Die laaste gedig in Theunis Theodorus Cloete se laaste bundel, “Karnaval en Lent is een gedig” lui:
“op sy beurt is die gedig omvattend geïnteresseer
in die beleefbaar eksistensiële benoembare
en vermoedelike onnaspeurbare Onbenoembare
hoe die vis deur my ingewande gekonsumeer
word tot drek en tegelyk Ichtus simboliseer
die liggaam kan selfs as hy vermink is
homself in ʼn raptus mentis
tot die eteriese sublimeer
die gedig verklaar
die omblom van soma in pleroma
is en bly onverklaarbaar
die gedig wil die geveg tussen karnaval en lent
in ʼn onbesliste gewapende stilstand op die ou end
in taal besweer”
(Cloete, 2014:160)
Die gedig wil dus die verband beskou tussen dit wat bestaan en tasbaar en voelbaar is en dit wat numineus, eteries, onbenoembaar en onnaspeurbaar is. Die gedig wil soma (liggaam) in pleroma (gees) omsit, oftewel die aardse oorstyg en daaruit ʼn essensie onttrek wat ewigheidswaarde, universele waarde of insig in die menslike kondisie bevat. Dát soma deur die digter in pleroma omgesit word, spreek uit die bostaande gedig, maar hóé dit gebeur, bly ʼn geheimenis, selfs vir die digter!
Ons weet dat die digter T.T. Cloete laat in sy tienerjare polio opgedoen en lewenslank aan komplikasies van dié siekte gely het, onder andere dat hy mank geloop het. Sy digkuns wemel letterlik van gedigte oor geskende en siek mense. Ek noem ʼn enkele voorbeeld: In die gedig “Achilles se skild” (Cloete, 2011:82-90) herskryf Cloete die maak van Achilles se skild in die Ilias deur die “horrelvoet Hefaistos”. Ons kan aanneem dat die digter T.T. Cloete Hefaistos, die Griekse god van vuur en kunstenaar wat die wonderbaarlike Achillesskild smee, as persona van homself beskou – sien Taljard, 2019 https://journals.co.za/doi/epdf/10.17159/2224-7912/2019/v59n1a2 Verwysings na Hefaistos kom meermale in Cloete se werk voor. Die mank Hefaistos is terselfdertyd een van die grootste kunstenaars, byvoorbeeld in die bogenoemde gedig:
“die kunstenaar met die behendige hande
die krom kreupele wat die onderdanige is
van die elegante en rats atleet (…)”
(Cloete, 2011:82)
Die lelike, onvolmaakte, siek mens in Cloete se poësie is dikwels dié persoon wat ten spyte van liggaamlike hindernis sy beperking te bowe kom en die pyn (soma) in skoonheid (pleroma) omskep. Ons sien ook dikwels dat die digter soek na die positiewe/goeie en selfs die les wat uit die siekte te leer is. Weer eens volstaan ek by een voorbeeld: In “Breughel bestry Descartes en Kant” (Cloete, 2024:23) betoog hy dat Breughel
“die walg van ons feeste
van ons tand en tong
van ons gulsigheid en vraatsug
[skilder]
straks om daarvan te genees[.]”
Die digter beskou dié tegniek as
“… die eindelose onbesliste swaar
Geveg tussen Karnaval en Lent
kerk en kroeg
vismark en varkhok
soma en pleroma[.]”
(Die vis is in hierdie bundel simbolies van Ichtus, ʼn argetipiese simbool wat steeds o.a. deur Christene gebruik word.)
Die bostaande beskou ek as een van die vernaamste temas in Cloete se werk en uit verskeie Ars Poetica-gedigte is dit duidelik dat hy homself beskou as digter van die konkrete wat soek na die abstrakte en eteriese wat daarin opgesluit lê.
Die tema van hierdie artikel is “ʼn Gedig val nie sommer uit die lug nie”. Hierbo het ek aangetoon dat Cloete homself veral in die laaste jare van sy lewe dikwels besig gehou het met die vraag hoe die banale, aardse en liggaamlike in skoonheid en kuns omgesit word – dus die digterlike proses in hierdie geval (hyself maak dié proses ook graag van toepassing op die musiek en die beeldende kuns). Cloete se boek “Die groot misterie van twee vroue: Briewe aan Anna” (2016) verskyn na die dood van sy vrou Anna en bevat briewe wat die digter voor en na Anna se dood aan haar rig. Dit werp interessante lig op Cloete se beskouing van siekte, pyn, trauma, lyding en die dood en die ontstaan van kuns (gedigte) ten spyte (of juis as gevolg) daarvan. Ek volg in hierdie artikel die ontstaan van die bekende gedig “helder Saterdag” met die klem op Cloete se ervaring van Anna se siekte en dood soos dit in sy briewe aan haar opgeteken staan en die tema van omsetting van soma in pleroma.
