Grondstasie
(Vir Dolf van Niekerk)
Ek het die uile in die bome ondervra
en die lot van dooies in konstellasies
van die verste sterre nagespoor, waar
soms die wolke en soms die lug nog
boodskappe in die nag se wasem ken.
Ek het met volmaan op Edenburg in
die strate van vergetelheid gaan loop.
Ek het afgestap met Voortrekkerweg
na Smithfieldweg waar daar ’n verlate
plein in die middel van die dorp was.
Ek het die skadu van ’n bleek planeet
in Gannavlei gaan soek en gewag dat
die son se strale lank raak voordat hy
uiteindelik struikel op die verste kim.
Mettertyd het ek teruggekeer na die
skuiwende bestemming van ’n reis na
nimmereindigende plekke op ’n kaart,
na eilande wat net Odusseus sou ken,
soos Ithaka, waar ek my tuismaak op
’n bankie op die kaal plein tussen uile.
Dáár het ek en jy saam gesit en wag
vir die duiwe om weer terug te kom.
© Mellet Moll, 2023