Resensie: Mensig deur Leon Strydom. 2023. Imprimatur. ISBN 978-0-6397-6979-0
Gedigte © 2023 Leon Strydom
Nawoorde © Ina Wolfaardt-Gräbe en Bernard Odendaal
Resensent: Joan Hambidge
I
Hierdie bundel bevat ‘n handvol nagelate gedigte van die digter Leon Strydom wat in 1973 debuteer met Geleentheidsverse en in 1988 volg L.S.
Sy debuut is bekroon met die Ingrid Jonker – en Eugène Marais-pryse. Hy was eweneens ‘n laboriet in Opperman se letterkundige laboratorium. Die digter behaal in 1969 die M.A.-graad met ’n verhandeling Oor die Slampamperliedjies van Leipoldt.
In 1976 promoveer hy met ‘n doktorsgraad Oor die eenheid van die digbundel.
Hierdie studie – voltooi onder A.P. Grové – betrek Louw se Gestaltes en diere.
In 1983 verskyn Die Sonnevanger, ‘n studie oor Vader Claerhout.
Later bestuur hy ook ‘n kunsgalery, Strydom Galery waar sy besondere kennis en versameling van kuns wyd geloof word.
Hy studeer aan Stellenbosch en in Utrecht literatuurwetenskap en word later dosent in Algemene Literatuurwetenskap aan die UOVS. Daar was kortstondige dosente poste aan die US en UP.
Veral Ina Wolfaardt-Gräbe gee ‘n boeiende blik op sy bydrae tot die literatuurwetenskap hier te lande en sy werk by SAVAL. Bernard Odendaal analiseer weer sy digterlike bydrae uitvoerig en insigryk.
Alles hier ter agtergrond om vir die leser die verbintenis tussen die digter se intellektuele (teoretiese) bydrae en kreatiewe werk uit te wys. Sowel sy verhandeling oor Leipoldt as sy gepubliseerde studie oor die eenheidsbundel was deur die jare verpligte leesstof vir my studente in die Afrikaanse digkuns aan die Universiteit van Kaapstad.
Sowel die invloed van die sogenaamde slampamperliedjie as Strydom se siening van die eenheidsbundel is uit te wys in sy digkuns. Eersgenoemde dan die sogenaamde “eenvoudige” liedjie met dieper betekenis. In sy debuut is die vers “John Williams, De Doelen”, ‘n voorbeeld van ‘n oënskynlik eenvoudige vers wat gelaai word met seksuele ondertone. Dan ook die eenheid tussen gedigte in sy bundels.
Veral die voortreflike analises van Ina Wolfaardt-Gräbe het telkemale gewys op die vernuftige sintaktiese spel wat die digter met sy leser speel. Hierom heet ‘n bundel dan ook L.S.: Leon Strydom / Lector Salutem.
Heil die leser. Of wie dit mag aangaan. Wie is ‘n digter se Ideale Leser of Modelleser?
Die leser word ingekatrol in die unieke spel wat die digter met die leser speel. Aanvaar my spelreëls, of basta.
II
Die titel is sowel ‘n uitroep (mensig!) en ‘n verwysing na die aard van menswees. Die kunswerk van Nel Erasmus aktiveer iets van menswees: die DNS en die unieke kwashaal vinnig …
Dalk ook hoe kortstondig die lewe is?
In die slotvers lees ons:
hierna
hierna is en bly dit ideaal
bra uitdruklik jy weet sonder taal
ons wissel woorde los en vas
sonder om te blik of te bloos soos vers
en kapittel momenteel dit gelas
wil jy glo nou met die end in sig
die geheel al ’n knop in die keel dra
die momentum van sinne jou buitenissig
in die heelseggende stilte hierna (44)
Die dood beskryf as ‘n “heelseggende stilte” waar jy buitenissig verkeer, sonder sintuie (sinne) of woorde.
En dis hierdie dubbelpraat wat ‘n mens in die verse deurgaans aantref. Implikasie, subteks en toespelings is kenmerkend van die hermetiese verse in hierdie bundel.
hengelkuns
onder die bronstige blik
van die maan wydsbeen oor gekkeneelsrivier se bekken
tussen die springers se pront en kittelende vingers
en met die waas van woelwa-
ters in sy hare en are
is in die skede van sy skuit
’n man ’n bloed gaande oor vis
een en al skuim een en al aas
kiertsorent soos ’n klitoris (41)
Begrippe soos bronstig, kittelende, skede, klitoris laai dit met seksuele implikasie. Masturbasie? En waarom lyk die aas soos ‘n klitoris? Dalk verlangend na die vrou? Vis is ook sleng vir ‘n vrou. Kittelende aktiveer kittelaar.
Waar is gekkeneelsrivier? Uitgevang!
Die visvang-ekspedisie word ‘n skryf- en leesekspedisie. Die gedig word verder ‘n ars poetica.
III
Gerrit Olivier in ‘n belangrike opstel oor Leipoldt “Ons harte is vol van gemors en verdriet” – Aspekte van C. Louis Leipoldt se slampamperliedjies (opgeneem in Merwe Scholtz se Leipoldt 100. Tafelberg, 1980) wys tereg op die retoriese strategieë van hierdie soort verse. Die slampamperaar is ‘n buite-maatskaplike figuur wat slegs sy eie plesier nastreef, maar in ‘n sekere sin ook didakties optree (1980: 72).
