Susan Sontag
I
In sy antologie oor mediese poësie, Poetry in Medicine bring Michael Salcman gedigte uit verskeie invalshoeke ten opsigte van mediese kondisies byeen. Salcman is ’n bekende Amerikaanse digter en medikus en wat in die Afrikaanse poësie bekend sou staan as sogenaamde “digtende dokter”. Afgesien van ’n ruim en boeiende versameling verse van klassieke en kontemporêre digters, is dit Salcman se rubrisering wat aandag geniet. ’n Mens sou kon vra wat mediese poësie per se alles mog behels. Die lys is lank, maar oorkoepelend beskou Salcman die poësie rondom die mediese wetenskap soos volg: Die wysheid van die liggaam: anatomie en fisiologie; besmetting, infeksies en koors; blindheid, pyn en ander kwale/inperkings; poeiers, pille en ander kure; die kindersaal; ’n binneblik: sjirurgiese en diagnostiese prosedures; gewasse en trauma; dokters en ander genesers; pasiënte; verwonding van die gees: depressie en demensie; langs die siekbed: pasiënte se geliefdes; die finale reis: die sterfproses en dood; hospitale en ander plekke van genesing; en die herstelproses. Hierdie versameling poësie wat handel oor dokters, pasiënte, siekte en genesing is ’n blitsverkoper en as seminale werk word dit voorgeskryf vir mediese studente in Amerika as studiehulp met die vak narratiewe medisyne. Alhoewel mediese poësie as dissipline oorsee vinnig veld begin wen, is dit in Afrikaans nog relatief onbekend, met die uitsondering van enkele tekste byvoorbeeld Hendrik J. Botha se miniverhandeling vir sy M.A.-graad in skeppende skryfkuns getitel Dokters as digters in die Afrikaanse letterkunde.
II
“Illness is the night-side of life, a more onerous citizenship. Everyone who is born holds dual citizenship, in the kingdom of the well and in the kingdom of the sick. Although we all prefer to use only the good passport, sooner or later each of us is obliged, at least for a spell, to identify ourselves as citizens of that other place.” – Sontag: Illness as Metaphor, p. 3.
Susan Sontag (1933 – 2004) se bekende 1978-werk, Illness as Metaphor, is ’n krities-teoretiese ontleding van metafore wat siektes soos tuberkulose en kanker verbeeld. Sontag verduidelik hoe siektetoestande soos kanker en tuberkulose aan die hand van metafore, wat lei tot stereotipering, deur die breër gemeenskap begryp word. Siekte is egter nié ’n metafoor nie en sy bepleit ’n beskouing wat weerstand bied teen hierdie metaforiese begrip van siektes; teen die bevryding van die siektemetafoor self.
Volgens Sontag (1978) is kanker en tuberkulose beide toestande wat ’n onderliggende taboewaarde het. In die 19de eeu was onbehandelde tuberkulose die oorsaak van ’n legio sterftes, maar vandag is dié siekte voorkombaar en behandelbaar. In literatuur uit die 19de en 20ste eeu word tuberkulose en kanker beskryf as vreesaanjaende siektes: tuberkulose as ’n aansteeklike kondisie, en kanker as ’n moreel-aansteeklike siektetoestand, wat die lyer isoleer van die samelewing. Kanker was, en word steeds beskou as ’n misterieuse maar lewensbedreigende siekte. Volgens Sontag is kanker ’n indringer(-siekte) – “invasion” –, terwyl tuberkulose bejeën is as ’n siektetoestand wat die liggaam verteer (“consumption”). Kankerlyers word vermy, omdat hulle implisiet die doodsvonnis, wat hierdie siekte vergesel, in hulle liggame saamdra.
