“To be a poet in a destitute time means: to attend, singing, to the trace of the fugitive gods. This is why the poet in the time of the world’s night utters the holy.” – Martin Heidegger.
I.
Dolf van Niekerk laat ’n omvattende literêre nalatenskap agter. Terwyl enkele van sy prosa bekroon is, sou die Afrikaanse digkanon inderdaad armer wees indien sy poësie, wat veral in sy latere jare verskyn het, agterweë bly en in die vergetelheid verdwyn. Nou, na sy afsterwe, is sy oeuvre voltooi, en word dit belangrik dat hierdie nalatenskap in geheel beoordeel word.
Joan Hambidge lewer soos volg kommentaar op die huldiging van Van Niekerk elders op Versindaba:
“Dis nou maar eenmaal so met die digkuns dat ons dikwels eers ’n digter volledig kan takseer na die vertrek. En die digkuns werk anders as musiek of teater. Dit beweeg stadiger en ondergronds.”
Hoewel Van Niekerk se poësie nooit bekroon is nie, is sy digbundels baie gunstig ontvang. Hy het ’n unieke stem gehad waarin die buitestander, die melancholie, die nostalgie, eksistensiële vraagstukke, metafisiese simboliek, transendentalisme en die Suid-Afrikaanse landskap tesame belangrike kenmerke van sy poësie-oeuvre vorm.
Hierdie essay is bedoel om die gesprek rondom Van Niekerk se werk lewendig te hou.
Soos Hambidge in haar resensie van Van Niekerk se memoirs, Legkaart van ’n jong lewe, ’n belangrike sekondêre teks tot Van Niekerk se oeuvre, hierdie bewaringstaak omskryf (Hambidge, 2019):
“Mag niks verlore gaan nie en mag almal ouer as sestig hul herinneringe opteken.”
II.
Ten einde die melancholie, as oorkoepelende konstruk wat die elemente van buitestanderskap, nostalgie en eksistensialisme omvat te benut as literêre lens, word daar vervolgens ’n kriptiese verkenning van die verskillende gedaantes van die melancholie verskaf en die vernaamste brontekste uitgewys.
Hoewel ’n soektog deur Literêre Terme en Teorieë (Cloete, 1992) slegs die melancholie in die konteks van ander literêre begrippe oplewer, publiseer Hambidge in 1987 ’n digbundel getiteld Die anatomie van melancholie (Hambidge, 1987). Sy verskaf ook ’n uiteensetting daarvan, asook die skryfproses in Stilet (Hambidge, 2020), wat daarop dui dat die bestudering van die melancholie soos aanvanklik deur Burton omskryf in The Anatomy of Melancholy (Burton, 1883) nie geheel en al volksvreemd tot die Afrikaanse literatuur is nie.
Melancholie (ook gespel melankolie) word gedefinieer as swaarmoedigheid, droefgeestigheid en swartgalligheid deur die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) (Odendaal & Gouws, 2013).
Die woord word gebruik om ’n ervaring van die menslike kondisie te omskryf, maar word ook dikwels gebruik om die stemming van ’n kunswerk of literêre teks te beskryf.
Die melancholie is ’n meerduidige en hoogs intuïtiewe konsep wat in heelparty tale en kulture op verskillende wyses geaktiveer word. Daar bestaan verskeie wisselterme en terme met ’n gedeelde of aanverwante betekenis maar ’n unieke kulturele herkoms (Komrij, 1989): die Duitse Weltschmerz, Sehnsucht, Grundstimmung en selfs die kollektiewe berou van die Vergangenheitsbewältigung; die Russiese toska; die Franse nostalgié, ennui, spleen en tristesse; die Engelse yearning; die Katolieke lacrimosa en miserere; die Spaanse duende; die Portugese saudade (Bowring, 2016) en selfs die Afrikaanse verdriet en heimwee. Hierdie wisselterme beklemtoon die beginsel dat die beperkings van ’n taal dikwels die begrip rondom ’n konstruk beperk en dat die insluiting van ander tale in die studie van hierdie konstruk tot groter helderheid lei. Dit impliseer dat ons begrip van die melancholie die voorafgenoemde sosiolinguistiese invalshoeke moet insluit.