Daar word ook na die leser uitgereik. Die aanspreek van die Boetie (alter ego) is eweneens op Strydom se gedigte van toepassing. Olivier wys op die verskillende betekenisse van die woord as brasser, drinkebroer, leegloper, niksnuts – eerder dan leegloper of niksnuts by Leipoldt. Ook by Strydom sit dit vol ironie – in die Nederlands as “leegloper” of hawelose persoon. Strydom het die akademie verlaat en waarskynlik as buitestaander alles raakgesien wat binne die digkuns afspeel. Die politieke eise (aan die digkuns) in die tagtigerjare. By Leipoldt die ABO waar hy in die buiteland waarskynlik “’n Nuwe liedjie op ‘n ou deuntjie” geskryf het aldus Henning Snyman in sy artikel “Leipoldt se deuntjie: ironie of nostalgie?” (opgeneem in Scholtz, 1980: 123).
Hier die digter van die “mengelmoesliedjies”, argumenteer Olivier, kan hom toewys aan die genieting van die oomblik en die verbeelding (1980: 71). (Dit is ‘n benaming wat Leipoldt self gebruik het, aldus ‘n voetnoot op bladsy 56).
Herhalings, parallelismes, uitroepe, imperatiewe, die alter ego, die besinning van die ekstatiese is kenmerke van hierdie soort vers. Ook ‘n bepaalde manier van sing (1980: 63, 71).
Olivier wys ook op aspekte soos selfspot en selfparodie (1980: 68). En dit gebeur in hierdie vers:
pingster
by geleentheid lê hulle hom woorde in die mond
soos nou het julle regtig alles opgefok
dan in al wat taal is en uit een wond
kry hulle hom die een wat is singend voor stok
(29)
Of:
mensig
jirre en dit
in hierie hitte
(28)
Boerneef is ook hier:
plaaslik
die hoekpaal en die hek
ei die hoekpaal en die hek
boeta begint al vlerke sprei
ek hande voete bid op die plek
(23)
Gesprekke met die Bybel, geloof en siekte word aangetref. Daedulus en Ikaros word in “naam” (13) geaktiveer. Daar is verwyte en misverstande (“kunsdag”, 26) en ‘n spel met woorde (en stiltes).
Die digter as visser van betekenis wat via die Bybel werk:
sê
en sê vir petrus oor en oor
laat hy sy nette sak hy is
mos visser gebore en getoë oor
wind en weer oor vloed en vangste doodgerus
(37)
Die pynlike ervaring van siekte vind ons hier.
Soms is die gedigte “woordensvol”, ander kere kripties.
IV
Dit was die digter se wens dat hierdie verse postuum gepubliseer moes word en so keer hy terug na die bedryf (7). By ‘n SAVAL-kongres het ek hom gevra wanneer hy weer gaan publiseer. Dit was in 1980. Hierop het hy sardonies gereageer:”My eerste bundel het my dertig jaar geneem om te skryf. So vra my oor dertig jaar.”
Daar is min verse, maar dit neem jou terug na die hele oeuvre. Jy maak ‘n bestekopname en wens daar was tog meer gedigte in hierdie bundel.
Soos Odendaal tereg opmerk:
Afrikaanse poësieliefhebbers kan die leesavontuur waarvoor Strydom met Geleentheidsverse en L.S. gesorg het, met opwinding voortsit in hierdie versameling nagelate gedigte. Al spyt wat ’n mens hierby kan voel, is oor die feit dat die “baie versmoontlikhede” wat iemand soos T.T. Cloete reeds in Strydom se debuutbundel raakgesien het, nie in groter omvang tot vervulling gegaan het tydens Strydom se lewe nie. Ook daarom dat mensig, enkele onafhede en al, ’n gewaardeerde toevoeging tot ’n boeiende oeuvre verteenwoordig (73).
My bespreking is ‘n kopknik na Ina Wolfaardt-Gräbe se siening dat teoretiese besinning neerslag vind in sy digkuns. Ek haal aan:
Sou ’n mens kon sê die betekenisvolle strukturering van sy poësie word geïnformeer deur ’n deurtastende teoretiese verkenning van die aard van poëtiese kommunikasie? Anders gestel: Teoretiese besinning vind neerslag in sorgvuldige poëtiese strukturering en die daarmee gepaardgaande kommunikasiemoontlikhede wat opgesluit lê in ’n gedig soos “Droogte” (62).
Die danser kan nie van die dans geskei word en ‘n digter se teoretiese uitgangspunte of behepthede word in sy of haar gedigte opgemerk.
Ingarden of Lacan. Fish of Kristeva.
V
Party digters dig met ‘n suinige hand; ander gee vir ons ‘n stortvloed van woorde, meen hierdie leser.
Die dank is groot aan Imprimatur.
…
in die geruis van die aandwind
het die wolke melkwit gaan wandel …
Joan Hambidge
Genoot en Navorser aan die Universiteit van Kaapstad.
Mei 2023