Sontag verwys voorts na die geheimhouding (“conceilment”) rondom kankerlyers en hulle diagnoses. In Wes-Europese lande is hierdie pasiënte se diagnoses byvoorbeeld met familie, en nie met die kankerpasiënte sélf bespreek nie. Volgens Amerikaanse wetgewing is daar ook nie openlik oor kanker getuig in howe nie, en die mediese rekeninge van kankerpasiënte is in ongemerkte koeverte aan die lyers gepos. Die taboewaarde van kanker resulteer met ander woorde in die “skande” van die dood, waar kanker en die meegaande sterfproses sinoniem is. As ’n siekte sonder vooruitsig en binne die diskoers van onvermydelike fatalisme, is kanker gedemoniseer. Sontag vergelyk kanker onder meer met koronêre hartsiekte: wanneer ’n persoon ’n hartaanval kry, word dit beskou as ’n “meganiese” siekte/proses, versus die vernietigende aard en uitwerking van kanker. Wanneer ’n pasiënt ’n hartaanval oorleef, word dit as ’n heroïese daad beskou.
In Sontag se studie wys sy op die in-tandem-taksering van tuberkulose en kanker. Kanker word vandag steeds deels as ’n mitiese siekte beskou en beklee, ten spyte van mediese vooruitgang, as sodanig dieselfde status as tuberkulose ’n eeu of twee gelede. Tuberkulose is beskou as die siekte van vloeistowwe; van slym en bloed. Kanker, op sy beurt, is beskou as die siekte van verharding; van knoppe en gewasse. Ander ooreenkomste en verskille in die metaforiese begrip van tuberkulose en kanker sluit in die beskouing dat tuberkulose die siektetoestand van die armes verteenwoordig, terwyl kanker die siektetoestand van die welgesteldes (die middelklas of hoër middelklas) verteenwoordig. Die populêre beskouing van kanker is dat dit die liggaam stadig vernietig. Tuberkulose, daarenteen, is begryp aan die hand van dualistiese metafore. Lyers aan tuberkulose kon kunstenaars insluit. Pasiënte wat die “nat siekte” probeer ontkom, het dikwels na plekke met ’n droë klimaat gereis. Die lydende, skeppende en sensitiewe kunstenaar as Boheem word nou ’n swerwer van droë klimaatstreke om hierdie siekte te troef. Hier is dus sprake van tuberkulose as siekte van die Romantiek. Tuberkulose word voorgehou as ’n siekte van ruimte, van “buite”, terwyl die kankerlyer se stryd ’n innerlike stryd, ’n binnegeveg van die liggaam word. Hippokrates se vier persoonlikheidstipes of humores vind ook beslag in Sontag se beskouing van tuberkulose, naamlik dat die melancholiese temperamentstipe inderdaad korreleer met dié van die tuberkuloselyer: dat beide die melancholiese temperament asook tuberkuloselyers die toestand van kunstenaarskap onder lede het.
In die 19de eeuse letterkunde word tuberkulose geassosieer met ‘n gebrek aan vitaliteit. Dickon (2019) stel dit só: “Sontag outlines in Illness as Metaphor the romantic narratives of what she called a ‘tubercular personality.’ Sontag writes the following in doing so, describing one key aspect of romantic tuberculosis: ‘TB was understood, like insanity, to a kind of one -sidedness; a failure of will or an overintensity…the tubercular was considered to be someone quintessentially vulnerable, and full of self-destructive whims’.”