helder Saterdag
hoe wonderlik is hierdie dag
haar eerste dialise word gedoen vroegdag
en Adcock Ingram se glukose word getap
slopemmers vol
vannag het die osmose goed presteer
dit weeg 12 kilogram
“dit is ʼn goeie oes”
Johannes stort die aftreksel plek-plek
uit oor die tuin
mog dit die blomme goed laat was
die komas daarmee saam wegspoel
die kanker in die nier die klomp poliepe
en die spasme in die kolon
die nagsuster vertrek ʼn uur ná sonop
hom maak hy vermoeid dig toe
diep in die uitskopstoel vlak langs haar bed
en slaap sy kort vermoeide slaap
haar voete is geswel en blou
waar sy haar toon gestamp het
die ribbes wat gekraak is
en die skaambeen ná haar val
genees langsaam maar dit genees
haar huid juk steeds en is ʼn fyn
deursigtige vliesdun membraan
teetyd gee Kobus haar fisio
daar’s bloed in haar urine
die peristalsis móét vandag saamwerk
dit wat ons daagliks uit die aarde inneem
dit eis sy daagliks weer van ons terug
vir ons self afstootlik
herinner sy ons aan ons aardsheid
sy doen dit langsaam tot sy ons self vat
die warfarin maak beettuin onder haar huid
sag aan haar roomgeel vel vat hy
streel oor die pers bloedvlinders
geboortevlekke van die dood
hy streel sag oor haar buik
wat bult asof sy swanger is
haar dun skene haar breekbaar dun polse
betas hy goties slank
soos op ʼn skildery van Jan van Eyck
vroeg in die dag is sy doodmoeg
tog het sy goed geslaap vannag
sy word benoud en bleek
haar pols tik flou die bloedsuiker is 6.1
sy mag vandag agurkies eet as toegif
en jellietots suig vir die bitter mond
die vispastei vir middagete gooi sy op
die mooiste woord uit haar langsame mond
op hulle middaguitstappies met die Honda is mooi
mooi laatmiddagson mooi grasvlaktes
mooi kwikkies in die tuin
hulle is porselein wat maklik kraak
poreus van die insypel en klad van die pyn
die kinders bel gereeld en sien na hulle om
daagliks kom hulle kuier en troos liefdevol
deur net die name in hulle monde vas te hou
saam sit die twee en kyk krieket
sy slaap in van vermoeienis die skare
se gejuig as iemand uitgeboul word
laat haar opskrik
daar is ʼn bal en ʼn tweede bal
ʼn rooie en ʼn swarte wat die son
grondlangs maak wat onfeilbaar begelei
vandag is sy helder
sy weet hoe laat dit is en watter dag
ʼn onaardse dag waarin bont mense
stampvol luilekker op pawiljoene sit
of skuins lê onder reënboogsambrele
op hellings groen gras en kyk
hoe speel atlete in lakenwit klere krieket
met die lewe wat skreeu en gil
en in die hande klap
(Cloete, 2014:141-144)
Iewers aan die einde van Februarie / begin Maart 2002 begin Theunis Cloete sy briewe aan sy vrou Anna: die dag toe kanker in haar linker nier gevind is en voorspel is dat sy slegs drie maande oor het om te lewe. Uiteindelik leef sy nog ongeveer vyf jaar en sterf op 2 Mei 2007. In dié tyd en vir agt jaar na haar dood (Maart 2015) skryf Cloete gereeld briewe aan haar waarin hy besin oor hulle vreugdevolle tye, hulle geluk en oor haar siekte, lyding, dapper lewensingesteldheid en haar dood. Hy skryf oor die twee vroue wat dié 13 jaar van sy lewe oorheers: sy geliefde Anna en die Vrou, wat die dood versinnebeeld, en na wie hy deurgaans slegs as “die Vrou” verwys.
