Wanneer beweer word dat ʼn literêre werk feministiese trekke vertoon, impliseer dit die oorskryding van grense van (onder andere) ʼn sosiale, literêre en filosofiese sisteem wat voorheen deur mans en manlike belewenis gedomineer is deur die inskripsie van die vroulike belewenis in die literêre kanon. In daardie opsig is alle skryf in die feministiese modus ‘n grensoorskrydende handeling.
Die term “feminisme” is die eerste keer in die 1880’s in Engeland gebruik in die veldtog om gelyke politieke en wetlike regte vir mans en vroue te beding. Die stryd om vroueregte is egter veel ouer. Aan die begin van die vyftiende eeu het die Querelle des femmes in Frankryk gewoed – een van die eerste openbare debatte oor die aard van vrouwees en die uitbeelding van vroue in die letterkunde. Dié debat het gehandel oor kwessies van moraliteit, goeie maniere en opvoeding (sien die bespreking van Ronelda Kamfer se gedig “Dame in progress” hieronder). Sedert die sewentiende eeu verskyn daar gereeld publikasies wat op vrouekwessies fokus, veral oor die man se beheer oor die vrou. Hoewel vroue tydens die Franse Rewolusie nog onafhanklik van hulle mans ʼn optog na Versailles gereël het om die koninklike familie gevange te neem, is hulle afhanklike status finaal deur Napoleon se Sosiale Kode (1804) bevestig. Artikel 213 lui dat vroue aan hulle mans gehoorsaamheid verskuldig is, terwyl Artikel 1124 bepaal dat onmondige kinders, getroude vroue, misdadigers en geestesversteurdes geen wetlike bevoegdheid het nie. In die amptelike kommentaar op Napoleon Bonaparte se Wetboek staan daar: “Getroude vroue … kan dus geen besittings hê nie, omdat hulle self besittings is: die vrou behoort aan die man” (vry vertaal uit Schmaußer, 1991:17). Selfs die vrou se liggaam het volgens dié Wetboek nie aan haarself behoort nie (Schmaußer, 1991:15-17). In die negentiende en vroeë twintigste eeu handel dié debat veral oor kwessies soos vroue-stemreg, gelyke regte voor die wet, vroue-arbeid en -besoldiging. In Amerika fokus radikale feministe veral op die onderdrukking van swart vroue. In wese behou die feminisme egter hoofsaaklik ‘n politieke agenda en is dit, veral in Amerika, die uiteindelike doel van baie feministe om die vrou te bevry van onderdrukking deur die man.
Hoewel die term “feminisme” in die handel en wandel dikwels as sinoniem vir iets soos “die bevryde vrou” gebruik word – dus dié vroue wat doelbewus wegbreek van die stereotiepe beeld van die vrou wat hoofsaaklik in patriargale samelewings geld – is dit ook ʼn term wat baie meer spesifiek as teoretiese konsep in wyd uiteenlopende betekenisse gebruik word. Binne die postmoderne en post-postmoderne literêre teorie kan die term “feminisme” nie as ‘n sambreelterm gebruik word vir ‘n verenigde vrouebeweging met dieselfde doelstellings wêreldwyd nie. Daarom word tans eerder na “feminismes” as na “die feminisme” verwys.
Volgens Beasley (1999: 3-18) is die sentrale kenmerk van feministiese teorie dat dit deur middel van dekonstruksie en hervorming kritiek lewer op hoofstroomdenke, wat dikwels, selfs vandag nog, op manlike waardes en denksisteme en die universalisering van die manlike belewenis geskoei is. Feministiese teorie probeer oor die algemeen ‘n alternatief daarstel vir kennissisteme wat die man as norm beskou en waarin die vrou meestal in terme van die man gedefinieer word.
