarie 1990 die einde van die era van apartheid aankondig. Haar tydsberekening kon nie beter gewees het nie. “Tricksters, who combine tradition and change, make ideal agents for a politically engaged, visionary art (Smith 1997).
As dit by verskillende vertellers en fokalisators kom, morf Goosen soos ’n kulkunstenaar in verskillende gedaantes. Daar is, benewens die onskuldige dogtertjie, Gertie, in Ons is nie almal so nie (wat merk dat die figuurlike keiser kaal is), ook die hond, Tsjaka van Frik du Preezstraat nommer 24, Damnville. Tsjaka lewer skreeusnaakse en hartverskeurende kommentaar op ’n post-’94 politieke bestel, soos dit uitspeel in die arm woonbuurte van Pretoria-Wes. Wie is Jan Hoender?, op sy beurt, is ’n meervlakkige roman wat óf fabel, óf allegorie, óf ’n ekologiese kragtoer kan wees. Soos in die geval van Louoond lewer Goosen sosiale kritiek op talle kwessies byvoorbeeld die versteurde ekwilibrium in die natuur en samelewing, op die mens as vernietiger van die natuur, of die aard van rewolusies en kapitalisme – in kort: die waansinnige maatskaplike bestel. Ek keer hierna terug.
Goosen se eenakters (klugte) is opgevoer met groot sukses. In 1992 verskyn Kombuis-blues, Kopstukke en ’n Koffer in die kas as Drie eenakters, waarvoor sy die Rapport-prys vir drama verower. Kopstukke handel oor ’n man en vrou wat ná ’n motorongeluk albei parapleë is en in ’n bed lê en mekaar verwyt oor alles wat verkeerd gegaan het in hulle lewens/huwelik. Die klem op banaliteite soos die spysverteringstelsel, roep, soos in die geval van die kabaretteks, “’n Taaipit vir Tollie”, Bakhtin se beskouing van die groteske liggaam voor die oog. Laasgenoemde resoneer met Bakhtin se teorie oor die karnavelske, waarin die bestaande magshiërargie na analogie van ’n Middeleeuse karnaval op sy kop gedraai word. In “’n Taaipit vir Tollie” word die spot gedryf met ’n Siamese tweeling wat aan hulle rektum(s) aan mekaar vasgeheg is. Oor hierdie onthutsende kortverhaalbundel sê Metelerkamp (2020: 105): “In ’n Gelyke kans word ontvlugting gevind in baldadige, obsessiewe en makabere seks en wreedheid – waar alle grense oorskry word. Dit wil voorkom of die skrywer alles inspan om Afrikaner-Calvinisme nek om te draai”.
Goosen se voorkeurmedium as dramaturg is die klug – die keuse van ’n triekster? “In haar monografie oor die klug het Jessica Davis verskillende soorte intriges in die klug probeer onderskei. In die eenvoudigste vorm word iemand ’n streep getrek; daarvoor is slegs ’n slagoffer, ’n grapmaker en ’n goeie idee vir ’n poets nodig. Dit verskaf ’n sekere primitiewe genot aan die toeskouer as hy sien hoe ’n ander verneder word en bied hom ook ’n onskuldige bevrediging van sy aggressiewe gevoelens. […]
In ’n meer ontwikkelde intrige bly dit nie by een poets nie, maar kry die slagoffer geleentheid om wraak te neem, sodat daar ’n komiese ommekeer plaasvind. Dit word dus ’n magstryd waarin die twee partye goed teen mekaar opweeg en beurtelings die oorhand kry. Hierdie patroon kom dikwels voor by die klug wat rusies uitbeeld, veral dié tussen man en vrou.” En hiervan is Kopstukke ’n dawerende bewys. Goosen het na die klug verwys as “die anatomie van die huwelik” wat neerkom op die groteske liggaam met gepaardgaande verwysings na die liggaam se laer stratum.
Woord: wapen en waansin
“There is a pleasure sure in being mad which none but madmen know.” – John Dryden, in Om ’n mens na te boots.
Jeanne Goosen: “Ek dink ek is met die instink gebore dat jy altyd op die rand van die afgrond dans. Jy weet net wanneer om terug te trek” (Metelerkamp 2020: 82).
“Die gedigte beweeg oor gevaarlike afgronde heen – maar stort nooit na benede nie” (Hambidge 2007).
