Wat die duif my vertel het
Vergelegen Medi-Clinic, 3 Julie 2010
Die duiwe van Somerset-Wes se taalgebruik
is nie alte suiwer nie. So ry ek op dié betrokke Saterdag
agter die ambulans aan op die kortste stukkie pad
wat ʼn leeftyd duur
tussen huis en harteenheid.
Dis waar Vergelegen se duiwe sommerso met my praat.
Die ambulansvensters is getint sodat ek nie kan sien
wat hulle daarbinne met haar doen nie,
maar die sirene
jubel nogtans blymoedig.
Dit is immers ʼn teken van hoop, is dit nie?
So praat die duiwe al die pad verby Mooiberge-padstal,
rigting Somerset-Wes. Strooipoppe bevolk die veld
langs my en vlakby beklim ʼn kwagga ʼn bul
terwyl die radio vertel van ʼn wêreldsokkerstryd,
maar ek snap helaas niks daarvan nie, hierdie is immers
die kortpad na ʼn skrikkeltyd, en die kil duiwe
bly onverpoos en padlangs, vertel van my allerliefste
agter in die klopdisselwa waar sy
salig swewend
en intensief versorg, voet-in-die-hoek, deurgejaag word
na die hospitaal in die some van ʼn berg om ure later,
ná sy operasioneel versorg en drie keer
gestent is, komateus in my arms te lê en wag
op ʼn diagnose van hartsake.
Dit is tóé dat ʼn jafel op die vensterbank, hier,
oorkant haar hospitaalbed kom sit. Teen die ruit pik-pik,
koppie maak, pik-pik en pik, kompleet asof hy sê:
Watch’it, my bru.
Pasop vir next time, nè.
Dis mos maar hoe die duiwe praat
op ʼn bepaalde Saterdag toe dit Vergelegen was,
winter, en angswekkend
koud.
© Louis Esterhuizen, 2023
Humor met ‘n byt. Voortreflik.