Beasley (1999:15-18) beskryf vyf maniere waarop so ʼn alternatief bereik kan word. Sommige feministe, veral die liberale en Marxistiese groeperinge, gaan van die veronderstelling uit dat mans en vroue gelyk is en dat vroue basies in staat is om dieselfde te doen en te bereik as mans. ‘n Ander groep, wat dikwels ginosentriese feministe genoem word, werk met die aanname dat mans en vroue verskillend is, maar staan die hiërargie teen wat onderliggend is aan tradisionele Westerse politieke en sosiale opvattings van geslagsverskille. Die meer radikale aanhangers van dié teorie is dikwels ten gunste van ‘n sosiale sisteem waar mans en vroue heeltemal apart van mekaar woon. Die minder kontroversiële vertakking van die ginosentriese feminisme is die psigoanalitiese en “Franse” feminisme (écriture féminine). Veral sedert die 1990’s is daar ‘n groep filosowe (nie net vroue nie) wat alle binêre denke kritiseer – dié denkpatrone wat onderliggend is aan die gelyk/apart-sisteem. Hulle verskuif die fokus na die organisasie, die effek en die ontsyfering van onderdrukkende magstrukture en probeer om die klem wat in die samelewing op geslagsverskille val te ondermyn deur alle vorme van onderdrukking en magsmisbruik te opponeer. Hierdie groepering word oor die algemeen geassosieer met postmoderne en poststrukturalistiese feminisme. ‘n Vierde, meer politiek georiënteerde groepering, fokus op die alliansie van mans en vroue, ongeag verskille of ooreenkomste, teen onderdrukkende politieke sisteme. Laastens is daar ook ‘n groep feministe wat van mening is dat die vrou die meerdere is van die man. Hierdie teorie is eenvoudig ‘n ommekeer van die sisteem waarin die man as die superieure wese beskou word.
In die breë sou ‘n mens dus feministiese teorie kan beskryf as ‘n kennissisteem wat op kritiese wyse verklarings probeer bied vir die onderdrukking van vroue deur die ondermyning en blootlegging van onderdrukkende praktyke. Dit is ‘n teorie wat probeer analiseer en verklaar hoe dit kom dat vroue minder mag het as mans en hoe dié versteurde magsbalans uitgedaag en getransformeer kan word (Stacey, 1993:50). Die behoefte aan ‘n feministiese perspektief op kennis word deur Spender soos volg uiteengesit:
Fundamental to feminism is the premise that women have been ‘left out’ of codified knowledge; where men have formulated explanations in relation to themselves, they have generally either rendered women invisible or classified them as deviant … The description and analysis of the omission of women as autonomous human beings has been one of the most significant contributions made by feminism (Spender, Dale (Ed.) 1981. Men’s Studies Modified: The Impact of Feminism on the Academic Disciplines. Oxford: Blackwell).
Hieruit vloei voort dat feministe breedweg die siening huldig dat daar ‘n sosiale tradisie bestaan waarin vroue (maar in baie gevalle ook minderhede, kwesbares en selfs die aarde) uitgebuit, onderdruk en oor die algemeen onregverdig behandel word en dat iets gedoen moet word om dié diskriminerende praktyke uit te wis en met ‘n meer regverdige sisteem te vervang. Die wyse waarop dié verandering behoort te geskied, kan egter verskeie vorme aanneem wat soms radikaal van mekaar verskil.
In literêre werke is die bostaande beskrywing en klassifisering natuurlik nie altyd duidelik sigbaar nie. Goeie skrywers skryf immers nie noodwendig met literêr-teoretiese konsepte in gedagte nie, en struktureer nie noodwendig hulle tekste só dat dit in ʼn bepaalde kategorie ingepas kan word nie. Trouens, daar was éérs die literêre kunswerk en tóé – aan die hand daarvan – het die teorie ontstaan!
So word die digter Ronelda Kamfer deur kritici nie primêr as feministiese digter beskou nie, hoewel haar werk gekenmerk word deur verset teen die norme, waardes en verwagtinge van ʼn samelewing wat nog hoofsaaklik op patriargale waardes geskoei is. Sy en ander Kaapse (én swart) digters en skrywers is inderdaad dubbel onderdruk: in die eerste plek deur ʼn gemeenskap waarin mans dikwels die onderdrukkers van vroue is, maar ook deur die apartheidsisteem wat tot op hede nog sterk voelbaar is, veral in sogenaamde voorheen benadeelde gemeenskappe. Apartheid as bose ideologie wat deur mans uitgedink en in plek gehou is, funksioneer in SA as ʼn soort über-patriargie. Verset teen dié sisteem kan inderdaad, afhangend van die teks waarin dit ingebed is, ʼn vorm van politieke feminisme wees, soos ons dit in baie Afro-Amerikaanse voueskrywers se werk sien.