Melancholie is ’n ontwykende, enigmatiese, maar intuïtief herkenbare menslike toestand wat oor verskeie dissiplines en epogge strek. Dit is ’n transdissiplinêre begrip wat verwikkeld is met uiteenlopende velde soos geneeskunde sielkunde, filosofie, letterkunde, musiek, beeldende kuns, filmkuns, fotografie en ontwerp. Dit is ook ’n transhistoriese begrip waarvan die ervaring en verwoording oor eeue strek (Kristeva, 1992, bl. 258). Dit kom byvoorbeeld voor in die werk van figure so uiteenlopend soos die eksistensiële filosowe Martin Heidegger, Jean-Paul Sartre en Albert Camus, die komponiste Frédéric Chopin, Eric Satie en Zbigniew Preisner, die liriekskrywers Leonard Cohen en Tom Waits, die fotograaf Hiroshi Sugimoto en die filmmakers Andrei Tarkofski, Krzysztof Kieślofski en Theo Angelopoulos (Bowring, 2016).
Melancholie is teenwoordig wanneer die dood die paradys betree, wanneer die natuur treur, en gaan gepaard met hunkering, patos en, só word beweer, die teenwoordigheid van die planeet Saturnus (Bowring, 2016; Klibansky, Panofsky, & Saxl, 1979; Sontag, 1980).
In antieke geskrifte word die planeet Saturnus beskryf as die verste planeet wat steeds met die blote oog sigbaar is vanaf die aarde, en dus ook die donkerste. Die eerste verbandlegging tussen die planeet Saturnus en die melancholie kom in die Arabiese astrologie van die negende eeu voor as gevolg van hierdie duisternis waarin die planeet verberg word (Klibansky, Panofsky, & Saxl, 1979).
Die melancholiese temperament as deel van die vier basiese temperament-tipes soos deur Hippokrates beskryf (Hippokrates, 1959, bl. 137) (en sy verduideliking van die swart gal wat deur die milt vrygestel word) dien as vertrekpunt tot die bestudering van die melancholie.
Burton se The Anatomy of Melancholy (Burton, 1883) is ’n belangrike bronteks waarin die verskynsel van melancholie sistematies omskryf word, hoewel die teks nie empiries begrond is nie en hoofsaaklik uit mitologie gekonstrueer is. In die derde deel van hierdie teks omskryf Burton twee vorme van melancholie, naamlik liefdesmelancholie (die hunkering na aanvaarding en liefde) en religieuse melancholie (die hunkering na antwoorde op eksistensiële en religieuse vrae).
Freud se On Mourning & Melancholia (Freud, 1914) verskaf ’n psigoanalitiese uiteensetting van die melancholie en tref ’n onderskeid tussen bewuste melancholie en onderbewuste melancholie.
Kristeva se Black Sun (Kristeva, 1992) bou voort op Freud en Jung se teorieë en ondersoek hoe melancholie gestalte vind in kuns, literatuur, filosofie, en die geskiedenis van godsdiens en kultuur. Sy brei uit op Lacan se werk deur die melancholie gedeeltelik toe te skryf aan die pre-Oedipale oomblik waarin die verlies van eenheid met die moeder aanvaar word.
Alvarez se psigoanalitiese diskoers in The Savage God (Alvarez, 1972), doen onder meer ’n ontleding van Sylvia Plath en hoe die melancholie in haar poësie beslag vind.
Derrida se The work of mourning (Derrida, 2001) is ’n sekondêre bron waarin die afsterwe van verskeie kontemporêre filosowe betreur word maar waarin belangrike insigte in die verwerking van die afsterwe van geliefdes en vriende omskryf word. Soortgelyk beskryf Barthes se teks Mourning diary (Barthes, 2012) die rouproses na sy moeder se afsterwe.
