Rainer Maria Rilke: Vertaling uit Duits in Afrikaans. Vert. deur Bernard Odendaal
’n Gewilde Duitse herfsgedig uit die twintigste eeu
Hierdie gedig is opgeneem in die bloemlesing Die Lieblingsgedichte der Deutschen (“Die lieflingsgedigte van die Duitsers”); Piper Verlag, München, 2003; 25ste oplaag, 2021).
Herbsttag
Herr: es ist Zeit. Der Sommer war sehr groß.
Leg deinen Schatten auf die Sonnenuhren,
und auf den Fluren laß die Winde los.
Befiehl den letzten Früchten voll zu sein;
gib ihnen noch zwei südlichere Tage,
dränge sie zur Vollendung hin und jage
die letzte Süße in den schweren Wein.
Wer jetzt kein Haus hat, baut sich keines mehr.
Wer jetzt allein ist, wird es lange bleiben,
wird wachen, lesen, lange Briefe schreiben
und wird in den Alleen hin und her
unruhig wandern, wenn die Blätter treiben.
- Rainer Maria Rilke (oorspronklik gepubliseer in die bundel Das Buch der Bilder, Axel Juncker Verlag, Berlyn/Leipzig/Stuttgart, 1902)
***
Herfsdag
Heer, dis tyd. Die somer, groots, is verby.
Lê neer u skadu’s op die sonnewysers
en laat die winde oor die vlaktes vry.
Sê al wat vrug is aan om te volgroei;
gun hulle twee soel dae om by te baat,
dryf hulle tot voleinding voort en laat
die laaste soet die wyn se swaar in vloei.
Wie nou geen huis het nie, bly een ontbeer.
Wie nou alleen is, gaan nog lank so bly,
gaan waak, gaan lees, langasembriewe skryf
en die strate in en heen en weer
bly dwaal deur wind en blare, voortgedryf.

Dié welbekende gedig van Rilke, ook soos dit vertaal is deur Gunther Pakendorf (opgeneem in sy bundel Woorde soos pluimsaad. Duitse gedigte uit agt eeue vertaal, Perskor, 1990), was eens ’n bron van inspirasie vir ’n gedig wat by my debuutbundel ingesluit is. Nes ek, het my oorlede pa Duits as hoofvak gehad op universiteit.
Boemelgety
Toe – deurtrapte swerwer –
het die herfs weer kom oorstaan op ons werf,
die gloed van sy vuur opgerakel teen die loof.
Die laaste vrugte het hy uit die boord geskud,
die alte trae trekvoëls óp laat skrik –
laat kla-kla koers op oerou roetes.
Hy ’t ’n kil bries opgesteek in ons rûe,
in ’n roes sy valblaredans geriel
onder al kaler pronker populiere.
Saans het ons toegespits by die herd gesit –
iets wat skuifel by die drumpel?
Pa wat egter luiters lees, soms vertaal aan Ma:
“Wie nou geen huis het nie …”
Een môre was hy weg;
Aan ’n beenkaal tak
’n asgrys flenter van sy jas.
• Uit: Onbedoelde land, Tafelberg, 2007