I
Een van die belangrikste en mees komplekse teoretici binne die Freudiaanse diskoers is Luce Iragary.
Gebore in Leuven, opgelei in Parys en sterk gekritiseer deur Jacques Lacan.
Speculum of the Other Woman (1974) is haar seminale werk gelees waarin sy fallosentrisme kritiseer. Hier kyk sy na o.a. Hegel en Freud.
Soos Lacan kyk sy na siekte en geestesongesteldheid. Haar doktorale studie in 1968 beskou die taal van demensie: Le langage des déments (1973).
Sy neem deel aan Lacan se seminare en word uitgeskop na haar belangwekkende werk: Speculum of the Other Woman (Speculum de l’autre femme).
This Sex Which is Not One (Ce sexe qui n’en est pas un) in 1977 wys op die kompleksiteit van die vrou se gender.
Iragaray kritiseer die idee van penisnyd en formuleer die konsep “when our lips speak together”. Die pluraliteit van vroulike seksualiteit en selfaanraking word so geaktiveer: se retoucher. Sy kritseer die enkelduidige manlike fallus wat iets buite sig nodig het om tot stimulasie te kom. Hierteenoor is die vroulike seksualiteit dubbelslagtig en dubbelsinnig. Terselfdertyd ook die angs dat daar niks gesien kan word nie. “Woman’s genitals are simply absent, masked, sewn back up inside their ‘crack’”(1977: 26).
In Hoofstuk 8 van hierdie boek skryf sy oor drie tipe vroue: die moeder, die maagd en die prostituut. Die sogenaamde waarde (“currency”) van vroue word so bepaal.
II
To speak is never neutral
Die 258 gedigte opgeneem in Karen de Wet se antologie Vers & Vrou (2020) wys op al hierdie kompleksiteite. Dieselfde geld ‘n Vry vrou (2020) met haar keuse uit Krog se digkuns.
De Wet se werk as samesteller is insigryk. Sowel bekende as minder bekende digters word in Vers & Vrou beskou.
‘n Klassieke Eybers vers – op bladsy 96 opgeneem – klink so:
Stilte
Ek het vergeet, vergeet
hoe mens jou blootstel, jy jou laat beseer
deur onmatig van ‘n ander mens te hou.
Jou volsinne het my nooit die les geleer
wat jou swye my toevertrou.
Die spreker herhaal tweekeer die woord vergeet (en aktiveer so onthou en berou). Die blootstelling beseer die mens wat onmatig (Nederlands: buitensporig / oordadig) en by implikasie ook ongemagtig of ontoelaatbaar? Taal (volsinne) word teenoor swye geplaas van die afwesige persoon wat die spreker beseer het. Toevertrou aktiveer toeverlaat (‘n betroubare persoon). Toevertrou ook om iemand met iets te vertrou. En hier is die paradoks opvallend: die swye / die stilte veroorsaak die pyn.
En die “currency” of ruilhandel waarvan Iragary praat?
Hier word dit ‘n ruilhandel in taal.
Stilte teenoor volsinne.
Die spreker hier is ‘n vrou. Die een wat stil geword het van baie wag.
Haar stilte en krag / was skoner as die ding waarop sy wag. (“Verhaal”).
Opvallend dat hierdie gedig langs ‘n vers staan van Ilse van Staden met die titel “Miskien” (97):
Miskien
Miskien, het ek al gedink,
is ek nie lief vir jou nie,
pas ons maar net inmekaar se voue
toevallig
soos legkaartstukke langs mekaar
en is hierdie pyn
net die gemis
soos wanneer ‘n lyf, verwond,
skielik sonder been of arm is.
Die gemis (en die inpas inmekaar se voue) aktiveer Eybers en Irigaray.
Rochelle Kraut se bekende gedig “My make-up” klink so:
My make up
on my cheeks I wear
the flush of two beers
on my eyes I use
the dark circles of sleepless nights
to great advantage
for lipstick
I wear my lips
Hierdie vers is opgeneem in Camille Paglia se Break, Blow, Burn (2005).
‘n Vrou wat drink, slapeloos is – die leser kan self besluit waarom sy drink en donker sirkels om haar oë het?
Is sy ‘n prostituut? Teenoor die moeder en die maagd wat Irigaray uitwys?
III
Die volgende aanhaling van Irigaray is tersaaklik:
“Your silence exists as does my self gathering. But so does the almost absolute silence of the world’s dawning. In such suspension, before every utterance on earth, there is a cloud, an almost immobile air. The plants already breathe, while we still ask ourselves how to speak to each other, without taking breath away from them.”
― Luce Irigaray
https://www.goodreads.com/author/quotes/7804.Luce_Irigaray Besoek 24 Januarie 2023
Hierteenoor Paglia in haar inleiding:
“A good poem is iridescent and incandescent, catching the light at unexpected angles and illuminating human universals – whose very existence is denied by today’s parochial theorists. Among those looming universals are time and mortality, to which we all are subject. Like philosophy, poetry is a contemplative form, but unlike philosophy, poetry subliminally manipulates the body and triggers its nerve impulses, the muscle tremors of sensation and speech”(xiv).
Vir hierdie leser het Luce Irigaray die kwessie van ruilhandel (“currency”) anders belig in drie gedigte.
Dieselfde geld Ronel Retief se studie oor die konstruksie van die vroulike subjek via vele Franse teoretici.
Om te praat (soos om te skryf) is nooit neutraal nie.
En die wisselkoers tussen gedig en teorie fluktueer voortdurend.
Die een verryk die ander.
Joan Hambidge
24 Januarie 2023
Bronne:
De Wet, Karen. 2020. ‘n Vry vrou. Gedigte van Antjie Krog. Kaapstad: Human & Rousseau.
– Vers & Vrou. Kaapstad: Human & Rousseau.
Irigaray, L. 1998. “Women on the Market”. In Rivkin, J. & Ryan, M. (redd.). Literary theory, an anthology. Blackwell: Malden, Mass. pp. 799–811.
Encyclopedia of Philsophy: https://iep.utm.edu/irigaray/ Besoek 24 Januarie 2023
Paglia, Camille. 2005. Break, Blow, Burn. New York; Pantheon.
http://joanhambidge.blogspot.com/search?q=break+blow+burn Besoek 24 Januarie 2023
https://www.bu.edu/arion/files/2010/03/Final-Cut-Paglia.pdf Besoek 24 Januarie 2023
Retief, P.R. 2005. Die konstruksie van die vroulike subjek in die oeuvres van enkele Afrikaanse vrouedigters sedert 1970. Universiteit van Stellenbosch: D.Litt.
