Lekhart
Pa was ’n man met ’n lekhart
nooit kom hy na operasie terug
sy lewe in die Kaap uitgetap
ons kry net die leë lyf
operasiewond oor die bors
bêre hom weg
Hy word net die letters
P en A
soos twee spykers in die muur
hangplek vir ’n stroewe beeltenis
met ’n gebreekte hart
en litteken oor my bors
Sê nou hulle kon hom weer heelmaak
verbeel jou hoe hy ouer as veertig word
ek sien my onder ’n pa se duim
wat streng oog hou hoe ek probeer
om aan sy goedkeuring te voldoen
hopeloos, vergeefs
hy leef steeds
ondergronds
© Anton Dockel, 2023