Die vroeëre beskouings van siektes soos tuberkulose en kanker impliseer skuld; ’n oordeel oor die liggaam, of soos Sontag beweer: dié siektes is die oordeel van die self oor die liggaam; die liggaam se selfverraad. Of, om Franz Kafka aan te haal nadat hy verneem het hy het tuberkulose: “My head has made an appointment with my lungs behind my back”. In haar blog oor die narratiewe van siekte en pyn, met verwysing na Marlise Joubert se bundel, Splintervlerk, verduidelik Marlies Taljard dat ’n siekte as die “vyand” voorgestel en getint word in oorlogsmetafore. Hierdie blog is in 2017 gepubliseer, drie jaar voor COVID-19 sy opwagting gemaak het en verskeie wêreldleiers die pandemie met oorlogsmetafore beveg het. “Tot baie onlangs is siekte, pyn en lyding egter selde vanuit persoonlike perspektief in narratiewe tekste belig, maar eerder as allegorie, as simbool van die kollektiewe boosheid van die mensdom, as metafoor van spirituele verdorwenheid of as straf op sonde. Dikwels was verhale oor siekte sodanig gestruktureer dat die siek mens deur sy siekte tot boetedoening of tot inkeer gebring is. Siekte is dikwels (soos tans nog in mediese vakgeskrifte) deur middel van oorlogsmetafore beskryf: die siekte is iets wat die liggaam aanval en wat beveg en oorwin moet word. Daarom was dit dikwels verhale van restitusie, van chaos en oorwinning: die persoon wat aan ‘n siekte ly, wil haar gesondheid ten alle koste terugwen en werp alles in die stryd om die oorwinning oor die vyandelike indringer wat van haar liggaam besit geneem het, te behaal. – (https://versindaba.co.za/2017/06/09/marlies-taljard-dat-ek-so-breekbaar-is/?fbclid=IwAR3Xtv-GbaCC4SJ9mXUfKSmMCa4k__oejhdnVoj6zJB_vcxrRqkmizliR8I)
Drie jaar na die verskyning van bogenoemde artikel het president Ramaphosa op 23 Maart 2020 in ’n weermaguniform verskyn en die eerste COVID-19- inperking afgekondig. As ’n reël dra ’n staatshoof ’n weermaguniform wanneer krygswet ingestel word. Die res is geskiedenis. Wêreldwyd is die koronaviruspandemie in die media en by monde van politieke leiers met oorlogsmetafore beveg, soos reeds genoem.
III
“Memoirs, like cemeteries, are for the living.” – David Rieff
Sontag vermeld nêrens in Illness as Metaphor dat sy self ’n stryd teen kanker gevoer het nie. Sy is in 2004 oorlede, en in 2008 bring haar seun, David Rieff hulde aan sy ontslape moeder in sy memoir, Swimming in a Sea of Death. Rieff was ’n getuie van Sontag se laaste nege maande van haar lewe: sy swanesang aan sy moeder is ’n meditasie oor ’n persoon wat ernstig siek was, maar wat te alle tye met waardigheid opgetree het. Rieff konfronteer die beskouing “dood” as kulturele begrip, maar doen ook introspeksie oor sy eie gevoelens as oorlewende – en die meegaande skepsis en oorlewingskuld waarmee hy moes worstel. Vervolgens die roerende slotgedeelte: “In the meantime, what to do? In The Gay Science, Nietzsche describes the melancholy happiness he derives from the spectacle of human beings loving life and rejecting the thought of death. It is as if he loves them for their gallantry since they will all be extinguished sooner rather than later. His observation consoles me in some way I can neither entirely explain nor entirely justify. In one of her own journals, in an entry written during the period when she was receiving chemotherapy at Memorial Sloan-Kettering for her breast cancer, my mother enjoined herself to ‘be cheerful, be stoic, be tranquil.’ And then she added, ‘In the valley of sorrow, spread your wings.’
This was not the death she died. But in the end, I think that what she said – whether she entirely believed it or not; whether any of us can come to entirely believe it or not – is the best that can be said of old mortality.
In the valley of sorrow, spread your wings.” (p 93)
IV
In haar bundel, Sanctum (2022) bring Joan Hambidge hulde aan Sontag:
Illness as metaphor
Binnewaarts immer bewus,
soos buitewaarts, van siekte slopend
kenner van die metafoor
wys jy op al die trope van ongesteldheid.
In die Cimetière du Montparnasse
word jou graf druk besoek, dog afsydig gehuldig.
Jou afgetakelde liggaam – sonder toestemming –
gefotografeer
deur haar, ’n vulkaniese geliefde.