Daar is ook ’n omvattende ontleding gedoen na die filosofiese aspekte van melancholie in die filosofie van Levinas (Levinas, 1969; Holte, 2015) asook Kierkegaard (na wie dikwels verwys word as die melancholiese filosoof) (Kierkegaard, 1992).
“In my great melancholy, I loved life, for I love my melancholy.” – Søren Kierkegaard
Die literêre kritikus Benjamin bestudeer melancholie teen die agtergrond van die heersende kultuur (Benjamin, 1974; Benjamin, 2007; Benjamin, 1997). Deur Baudelaire as voorbeeld te gebruik, wys hy onder meer uit dat die melancholiese temperament ’n neiging tot lang periodes van wroeging, onproduktiwiteit en destruktiewe gedrag het as gevolg van die vervreemdende gevoel wat die melancholiese temperament teenoor sommige kulturele en historiese gebeure ervaar. Dit word gevolg deur periodes van sublieme en ontroerende uitinge.
Die eerste kunswerk wat die melancholie direk betrek waaroor daar in die kunsgeskiedskrywing melding gemaak word, is ’n gravure van Albrecht Dürer met die titel Melencolia I (Rodrigues, 2020). Benjamin stel in On the Concept of History, die Engel van die geskiedenis bekend deur te verwys na Paul Klee se waterverftekening met die titel Angelus Novus. Die blik van hierdie engel is dikwels geassosieer met Benjamin se beweerde melancholiese hunkering na die herstel van ’n verlore en katastrofies verpletterde verlede (Benjamin, 1974, bl. 184). Holly verskaf ’n volledige uiteensetting van hierdie melancholie in die beeldende kunste in The Melancholy Art (Holly, 2013).
In die poësie word die melancholie veral geassosieer met die treurdig en elegiese poësie in die verskillende gedaantes daarvan. Die grondleggende Engelse digter Geoffrey Chaucer is bekend vir die melancholie in sy poësie (Lears, 2013). Die bekendste voorbeeld van melancholie in die poësie is egter John Keats se gedig Ode on Melancholy (Keats, 1977) wat geskryf is nadat hy Burton se boek gelees is. Heelparty andere na Keats tel ook onder melancholiese digters (byvoorbeeld Charles Baudelaire, Henry Wadsworth Longfellow, Alfred, Lord Tennyson, en TS Eliot se The Waste Land, om enkeles te noem) (Jakse, 2014). Daar bestaan ook verskeie belangrike poësietekste uit ander tradisies wat rigtinggewend is byvoorbeeld Joseph von Eichendorff se gedig Sehnsucht (Kardaun, 1996) uit die Duitse tradisie.
In die moderne wêreldkanon vind die melancholie kenmerkend neerslag in die werk van Anne Sexton, Sylvia Plath en die Argentynse digter Alejandra Pizarnik. Daar is heelwat studies beskikbaar oor die melancholie in Pizarnik se poësie (Sun, 2018). Plath se melancholie is volledig omskryf deur Alvarez (Alvarez, 1972, bl. 3).
In die Afrikaanse tradisie is daar natuurlik ook baie epigone: dink maar aan die bundel Tristia deur N.P. van Wyk Louw (Louw, 1962), asook die poësie van Eugène N. Marais (Rousseau, 1974) – Die Groot Verlange.
Uit al die voorafgaande en verwante bronne, kan die volgende klassifikasie gedoen word ten opsigte van tekste wat op die melancholie betrekking het:
- Tekste wat op die mitologiese oorsprong van die eerste folklore en simboliek rondom die melancholie dui;
- Tekste wat die melancholie binne die psigoanalise verklaar;
- Tekste wat die melancholie vanuit ’n filosofiese perspektief oorweeg;
- Tekste wat die verestetisering van die melancholie binne die kunste beskryf;
- Tekste wat die voorkoms van die melancholie oor verskillende literêre bewegings en tydperke uiteensit en fokus op die wyses waarop dit in die Romantiek, die Modernisme en die Postmodernisme geaktiveer word; en
- Tekste vanuit die verskillende sosiolinguistiese variante van die melancholie.
