Antie Bella
Antie Bella ratel al jare in die kombuis –
klinkende metale en luidende simbale
haar skottelgoedorkes
die borde en glase spat
in skerwe op die vloer
ek kom uit ’n gebroke huis
lag antie Bella
Maar dis nie ’n grap
toe sy op die vetkol gly
o gotta help my ek lê vir dood
hulle dra haar na die ambulans
op ’n palankyn sonder ’n dak
en sy wuif met ’n slap pols
naels net laasweek pers geverf
Sy’t geweet dit gaan gebeur
sy sien al jare in volgende week in
voorbodes by die klank van kitare
met die helm gebore is haar kruis
en dit is stil sonder antie Bella
voorprater en agterprater van ons straat
Toe kom sy terug
met haar staalpen op ‘n X-straal
en ’n hink in elke tree
sy brei nuwe stories:
van bloed teen die mure en nagvuil op die lakens
kwaai verpleegsters wat skel dat die lelle so dril
Na jy vyf mense om jou sien doodgaan
sonder één nurse se respekte
dan is jou jammerte klaar
dan bid jy vir jouself
© Anton Dockel, 2023
