I
Roland Barthes se Empire of Signs verskyn in 1970 en word in 1982 vertaal deur Richard Howard.
Dit is ‘n bondige studie oor Japan en die kulturele verskille tussen die Weste en Ooste. Barthes maak van Japan ‘n tekensisteem: Tokio ‘n stad sonder straatnommers, die verbode terrein van die Keiser se paleis, Bunraku-poppe, eetrituele (“food is never anything but a collection of fragments”), die betekenis van die haiku, die buiging (dit is immers die land van ‘n hoflikheidskultuur) en die delikate cuisine.
‘n Land van suiwer signifikasie: abrup, leeg, soos ‘n fraktuur, beweer Barthes op bladsy 208.
Die Bunraka (ook genoem Ningyō jōruri (人形浄瑠璃) is tradisionele poppeteater wat dateer uit die sewentiende eeu. Dit had sy onstaan in Osaka. Dit behels die Ningyōzukai, oftewel die poppemeesters met die tayū of voorsangers. Die shamisen is die musiekmakers.
Japan kan ten beste opgesom word as ‘n land van rituele. Ons dink hier aan die geishas o.a.
Alles gebeur indirek. ‘n Stad sonder bakens (vir die Westerling); moeilik dekodeerbaar en vir ‘n semioloog soos Barthes ‘n paradys van tekens.
Onder die porselein-ooglid, ‘n swart merk.
Under the porcelain eyelid,
a broad black drop:
The Night of the Inkwell,
of which Mallarmé speaks.
The eye is free in its slit … (102).
II
Barthes skryf ook oor die haikoe, daardie bedrieglik-eenvoudige gedig bestaande uit 3 reëls (5 sillabes in die eerste en derde reëls; 7 sillabes in die tweede).
‘n Gedig waarin die tegelyktertyd van beeld en betekenis saamgesnoer word. Die sewentiende eeuse digter Basho klink so:
In Kyoto
In Kyoto,
hearing the cuckoo,
I long for Kyoto.
Die tanka – ‘n ander Japannese vorm – is soos volg ondersoek:
Tankas
Die liefde met haar
‘n Mount Fuji hoog met sneeu
koud, bitter ysig
maar binne waar niemand sien
‘n sluimerende vulkaan
*
haal die sinkansen
oor die ver Japan vreemd
ek wis bepaald nie
hoe alles sou duur en duur
in ‘n reis andersoortig
*
die maan skyn nou hier
‘n laggende vet Boeddha
oor my wit futon
jou son skyn buite hoopvol
oor ons leë dubbelbed
*
van Nagasaki
tot Kyoto, Osaka
Hiroshima, Tokio –
klink poësie alreeds op
in hierdie vreemde name
Uit: Ruggespraak. Protea, Pretoria. 2002.
Dit is gedig bestaande uit 31 sillabes, ook genoem ‘n kort lied in 5/7/5/7/7 sillabes.
In my bundel Matriks in 2015 het ek Hannes Meiring, die skilder en argitek, so vereer:
Hannes Meiring
Geen kwatryn verpak met venyn,
geen sonnet met rymdwang of verwyt:
net ’n liefdevolle tanka vir ou maat.
“Waka!”, sou jy uitroep, wyl ek tel
aan sillabes vyf-sewe, vyf-sewe, vyf-sewe,
sewe-sewe en betyds besef: larger-than-life
word beslis nie in ’n klein vorm verpak.
Vir jou ’n uta of lied, ’n sedoka
oor jou lewensvreugde én my pyn.
Deur die oë van Barthes kon hierdie leser Japan se tekensisteem na gedigte verplaas.
III
Twee besoeke aan Japan (in 1999 van Tokio – Kioto – Osaka – Hirosjima – Nagasaki) en tydens ‘n reis-om-die-aarde in 2013 weer ‘n besoek aan Tokio.
2 Tokio, ‘n meditasie
Het stilte ‘n struktuur?, skryf jy in ‘n e-pos
laatnag, by my in ‘n ander tydsone reeds lig,
wyl ek stoei met wifi in ‘n hotelkamer van die Shiba Park.
My antwoord na jou bly vashaak, kopsku, spartelend
soos ‘n vis wat binnekort sy ki gaan verloor.
Net agter die hotel staan ‘n begrafnisonderneming,
‘n karaoke-bar en ‘n park vir sloom wandelinge.
Hierdie e-pos is soos smeulvuur, skryf ek terug.
Daar is nog steeds geen aanlynverbintenis nie.
By die tempel gister my hande gewas, ‘n munt gelaat.
Die gode hier, soos ek, swyg in alle teengestelde tale.
In ‘n onversende e-pos seng geluidloosheid stilweg.
4 Tokio, ‘n meditasie
‘n Nokia met ‘n buik gelaai vol sms’e,
‘n Dell Vostro met leggers vol herinneringe
en foto’s geneem met ‘n digitale kamera,
twee e-posbusse wat swel by die dag.
Ek maak my los van hierdie boodskappe,
aanmanings, registrasies. You’ve got mail!
raas die in-boks in die Shiba Park-hotel.
Vroeër immer so ‘n kamer gedeel of verlang
na die ander, die immer afwesige of vertrekkende.
Nou is die hotelkamer ‘n lafenis, meer as ‘n bed
in ‘n stad sonder straatnommers, flitsende neon.
Ook die stad van tussenin-wees, ‘n bardo dus.
Oosters, onbekend, maar wegwyser na die Weste.
En jy? Jy is reeds in San Francisco lesend aan Borges,
met ‘n glas Merlot van Francis Coppola, wagtend
op ‘n boodskap van my amper in die Pickwick Hotel.
Ek sal jou alles vertel van Tokio en hoe ‘n gedig
Borges-agtig my gevange hou totdat jy dit lees.
Bronne:
Barthes, Roland. 1970/1982. Empire of Signs. Vertaal deur Richard Howard. New York: Farrar, Straus and Giroux.
Hambidge, Joan. 2015. Matriks. Kaapstad: Human & Rousseau.
– 2014. Meditasies. Kaapstad: Human & Rousseau.
– 2003. Ruggespraak. Pretoria: Protea.