III.
Nag op ’n kaal plein open met hierdie treffende programgedig getitel “1” (Van Niekerk D. , 2006):
Kaal plein onder die maan,
kerk en winkel en huise staan versteen –
selfs verganklikheid vergaan;
bleek lig skyn by skrefies in,
dit lewe ’n oomblik en sak
in die duister terug. Donker is al lig
in dié gestolde wêreld van ’n jeug.
Die nag is stof,
die vlerkklap van vlermuise
jaag dit op, die maan word goud
in ’n werwelwind, die stof sit
neer in die vorm van gestorwenes.
Hierdie gedig bepaal die stemming van die vertellings wat in die bundel volg. Dit plaas die spreker as enkeling in die middel van ’n plein en skets ’n toneel van verlatenheid, van eensaamheid, van bonatuurlikheid en van afwagting. Soos in al Van Niekerk se gedigte is daar ’n dromerige kwaliteit teenwoordig wat inspeel op beide die eksistensiële, sowel as die transendentale belewenis.
Sentraal tot die gedig, en inderdaad die bundel, is die simboliek van die plein. Ons weet, uit vertellings deur Van Niekerk dat die bundel outobiografies is en gebaseer is op ’n nag wat Van Niekerk, na meer as 60 jaar, terug in sy geboortedorp, Edenburg, spandeer het. Hy bevind homself laatnag op die verlate (en verweerde) dorpsplein en sien hoe verskeie ontslape figure uit die dorp se verlede op astrale vlak op die plein verskyn. Op ’n kaart van Edenburg is daar ’n plein in die middel van die dorp wat vanaf Voortrekkerweg (die hoofweg wat deur die dorp loop) via Smithfieldweg of Murraystraat, bereik kan word. Dit kan dus aanvaar word dat die bundel homself op hierdie plein afspeel. Die geografiese aansig van die dorp het kennelik baie verander en verweer – ’n mens sou waarskynlik ’n toneel uit ’n skildery van Willem Pretorius kon voorstel. Die plein beklemtoon die eksistensiële kwessie: hoe beide die sélf en die plein na baie jare verander het.
Die Spaanse digter en simboloog Juan Eduardo Cirlot verduidelik die simboliek van die dromerige kleindorpse toneel soos volg (Cirlot, 1971, bl. 177):
“Let us take, by way of illustration, landscapes as they appear in dreams. Leaving aside the phenomenon of memory, reminiscence, or the complex association of various sense-data, the scenes and towns which figure in dreams are neither arbitrary and indeterminate nor objective: they are symbolic – that is, they well up in order to illuminate certain momentary experiences called forth by varying combinations of influences in varying degrees of intensity. Landscape-scenes arising in the imagination in this way are sustained solely by the validity, duration and intensity of the feelings which aroused them…This, then, is a question not of a projection of the mind but of an analogy whereby the landscape is adopted by the spirit in consequence of the inner bond linking the character of the scene with the spirit of the observer himself.”
Die Latyns-Amerikaanse skrywer Gabriel García Márquez gebruik in Chronicle of a Death Foretold (García Márquez, 2003) die stadsplein spesifiek as die simboliese brug tussen die verlede en die hede.
Vervolgens neem Van Niekerk die leser op ’n visioenêre en nostalgiese reis na ’n tyd wat vergaan het deur die plein as fokalisator te gebruik. Van Niekerk is ontroer deur die verval van die toneel wat voor hom afspeel, dus roep hy juis die droomwêreld op. In daardie astrale reis “deur die krake van die nag” besoek hy sy ewebeeld as kind in “2”:
“[…]
Een sweef weg, sy hande voor hom uit;
hy het sewe oë soos hy soek,
sy mond en lyf roep na sy ma, hy gly
deur die krake van die nag
maar keer met leë hande terug en trek
die ander met hom saam – hy lyk soos ek.”
