Wegkruipertjie en blikaspaai
Toe ons jongeres nog kleuters/tieners was
het Ma alles reggekry
vir wanneer “die kinders kom”
oor die Kersgety
(asof ons nie kinders was nie!)
’n spens vol snoeperye
wyebekflesse op die rakke
vol ingelegde vrugte van verlede jaar se oes
verseël in oranjeglansende fruktose-vog
borstensvol bultende houersakke
verkrinkelde droë perskes
en bottels tuisgemaakte vye- en moskonfyt
met baksels soetklinkerkoekies
in ronde prentjie-blikke
versoekings vir enigeen se aptyt
maar sakrosankt tot die vakansie
dan
tussen tuinwerk en feesvier
met Desembermaand konkoksies
speel almal saam broers susters vriende
ooms tantes neefs en niggies een en al
soek wegkruipplek rondom die Eden-opstal
en geboue in Pa se skettergroen plantsoene
en botanie-tuine met spatsels amber son
in appelkoos-, kweper- en perske-boorde
ryp gebak langs heuningkleur-sultanas
lasuursteenblou barlinka-wingerdtrosse
en sondeurdrenkde hanepoot-druifprieële
“Blok vir Freddie, Adri, Theuns, Karel!”
met ’n versigtige vingerdruktik
om hulle uit te tel
op die gestapelde boonste blik
sonder om die toring te laat kantel
“Blok Oom Frikkie, Tannie Maggie, Ma!”
maar…
“Blok vir Pa??”
Nee, Pa is klaar met kinderspeletjies
want hy was toe al ouer
en kanker loer lankal
geniepsig oor sy skouer
het al harder begin klop-klop
aan sy oor en in sy kop
so hy het behaaglik saam gelag
pyp gestop koerantlees teruggeleun
en van onder die koel prieel
patriargaal gekyk hoe speel
sy nasate en familie om hom heen
maar eendag toe die pyn in hom
vererger weet hy alles is nie pluis
nie hy’t opgestaan bed gaan lê
en sonder om selfbehep vaarwel te sê
na ’n salutêre pynvry lugprieël verhuis
en die toring tuimel buite harlaboerla om
© Meyer van Rensburg, 2023.