Charlotte
By die Tickey Bazaar koop ek ’n pen,
papier en ’n propgeweer wat ek gou
vir my niggie Charlotte wil gaan wys
in die rooibaksteenpolisiehuis
waar die rooi-en-wit polisie-van staan.
Ek hardloop af in die sementpaadjies
waar vygies die besige bye lok.
In die kombuis word ’n skaapkop gebak.
Charles rook die een Texan na die ander,
haal plotseling sy diensrewolwer uit
en ta’ Nonna se oë skiet vol water.
“As die Here my lewe spaar en seën,”
sê my pa en agter die huis val die kind
oor ’n mankolieke popwaentjie.
© Johann Lodewyk Marais, 2023