Die nag is op sigself ook ’n fokalisator: dit is die sluier na die astrale wêreld, ’n sluier waaragter ontslape karakters, geliefdes en kennisse te voorskyn kom. Laubscher, in sy seminale studie oor parapsigologie spekuleer oor die moontlikheid om ontslape geliefdes in die astrale domein te ontmoet (Laubscher, 1967): om “deur die krake van die nag te gly”.
Ook die liefdesmelancholie kom aan die bod in die meesterlike vers “5” wanneer ’n vrou na haar geliefde, wat haar vermoedelik in die Tweede Wêreldoorlog ontval het, verlang:
“[…]
Sy wag, sy weet sy wag verniet soos elke dag
met blomme in haar hand
dat iemand haar kan sê in watter land
haar byna-man se beendere lê.
Tot die einde van haar verdriet
hoor sy Marlene Dietrich se blommelied.”
Hierdie afskeidsvers bevat natuurlik ook eggo’s van Sheila Cussons en N.P. van Wyk Louw. Oorweeg Cussons se ikoniese vers:
“Dis twaalfuur nou, die wysers paar,
ek let, en noem jou, weet jy let –
dis of ek ongebore weer
jou wit-rooi duif hoor ritsel het.
[…]”
Die triestigheid (“triste/tristia”) en droefgeestigheid van ’n man wat met ’n gestorwe geliefde by haar graf praat oor sy onbeholpenheid met hulle dogter word verdig in “9”:
“[…] Met sy hoed in die hand
vra hy wat hy moet maak
met hul dogter wat ryp en elke maand
al rusteloser in haar klere raak;
soek antwoorde in die vyelaan
langs die watervoor en tussen sy skaap
in die gannavlei waar hy en sy
tien jaar lank gelê en bid het
om ’n kind te kry.”
In hierdie vers word die leser gekonfronteer met die trauma, die verdriet en die hunkering na die afwesige geliefde.
“10” vertel van ’n skaapboer se stryd teen kanker, sy onvermoë om dit te beveg en hoe hy weemoedig afskeid neem van die wêreld waarvoor hy lief is:
“Hy wou vir oulaas weer probeer
om die oomblik vas te vang:
die oorgang van ’n somernag
na die ligspatsels van ’n nuwe dag;
die skelm ingly van ’n wintersaand
oor lig en skemer heen. Hy smag
om nog eenmaal, net ’n jaar,
die skeiding van seisoene te bestudeer
[…]”
Die bundel behou hierdie boeiende mineursleutel deurlopend. Daar is gedigte oor ’n kunstenaar wat ’n houtskooltekening van ’n gestorwe geliefde wil maak, maar dit moeilik vind om sy herinneringe op te roep en só die persoon se gelaatstrekke vas te lê, en van ’n jong seun wie se kleutersuster op sterwe lê (“18”). Laasgenoemde gedig is waarskynlik ook outobiografies aangesien Van Niekerk se halfsuster op tweejarige ouderdom oorlede is.
Die liefdesmelankolie in “16” vertel van geliefdes wat verby mekaar lewe:
“Hulle hande soek mekaar
maar swenk soos vlinders wat raak vermy,
hande en arms dans in die wind, maar dans apart –
twee figure duik en rank op maat van rietmusiek
met lyftaal van ou verlange.
Die hande strek al dringender
maar stuit teen ruimtes wat hul skei
[…]”
Die gedig “19” betrek Van Niekerk se liefde vir duiwe – dikwels as korrellaat vir homself:
“[…]
Sal hy ooit die grond verlaat,
sal sy vlerke hom bo alles uit kan dra
na die lug waar sy vlerkslag
hom bo bossies en klip en water sal lig
tot die vryheid hom vat
soos ’n werwelwind en hom laat styg
tot niks hom raak?
