Naggesprek
Ons gesprekke het oor afstand gedy
en in hierdie aand was ons sinne kort,
ons woorde min terwyl jy verder reis.
So eindig dit nié, weet ek en jy goed:
My liefde het jou reeds binnegedring,
hul sterte soos paddavissies verloor,
bly groei en ons nuwe bestaan begin.
Nou trek ek jou lig aan die hand nader
om in dieselfde donker mekaar te vind.
Die nag is koud buite en die wind waai
oor die glooiings van die berge, dale
en ons hier op die rand van die aarde:
oop en bloot wanneer ons mekaar eien,
ek in jou oë kyk en jou vingers vind.
Jy het die skulp saamgebring, die teken
van die Groot Mere waar jy vrede soek.
Jy is op verskillende plekke tuis,
oor die verwyderde oseaan
waar sneeu jou inhok, of soms buite lok:
snags, gewek deur die oranje ligte
en draaialarm van die sneeuskraper,
hoor jy hoe geluide in die nag trek,
ver oor die stilte van die sneeu kan voortduur
in die vroeë oggendure om vyf.
Maar soms is daar die pragtige blou lug
met geen wolk in sig: net die stil wit aand.
Ek moet jou nog vertel van my winters
in uithoeke van die land waar winde
skuins-oos waai by die houtvenster, weeklaag
en dennebolle op die sinkdak val
en saans ’n kaggel klein my warm brand.
Dit was my winterdae lank, lank terug.
© Johann Lodewyk Marais, 2022