Benewens nierkanker het Anna ook maagprobleme gehad wat haar lewe besonder onaangenaam gemaak het. Dieselfde tema wat in “Karnaval en Lent” ontgin word, kom vroeg in “Twee Vroue” ook aan bod:
“Waarom het ons ʼn maag? Dit word vir my ʼn metafisiese probleem. Ek verstaan nie hoe vlees omgesit kan word in taal en drome nie, en ek verstaan glad nie hoekom ons brein in stand gehou moet word deur ons maag nie.” (Cloete, 2016:52)
Tog gaan dit in die briewe meer dikwels oor die banale besonderhede van Anna se siekte as oor filosofiese kwessies. ʼn Ongedateerde brief tussen Julie en Oktober 2004 noem:
“”Jy moet elke dag jou urine ondersoek of daar bloed in is. Nou meet ons alles: jou hemoglobine, jou ureum, jou suiker. Ek het nooit geweet ʼn mens het sulke goed nie. Dit klink soos vloekwoorde. (Cloete, 2016:58)
Op 12 Desember 2004 staan daar:
“Jy gaan stadig agteruit, al gedra jy jou dapper (…) ʼn Mens kan vir niemand vertel wat dit is om so saam te leef met die Vrou wat langsaam intree nie. Mooi musiek, mooi natuur, mooi gedigte en verhale, niks kan die verval rem nie …” (Cloete, 2016:61)
Weer dus die ewige stryd tussen die “mooi” en die afgryslike. Uit die briewe blyk dit dikwels dat die skrywer nié meer die sprong van soma na pleroma kan maak nie, hoewel hy probeer. Hier, en ook in die gedig “helder Saterdag”, kom verwysings na vreugde/mooi én na pyn/lyding/siekte voor, maar dit voel asof die digter nie altyd in staat is om die banale, alledaagse te transendeer en die sprong na die eteriese te maak nie. Dit voel asof hy feite opeenstapel, maar dit nie meer kan/wil interpreteer nie. Tog is daar dae, soos iewers teen die einde van Augustus 2005 waarin Cloete skryf:
“Watter misterie, dat ander se ellende ʼn funksie het, sin het, jou kan troos, deurdat dit jou dwing om te vergelyk, jou laat sien: ‘’t had zoveel erger kunnen zijn.’” (Cloete, 2016:68)
En dan, iewers in September 2005 moet Anna begin om tuis dialise te kry. In ʼn ongedateerde brief skryf Cloete:
“Daar is nou al die onvoorsiene bykomende dinge wat die dialise by die kanker saambring, ʼn massa daarvan, die stapels kartondose met die vloeistof wat my werkkamer vol staan, die gereelde gaan haal van die duur papierhanddoeke, watte, soorte seep, klein handdoekies, ontsmettingsmiddele wat dwarsdeur deure en mure ruik en van jou kamer ʼn ongemaklike tuishospitaal maak. Al die pype, jou afhanklikheid van pype, dit lyk soos ʼn Sasol, die vrees dat die energietoevoer kan afsluit in die sogenaamde beurtkrag wat die swak regeringsamptenare ons aandoen (ek maak my gereed vir ʼn hofsaak as jy daarvan moet sterf), die vrees dat die masjien (die elektronika tog!) nie altyd werk nie, die ongemak van die dialisevloeistof in jou liggaam, jou geswolle buik. die dreineerpyp in jou buikholte … dit alles om nog langer te kan leef, om sogenaamd lewensgehalte te kan hê.” (Cloete, 2016:68)
Hier, soos ook in die gedig “helder Saterdag” is ironie opvallend. Ook die ironie is ʼn poëtiese stylmiddel en het wel te make met die verwerkingsproses van (in hierdie geval) die terminale siekte en die omsetting van die alledaagse sleur in kuns en poësie.
Op 20 Februarie 2006 en weer ʼn maand later (Cloete, 2016:70, 71) skryf Cloete die dialise is ʼn vermoeiende proses en dat dit hom uitput. Wanneer die masjien onklaar raak, moet hy dikwels die helfte van die nag rondbel, en dit terwyl sy een hand se pols slap is en hy met die ander hand sy kruk vashou en ook nog verstellings op die dialisemasjien moet maak. Wanneer die masjien eindelik weer werk, erken hy: “Ek gaan na my kamer toe en kruip daar op die mat rond en vra dat God jou mag spaar.” (Cloete, 2026:72) Verskeie kere skryf hy dat hy met sy elmboë op sy bene sit en met sy gesig in sy hande … en huil. Verskeie kere skryf hy hoe hy op die mat rondkruip en bid. Kersfees 2006 (vier maande voor Anna se dood) het die aangrypende gedig “stilhuil” ontstaan:
stilhuil knyp die gapermosseloë tóé, knyp
vuur by die stram spleet van die ooglede uit. stilhuil ruk
ʼn droë wurg af deur die kramp van jou sluk
af in jou strot. die huid huil gloeiend in stilhuil. (…)
(Cloete, 2016:75)
Afbeelding gevind op:
http://joanhambidge.blogspot.com/2016/11/tt-cloete-die-groot-misterie-van-twee.html
Iewers in Mei 2007, dae na Anna se dood, skryf hy:
“Ek voel nog daardie bedrieglike vreugde van Maartmaand, kort voor die Vrou jou gevat het: Van Vrydag 16 Maart tot Dinsdag 20 Maart was daar ʼn pragtige heilige opflikkering in jou. Saterdag 24 Maart het ek die gedig ‘goeie helder Saterdag’ (sic) geskryf, maar dit nie vir jou gewys nie; Maandag die 19de en Dinsdag die 20ste loop jy tot by die hek die eerste keer na ʼn lang tyd; Dinsdag 20 Maart sê jy vir my: ‘Dalk is dit die keerpunt.’ (…)” (Cloete, 2016:101)
Weer en weer keer die skrywer in die daaropvolgende jare terug na dié “helder dae” (Cloete, 2016:191, 229, 241, 367). Op 11 Februarie 2009 skryf hy:
“Ek hoor jou smeking: Bid vir my.