Sal hy sy hok vergeet, uit vreugde na al die
horisonne sweef waar niks hom hou
tot hy iewers in die onbekende
gaan sit want hy het gevlieg,
gevlieg soos hy wou?”
In die gedig “23” parodieer Van Niekerk die uil op die kerktoring tot dié van ’n kleindorpse predikant. Uiteindelik “sweef die uil minagtend oor die gemeente”, asof die Calvinisme ’n dun verweer teen die eksistensiële vraagstukke bied:
“[…]
die groot voël uit die pastorie se heilige verwatenheid
sprei sy vlerke in ’n seëngebaar
en sweef minagtend oor die gemeente
wat leweloos in sy oë weerkaats.”
Die dood is bykans deurgaans baie naby, die afgestorwe geliefde, die enkeling wat agterbly, die naderende einde en die metafisiese simboliek (byvoorbeeld in “20” en “23”):
“[…]
en in die lewe en die dood
is elkeen uiteindelik alleen.”
Van Niekerk vertel in ’n onderhoud wat deur sy seun verfilm is (Van Niekerk E. , 2019) dat dit die gebruik op die dorp was dat mense aan huis by sterwendes sou waak, om dan die nuus van die afsterwe aan ander vriende en familie oor te dra. Hy beskryf hoe pynlik dit was dat kinders dikwels op ’n baie vroeë ouderdom reeds blootgestel was aan die dood: hoe hy as jong tiener dikwels deur sy vader gestuur was om diens te doen deur aan huis by ’n sterwende te waak. Hierdie ervarings het ’n lewenslange afdruk op Van Niekerk gelaat en hom genoop om altyd antwoorde op die eksistensiële vrae te soek, om altyd die enkeling voorop te stel en om berusting te vind in die feit dat die antwoorde nie noodwendig daar was nie.
Nag op ’n kaal plein is gewoon een van daardie digbundels wat nie neergesit kan word as dit oopgemaak word nie: asof dit die leser oorweldig en Van Niekerk werklik “op die spoor van vlugtende gode” bly. Van Niekerk bereik ’n hoogtepunt in hierdie sublieme bundel wat uitstaan in sy oeuvre. Portrette in my gang (Van Niekerk D. , 2015) was duidelik ’n poging om dieselfde epifaniese kwaliteit na te streef, en hoewel dit soos in die geval van al Van Niekerk se werk ’n goeie digbundel is, sou dit moeilik wees om die grootsheid van Nag op ’n kaal plein te repliseer. Maritha Snyman sê van hierdie bundel op die agterplat:
“Hiersonder kan ek nie, wil ek nie, is ek arm.”
Bronnelys:
Alvarez, A. (1972). The Savage God (Derde uitg.). New York: Random House, Inc.
Barthes, R. (2012). Mourning diary. New York: Hill & Wang.
Benjamin, W. (1974). On the Concept of History (Vertaalde uitg.). Frankfurt: Suhrkamp Verlag.
Benjamin, W. (1974). On the Concept of History (Vertaalde uitg.). Frankfurt: Suhrkamp Verlag.
Benjamin, W. (1997). Charles Baudelaire: A Lyric Poet in the Era of High Capitalism. Londen: Verso.
Benjamin, W. (2007). Illuminations: Essays & Reflections (Tweede vertaalde uitg.). New York: Schocken Books.
Bowring, J. (2016). A field guide to melancholy (Tweede uitg.). Harpenden: Oldcastle Books.
Burton, R. (1883). The Anatomy of Melancholy (Nuwe uitg.). Philadelphia: E Claxon & Co.
Cirlot, J. (1971). A dictionary of symbols. Londen: Routledge.
Cloete, T. (1992). Literêre Terme & Teorieë (Eerste uitg.). Pretoria: HAUM-Literêr.
Derrida, J. (2001). The work of mourning (Eerste uitg.). Chicago: University of Chicago Press.
