Vrypen-sketse uit ʼn Reisigersboek
(onder ʼn karoonag van sterre)

i.
moes ál die water van die Kaap verlaat
om vir jou te kon vertel
van die wind
deur die laning
van my eensame
Karoonag-tuiste vir die aand
oor berg en dal gestoei vir woorde
– woorde, voor die kennis van die aand –
hoe rotsformasies gekerf is,
gekeep uit hulle berg-blyplekke
en die lied op die radio
wat eers vertel dat die samelewing
nie eensaam
sonder my moet wees nie,
en later,
dat alhoewel ek die reëls ken,
ken húlle my nie noodwendig nie,
dalk nooit nie –
op grondpad
vorige reisigers
se spore loop volg –
verby damme van sink en sement
kraai in vlug, dooie jakkals in die pad,
om terloops en heel toevallig
te kom afpak
by ʼn windpomp
waar ek ʼn paar jaar gelede
ook kom tent opslaan het –
só lei die sirkels my na jou
nou is daar ʼn nota van Goethe
in my skryfboek
wat sê: sodra jy jouself vertrou
sal jy leef –
sodra die wind jou drieletter(grepige) naam kom mymer
sal ek – tong geknip –
weer op die rand
van die droë plaasdam staan,
net soos tóé
die sterre ʼn bespiegeling
van lewe wou namaak –
nou sak die son in berekende grein
oor die vlaktes van weerloosheid –
die windpomp ʼn egalige elegansie
bring water van benede
en in die laning
is die duiwe, my hart
maar ook die geluid
van jou asem in my nek
en soos die jakkalsgeroep wat gaan lê het in die wind
– en soos ek jou nou hier weet soos asem –
só weet ek vanaand gaan die sterre
my huiswaarts lei na jou
en hierdie gevoel van melancholie
vir altyd verraai
bloot net
in ʼn nederige poging
om die jou oop te skryf
met sterre wat in die wind
na water soek:
die Nuwe Testament en Psalms
wat op die bedkassie vir my lê en grynslag
en my hospita se hond wat my volg
asof ek een of ander baas is

ii.
in enige vergelyking
is die son, die maan
en die wolke bo die maan
skimme van wat ons is
ook ék het grysaards gesien
wat in taxi’s ry –
mense van alle kleure
en my rympatroon
van asem
was die onthou
wat nie anders kon as om skiet te gee nie
want, dis die onthou wat altyd blaf soos honde
óm die gisters vas te ketting aan vandag
en om die môres te laat blom
met droombeelde
van wat (nie) daar is (nie)
in die vloei van tyd –
bou daarom drome, my vriend,
standvastig soos sandkastele
wat lugkastele namaak –
óm in die gerugte van reën
altyd te weet, te verstaan eerder:
die roepstem van die wilde ganse by die dam
is soos my eggo (van woorde – )

iii.
in die stille vaart van stilte
is die duiwe se gekoer
ʼn oorverdowende
kloof van asem –
kan mens hierdie klippe
in brood ontvorm
vir die blinde beveel
ek sê vir jou:
staan op, neem jou draagbaar
en gaan huis toe
aan die anderkant
van hart
lumier vir-altyd
op die vleuels van die wind
en die wonde van gister
draai sigsag
soos die speke
van ʼn windpomp
voue wat kraak
in die glansryke (n)êrens
alom
iv.
stille Karoonag van sterre
onder ʼn Suiderkruis –
en vanmôre is dit asof ek nie
my ry kan kry nie –
ge-bed is tog die siel
wat die liggaam voed –
wanneer daar niks oor is
om te sê nie
is die weggaan
soos die tuiskoms
en verandering
die vloei van woorde
oor die lug wat blou
– hemelsblou –
skakerings van stilte
oor die eensaam gewillige
boekie op die bedkassie kom gooi
vaarwel, vreemde Karoonag van sterre:
as die môre kom
sal ek anker gooi
in jou hawe van gister

(Foto’s deur Bester Meyer te Ou Klipskuur, Frasersburg)