Oor jou laaste dae skryf jou seun, David Rieff,
hoe leukemie jou lyf oorwin
sonder om die wit vlag ooit te hys.
Wat sou jy van die nuwe, onsigbare oorlog maak?
Hierdie virale aanval, dalk ’n Sarajewo, ’n Wagtend-op-
Godot?
Of ontglip dit alle interpretasies?
Op ouderdom twintig glo
was jy die eerste keer in ’n sinagoge.
Ongelowig, skepties, afsydig,
behalwe oor die mag van foto’s, die liefde,
politieke hebsug; jy, Susan Rosenblatt, pionier
van vrye spraak en volledig één-saam afgeneem
teen die New Yorkse skyline
voor 9/11 alles finaal sou omkeer.
Wat sou my vanoggend ná die lees
van Rainer Maria Rilke inspireer
om oor jou én ongesteldheid te skryf?
Dalk dat engele nooit sonder
demone kan regeer?
(Joan Hambidge. Sanctum, p. 62)
V
Audre Lorde
Die narratiewe rondom kanker is deprimerend, maar noodsaaklik. ’n Katarsis vir buitestanders, oorlewendes en dié wat self aan die siekte ly.
In haar niefiktiewe joernaalvertelling, The Cancer Journals beskryf die Amerikaanse digter, feminis en LGTBQ-aktivis, Audre Lorde (1934 – 1992) haar persoonlike ervaring met borskanker en hoe dit haar lewe beïnvloed. Sy beskou kanker as ’n deel van haar identiteit en as ’n aktiewe proses van genesing en transformasie. Volgens Lorde is kanker nie net bloot ’n siekte nie, maar ’n geleentheid om ’n herwaardering van die self te doen. Sy skryf ook oor die wyses waarop die mediese sisteem sekere maatskaplike verwagtinge van haar as vrou met kanker gekoester het.
In deel I van die boek verwoord sy haar aktivisme soos volg: “I am a post-mastectomy woman who believes our feelings need voice in order to be recognized, espected, and of use. I do not wish my anger and pain and fear about cancer to fossilize into yet another silence, nor to rob me of whatever strength can lie at the core of this experience, openly acknowledged and examined. For other women of all ages, colors, and sexual identities who recognize that imposed silence about any area of our lives is a tool for separation and powerlessness, and for myself, I have tried to voice some of my feelings and thoughts about the travesty of prosthesis, the pain of amputation, the function of cancer in a profit economy, my confrontation with mortality, the strength of women loving, and the power and rewards of self-conscious living. Breast cancer and mastectomy are not unique experiences, but ones shared by thousands of American women. Each of these women has a particular voice to be raised in what must become a female outcry against all preventable cancers, as well as against the secret fears that allow those cancers to flourish. May these words serve as encouragement for other women to speak and to act out of our experiences with cancer and with other threats of death, for silence has never brought us anything of worth.
Most of all, may these words underline the possibilities of self-healing and the richness of living for all women.”
Haar digbundel, The Black Unicorn betrek verse uit haar persoonlike ervaring met kanker en wat haar begrip van haarself, haar identiteit en die wêreld weerspieël. Haar gedigte is introspektief, persoonlik en filosofies en fokus op die diepgaande kentering wat haar siekte beweeg, bring. Sy skryf oor die stryd om aanvaarding en genesing te vind en oor die kompleksiteit van haar identiteit as ’n gay swart vrou met kanker.
A Litany for Survival
For those of us who live at the shoreline
standing upon the constant edges of decision
crucial and alone
for those of us who cannot indulge
the passing dreams of choice
who love in doorways coming and going
in the hours between dawns
looking inward and outward
at once before and after
seeking a now that can breed
futures
like bread in our children’s mouths
so their dreams will not reflect
the death of ours;
For those of us
who were imprinted with fear
like a faint line in the center of our foreheads
learning to be afraid with our mother’s milk
for by this weapon
this illusion of some safety to be found
the heavy-footed hoped to silence us
For all of us
this instant and this triumph
We were never meant to survive.