“Baie vrees my waansin, ’n wapen wat soms ingespan word om te oorwin” – Jeanne Goosen, (Metelerkamp 2020: 124).
Dwarsdeur Goosen se oeuvre kom die tema van waansin aan die bod. Sy beskryf haar belewenis van opnames in psigiatriese hospitale, asook dié van akute depressie. Tog oorspan hierdie beskouing van waansin die patologiese, en wys die skrywer daarop dat die samelewing – en die hele lewe – “mal” is. Reeds met haar digdebuut, ’n Uil vlieg weg (1971) posisioneer die digter-spreker haar as ’n buitestaander; ’n (wyse) uil wat eenkant leef (wegvlieg). In haar laaste bundel, Het jy geweet ek kan toor? (2020) bevestig sy weer eens: “Ek leef op die kantlyn / grotesk trots op my andersheid.” In haar resensie oor Elders aan diens beweer Hambidge dat Goosen dikwels skryf oor die persoon wat buite die normale orde beweeg en as “waansinnig” of “bossies” verklaar word: “Die verskoppeling, die afwykende, die verdrukkende, die stemlose, die vernederde – aan hierdie mense gee sy stem. Terselfdertyd verfoei sy valsheid, napratery, die regering, onnoselheid” (Hambidge 2007). Die aktivering van waansin in Goosen se oeuvre het ten doel om fel sosiale kritiek te lewer op ’n disfunksionele, maar geoutomatiseerde samelewing. Soos in ’n vroeëre gedig, “Ontslag uit die gestig” (Groot Verseboek, deel 2), skryf Goosen in retrospeksie oor haar belewenis van ’n psigiatriese fasiliteit:
dankie vir die hulp
dat julle my toegesluit het
en vol pille gestop het
die gideonbybel en die koek seep in die strafsaal
was fokken goeie terapie
dankie dat julle my brein gesmelt het
met liewe jesus-versies, klei en stukkies tou
dankie vir my sanity:
maandag is wasdag, dinsdag is strykdag en op ’n woensdag
skrop ek vloere
(Goosen 2007: 24)
In haar blog oor psigiatriese kondisies en digters verwys Gisela Ullyatt na bogenoemde vers as ’n voorbeeld van wat David Cooper “the well-conditioned, endlessly obedient citizen” noem. Solank die ‘versteurde persoon’ gekondisioneer word om ‘normaal’ op te tree, word hy aanvaar. In ’n nagelate gedig, “In die gestig” keer Goosen hierdie ‘gehoorsaamheid’ egter op sy kop:
Die vrees damp in my oksels
maar tevergeefs sal hulle wag
dat ek die deur oop moet stamp
of huil of huil
Met my swye
sal ek hul waansin bewys
en snags gegrendel glimlag
en bid: Here
keer ons almal van hierdie normaliteit
(Goosen 2020: 34)
Goosen, as triekster, is ver van versteurd, maar sy span waansin in as strategie om sosiale kritiek te lewer. Felman (2003: 37) stel die literêr-waansinnige gelyk aan ’n filosoof: “One realizes that the literary madman is most often a distinguished philosopher: in literature, the role of madness, then, is eminently philosophical.” Goosen is ’n sosiale kommentator en satirikus per excellence en haar aweregse blik op die lewe maak haar enig in haar soort.
In die aangehaalde stuk uit die kortverhaal, “Nog ’n dag” hieronder, gebruik die verteller ’n vorm van heteroglossie om die waansin van die lewe te verwoord. Dit is enersyds ’n linguistiese en polifoniese, en andersyds ’n literêre kragtoer wat uitspeel in vyf tale: Afrikaans, Engels, Duits, Nederlands en Fanagalo. Daar is ’n debunking van Heidegger se Letter on Humanism (Über den Humanismus), ’n werk waarin Heidegger hom distansieer van Sartre en eksistensialisme in die algemeen. Die einde van hierdie bundel stuur af op totale nihilisme – en dit is skreeusnaaks:
Heute Tag kwam ik in mein offies. Nou. Ik ben kein gute typiste, aber all of a sudden begon ek de hel aus de machine te kapte.
Ich weiss nicht wat ik tik aber es ist een grosse thrill. In my lÿf leefde ik rilling op rilling. Ja, de sensatie ist auch fisiek. Yebo.
De klanke amaze me, de musikaliteit ervan. My insides vibrate. Dat ist de most fabulous ding ich ooit hat getun, dieser neue freedom. Het ist hipsche wegkruipplatz gegen de idiotebestaan.