Freud, S. (1914). The Standard Edition of the Complete Psychological Works of Sigmund Freud, Volume XIV (Eerste uitg.). Londen: The Hogarth Press.
García Márquez, G. (2003). Chronicle of a Death Foretold. New York: Vintage.
Hambidge, J. (1987). Die anatomie van melancholie (Eerste uitg.). Kaapstad: Human & Rousseau.
Hambidge, J. (2019, April 1). Resensie: Dolf van Niekerk – Legkaart van ‘n jong lewe (2019). Herwin van Woorde wat weeg: https://joanhambidge.blogspot.com/search?q=dolf+van+niekerk
Hambidge, J. (2020, Mei 1). Digtersverslag : Die anatomie van melancholie. Augustus 20, 2022 van https://journals.co.za/doi/abs/10.10520/ejc-stilet-v32-n1-a6 herwin
Hippokrates. (1959). The Nature of Man (Vyfde uitg.). Londen: William Heinemann Ltd.
Holly, M. (2013). The Melancholy Art (Eerste uitg.). New Jersey: Princeton University Press.
Holte, S. (2015). Meaning & melancholy in the thought of Emmanuel Levinas (Eerste uitg.). Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.
Jakse, V. (2014). The Black Blood of the Tennysons: Rhetoric of Melancholy and the Imagination in Tennyson’s Poetry. Cleveland State University: Ongepubliseerde MA-verhandeling.
Kardaun, M. (1996). Eichendorffs Gedicht Sehnsucht (1834): Versuch einer Jungianischen Deutung. 12th International Conference on Literature and Psychoanalysis (ble. 285-295). Lisbon: Frederico Reviera.
Keats, J. (1977). John Keats: The Complete Poems (Derde uitg.). Londen: Penguin Books.
Kierkegaard, S. (1992). Either/Or: A Fragment of Life. Londen: Penguin Classics.
Klibansky, R., Panofsky, E., & Saxl, F. (1979). Saturn and Melancholy: Studies in the History of Natural Philosophy, Religion and Art (Eerste herdrukte uitg.). Oxford: Thomas Nelson & Sons.
Kristeva, J. (1992). Black Sun (Eerste uitg.). New York: Columbia University Press.
Laubscher, B. (1967). Die raaisel hiernamaals. Kaapstad: John Malherbe Uitgewers.
Lears, A. (2013). Something from Nothing: Melancholy, Gossip, and Chaucer’s Poetics of Idling in the Book of the Duchess. The Chaucer Review, 48(2), 205-221.
Levinas, E. (1969). Totality and Infinity (Vertaalde uitg.). Pittsburgh: Duquesne University Press.
Louw, N. v. (1962). Tristia. Kaapstad: Human & Rousseau.
Richard, B. (2016). German gothic: from “Neue Deutsche Todeskunst” to neo-Victorian steampunk. In M. Ahlers, & C. Jacke, Perspectives on German Popular Music (Eerste uitg., ble. 146-152). Londen: Routledge.
Rodrigues, M. (2020). Albrecht Dürer and the16th Century melancholy. Visual Review, 7(2), 95-108.
Rousseau, L. (1974). Die Groot Verlange: Die Verhaal Van Eugène N. Marais. Kaapstad: Human & Rousseau.
Sontag, S. (1980). Born under the sign of Saturn (Eerste uitg.). New York: Farrar, Straus & Giroux.
Sun, M. (2018). The Subversive Silence of Alejandra Pizarnik. Modern Languages Open, 1(2), 1-13.
Van Niekerk, D. (2006). Nag op ‘n kaal plein. Kaapstad: Human & Rousseau.
Van Niekerk, D. (2015). Portrette in my gang . Pretoria: Protea Boekhuis.
Van Niekerk, E. (2019). Boekvrystelling deur Dolf van Niekerk ‘Legkaart van ‘n jong lewe’. Herwin van YouTube: https://www.youtube.com/watch?v=-L4550hYRbE&t=4s&ab_channel=EvertvanNiekerk