And when the sun rises we are afraid
it might not remain
when the sun sets we are afraid
it might not rise in the morning
when our stomachs are full we are afraid
of indigestion
when our stomachs are empty we are afraid
we may never eat again
when we are loved we are afraid
love will vanish
when we are alone we are afraid
love will never return
and when we speak we are afraid
our words will not be heard
nor welcomed
but when we are silent
we are still afraid.
So it is better to speak
remembering
we were never meant to survive.
(Audre Lorde. The Selected Works of Audre Lorde, pp. 326 – 327)
VI
Gisela Ullyatt
Die geliefde en ontslape literator en digter, Gisela Ullyatt (1977 – 2020) se debuutbundel, Die waarheid oor duiwe (2020) is in 2022 postuum bekroon met die SALA-prys. In Deel Twee van hierdie bundel berig die digter onder meer oor die mediese behandeling wat sy vir haar kanker ontvang het. Ullyatt se gedigte, wat hulle uitspreek teen die gevoelloosheid en kapitalisme van die mediese bedryf, lewer ’n belangrike bydrae tot ’n diskoers wat nog onderverteenwoordig is in Afrikaans en aansluit by die poësie van Karen Kuhn, Aniel Botha en Jeanne Goosen.
Uitgang
Hospitaal, eensame doolhof / êrens val lig in blokke
steriel die vloere / my hart klop elektries, iewers
naalde en bloedsusters. Ongesiens glip ek deur
vlakke van nabyheid en afstand / ongekend.
Môre / ’n dagreis ver en geruisloos soos wit
komberse. Moederowerste, agter poorte lê
pêrels en die vaak / jou kruise besweer niks
én alles / jou bidkrale klik stom.
Vader van pyn / jou vleishakies soos ’n Bacon-
skildery / Francis Francis, jou screaming pope
kasty en betig met vuur / maar ligjare verwyderd
van vlees reis ek over the rainbow
(© Gisela Ullyatt, 2020, Versindaba)
Verwysings:
Dickon, B. Oktober 2019. “Failure of Will”?: TB Patient Narratives and Susan Sontag’s Illness as Metaphor. The University of Akron.
Hambidge, J. 2022. Sanctum. Pretoria: Protea Boekhuis.
Lorde, A. 1980. The Cancer Journals. Londen: Penguin Classics.
Lorde, A. 2020. The Selected Works of Audre Lorde. Roxane Gay (red.) Manhattan: W.W. Norton & Company.
Rieff, D. 2008. Swimming in a Sea of Death. New York: Simon & Chuster.
Salcman, M. (red.) 2015. Poetry in Medicine: An Anthology of Poems About Doctors, Patients, Illness and Healing. New York: Persea Books.
Sontag, S. 1978. Illness as Metaphor. New York: Farrar Ciroux.
Ullyatt, G. 2020. Die waarheid oor duiwe. Pretoria: Protea Boekhuis.
Baie goeie samevatting van Sontag se perspektief op siektemetafore. Die gebruik van die oorlogsmetafoor is al deur verskeie persone weens verskeie redes gekritiseer onder andere dat dit lei tot ‘n beperkende wen/verloor-mentaliteit. As die “stryd” dan verloor word, kan dit tot skuldgevoelens lei en kan die kankerlyer voel dat hy/sy nie hard genoeg “geveg” het nie.
Soos jy tereg opmerk is dit wel ‘n metafoor wat herhaaldelik in siektenarratiewe voorkom. Sommige kenners bepleit selfs ‘n vervanging van hierdie metafoor deur verruimende metafore soos die reismetafoor. Hoe dit ook al sy, metafore vorm ‘n essensiële deel van sinmaking en dit is eintlik ondenkbaar om siekte bloot as ‘n kliniese gegewe sonder metafoorgebruik te beskou.
Dankie vir goeie en insiggewende stuk werk. Baie dankie.