Ek moet ophou. Dis ʼn Saterdag. Saterdae het ʼn kleur, aswit, bleek aswit. Ek skryf hierdie gedig oor en oor in my gemoed” [en dan haal hy die hele gedig “goeie helder Saterdag” aan, wat in Cloete, 2011 slegs “helder Saterdag” heet]. (…)
Ek lewe ʼn hele leeftyd oor.
Dis nou presies sewe jaar gelede, hierdie tyd van die jaar, einde Februarie begin Maart 2002, dat hulle die kanker in jou ontdek het.”
(Cloete, 2016:153-167)
Met inagneming van die bogenoemde sou ʼn mens enkele opmerkings kon maak:
Hoewel T.T. Cloete oor ʼn tydperk van 13 jaar telkemale dieselfde gebeure in sy briewe aan Anna beskryf, is daar baie min, indien enige, ander gedigte in digbundels opgeneem waarin hy mediese besonderhede oor Anna se siekte beskryf. In die “Twee Vroue” is daar wel enkeles. Die gedig “helder Saterdag” is die vergestalting van die oorheersende problematiek waarmee Cloete in die “Twee Vroue” worstel: die saambestaan en verweefdheid van liggaamlike ongesteldheid en die kreatiewe gees wat die afgryslike probeer besweer deur die “mooi” te wil raaksien; die geestesaktiwiteit wat die positiewe te midde van die skrikwekkende wíl raaksien en daarvan sin móét maak ten einde geestelik staande te kan bly. Dit sien ons in “helder Saterdag” byvoorbeeld in die dialise-aftreksel wat die tuinier oor die blomme moet uitgooi sodat hulle kan blom, uit die krieketspelers wat voluit in die lewe is, terwyl Anna (ironies!) sterwend na hulle kyk en (volgens verskeie inskrywings in die “Vroue”) haar krag uit die sportmanne se vitaliteit put – hoe die somatiese lyding en die “hoër” aktiwiteit van singewing deel is van dieselfde ervaring (dink hier aan Cloete se laaste bundel: “Karnaval en Lent is een gedig”).
In verskeie briewe aan Anna erken die skrywer dat hy hom in die laaste jare van sy lewe kwel oor die vraagstuk waarom God dit goed gedink het om die edelste aspek van die mens, naamlik sy vermoë om te dink en kuns te skep, afhanklik gemaak het van die afstootlikste liggaamsfunksies (ons moet eet, verteer en uitskei ten einde ons brein te voed). Die saambestaan van “mooi” dinge en verwerplike dade of verontmenslikende toestande kom veral in Cloete se laaste bundels, “onversadig” en “Karnaval en Lent is een gedig” voor – “helder Saterdag” is déél van dié tematiek. In “Achilles se skild” (Cloete, 2011:82-90) skryf Cloete oor die skild:
“Hefaistos tree hinkend ver terug
dan staan hy die lieflike kunstige skild
van ons ontglippende dubbele menslikheid
in een stuk gesmee aan Achilles af
(…)
dit is die wreedste geveg, saam met mooi dinge
wesensgetrou ingesmee in die buitenste kring van die nes
van konsentriese sirkels, hulle wat in mekaar pas
netjies soos die kringe in ʼn versteurde waterplas
Hoewel ons as mens nie die “dubbele menslikheid” (goed/sleg; edel/onedel; gesond/siek …) kan verklaar nie, is dit blykbaar “wesensgetrou ingesmee” in die menslike aard.
Bronne
Cloete, T.T. 2011. Onversadig. Kaapstad: Tafelberg
Cloete, T.T. 2014. Karnaval en Lent is een gedig. Kaapstad: Tafelberg
Cloete, T.T. 2016. Die groot misterie van twee vroue: Briewe aan Anna”. Kommetjie: Pooka.
Taljard, Marlies. 2012. Gesprek oor drie millenniums: T.T. Cloete se herskrywing van Homeros se Achillesskild-gegewe. https://doaj.org/article/3cdab815fa9748fda6f919defdf89ad9?gathStatIcon=true
Taljard, Marlies. 2019. Digterlike beheer en herinterpretasie: T.T. Cloete se transkripsie van twee antieke tekste in “Onversadig” https://journals.co.za/doi/epdf/10.17159/2224-7912/2019/v59n1a2