Kein wortregels, spelregels, eenvormigheid, konstruksie, fokkol dictionaries, grammar, oder form – yebo! Ek rook, jedes emotie ist een passionate puff!
In my laai legt een buch die ik nog gelesen wou: Heideggers brief over de humanisme. I laughs. Humanisme HUMANISME HUMANISME.
Dis die einde van alles, die einde van geskiedenis, die einde van ideologie. Voor in die wapad die GROOT NIKS.
I fall on the floor and I laughs and laughss and laughsss.
(Goosen 2010: 155 – 156)
Verwysings:
Bloom, H. 2010. The trickster. Yale University: Blooms Literary Criticism.
Brink, A.P. (samest). 2008. Groot Verseboek, deel 2. Kaapstad: Tafelberg-Uitgewers.
Cloete, T.T. 1992. (red.) Literêre terme en teorieë. Pretoria: HAUM-Literêr.
De Wet, K. 2020. Vers & Vrou. 258 gedigte. Kaapstad: Human & Rousseau.
Felman, S. 2003. Writing and Madness. Ithaca (N.Y.): Cornell University Press.
Goosen, J. 1971. ’n Uil vlieg weg. Kaapstad: Tafelberg-Uitgewers.
Goosen, J. 1975. Orrelpunte. Johannesburg: Perskor.
Goosen, J. 1975. Om ’n mens na te boots. Johannesburg: Perskor.
Goosen, J. 1986. ’n Kat in die sak. Pretoria: HAUM- Literêr.
Goosen, J. 1993. O.a. Daantjie Dromer. Strand: Queillerie Uitgewers.
Goosen, J. 1995. ’n Gelyke kans. Kaapstad: Human & Rousseau.
Goosen, J. 2000. Ons is nie almal so nie. Kaapstad: Kwela Boeke.
Goosen, J. 2007. Elders aan diens. Kaapstad: Genugtig!
Goosen, J. 2009. Louoond. Pretoria: Protea Boekhuis.
Goosen, J. 2001. Wie is Jan Hoender? Kaapstad: Kwela Boeke.
Goosen, J. 2006. ’n Pawpaw vir my darling. Kaapstad: Kwela Boeke.
Goosen, J. 2010. Plante kan praat. Kaapstad: Kwela Boeke.
Goosen, J. 2020. Het jy geweet ek kan toor? Hermanus: Hemel & See Boeke.
Goosen, J. 2020. 700 + Los gedagtes van Jeanne Goosen. Hermanus: Hemel & See Boeke.
Goosen, J. 2021. Sneeu in die Karoo. Hermanus: Hemel & See Boeke.
Hambidge, J. 2007. Resensie: Elders aan diens. Woorde wat weeg. https://joanhambidge.blogspot.com/2013/02/jeanne-goosen-elders-aan-diens-2007.html?fbclid=IwAR3BEGmYG0FiUON2_2RealachHKOvIsff531UtWq1fwCn2LGCMuBBVD4gfc (14 Desember 2022 geraadpleeg.)
Janik, V.K. 1998. Fools and Jesters in Literature, Art, and History: A Bio-Bibliographical Sourcebook. Westport, CT: Greenwood.
Jung, C.G. 2003. Four Archetypes. Mother, Rebirth, Spirit. Trickster. Vert. deur R.F.C. Hull. Londen, New York: Routledge.
Jung, C. G. 2012. Man and his symbols. New York: Dell.
Metelerkamp, P. 2020. Jeanne Goosen – ’n lewe vol sinne. Hermanus: Hemel & See Boeke.
Nichols, S. 2019. Tarot and the Archetypal Journey: The Jungian Path from Darkness to Light. New York: Weiser Books.
Smith, J. R. 1997. Writing Tricksters. Mythic Gambols in American Ethnic Literature. Berkeley: University of California Press.
Ullyatt, G. 24 November 2014. “Endlessly obedient citizen”: Die gedig as gestig. Deel 2. Versindaba. https://versindaba.co.za/2014/11/24/gisela-ullyatt-endlessly-obedient-citizen-die-gedig-as-gestig-deel-2/?fbclid=IwAR3mXRiVsxSh6uEVuuMdnAr1FyMDDn9dJg3MheI-PyUPwnGhJwEAZKXrG6g (14 Desember 2022 geraadpleeg).