Die gedigte wat ek hieronder bespreek, klassifiseer ek doelbewus nie as een of ander tipe feministiese gedigte nie, maar wys ek slegs op sekere feministiese trekke wat daarin voorkom. Dit is gedigte wat, op tipiese Kamfer-wyse, skerp ironiserend werk met aangeleerde waardes van hoe vroue hulle moet gedra om te voldoen aan die ideale beeld wat die gemeenskap (m.a.w. veral mans) van die konsep “vrou” het. In die eerste gedig is dit hoe ʼn “dame” haar moet gedra en in die tweede gedig is dit die stereotiepe beeld van die huisvrou.
Dame in progress
vir Allisen
As ek ʼn dame is
sal ek toe sit
my piercings uithaal
en my figure study
Ek sal rok dra en
minder Jimi Hendrix luister
Ek gaan ophou rook en bier drink
en ek gaan die oulikgeit van
gehoorsaamheid aanleer
Ek gaan mans respekteer
en nooit
meer as een boyfriend
op ʼn slag hê nie
Ek gaan nie meer skandelik op
straat wees nie
en sal probeer om minder
met dom meisies te baklei
Ek gaan my vriende reg kies
Junkies, prossies, punks … is uit
En goed opgevoede kerklike meisies is … in
Ek gaan my knap gedra
flink dink
en betaamlik aantrek
as
ek eendag ʼn dame is
In hierdie gedig is dit opvallend hoe die digter twee soorte Afrikaans gebruik, naamlik dié van die Kaapse Vlakte en dié van die (wit) Afrikaner-establishment. Woorde en uitdrukkings soos “toe sit, oulik, gehoorsaam, respekteer, skandelik, vriende reg kies, goed opgevoede kerklike meisie, knap gedra” verteenwoordig sogenaamde Standaard-Afrikaans (destyds ook Algemeen-Beskaafd genoem) met sy patriargale konnotasies. Mens sou dit seker ook apartheids-Afrikaans kon noem. Dit is taal wat onder andere in die apartheidstyd algemeen in wit middelklas skole gebruik is om waardes in te dril wat leerders in staat sal stel om binne die establishment aanvaar en geag te word. Ek hoor my oud-skoolhoof agter die kateder op die verhoog dié taal gebruik. In teenstelling met hierdie taal (wat gedrag tipies van ʼn dame beskryf), word woorde en frases wat tipies is van Kaaps gebruik – taal wat (veral destyds) deur puriste as Anglisismes en/of slêng beskryf sou word en/of die teenoorgestelde van ʼn “dame” insinueer: “piercings, my figure study, rook en bier drink, meer as een boyfriend, skandelik op straat, baklei, junkies, prossies, punks”. Vandag geniet dié taal natuurlik amptelike erkenning as Kaaps, maar 14 jaar gelede, toe noudat slapende honde verskyn het, was dit nie so nie. In teoretiese terme sou mens kon beweer dat die spreker in die gedig telkens die “standaard”-diskoers onderbreek of ondermyn deur die invoeging van die Kaapse dialek. Die ironie is voor die hand liggend!
Hierdie gedig moet beslis gelees word in samehang met die gedig “vergewe my maar ek is Afrikaans” – ook in die bundel noudat slapende honde waaruit ek slegs enkele reëls aanhaal:
liewe ooms met creepy, lang grys baarde, lang sokkies
en julle wat dink kaki go wif eweryfing
ek was vir ʼn baie lang tyd bang vir julle
baie bang
(…)
maar ten minste kan ek julle nou sonder
ʼn breakdown ignore
en dit alles te danke aan
VOORUITGANG
yes, julle etters
ek het die geheim ontdek
ek praat julle taal
ek eet julle kos
ek bly in julle vaderland
ek drink julle wyn
ek sing julle musiek
en liewe ooms, ek, ja ek, ek vry met julle seuns
(…)
Sonder om te veel ongegronde aannames te maak, sou mens kon aanneem dat die gedig “Dame in progress” die taal van die “ooms met creepy, lang grys baarde” ondermyn deur dit met Kaaps te deurspek. Sodoende maak die digter ʼn meerduidige stelling ten opsigte van sowel die ondermyning van paternalisties gekleurde taal om dames te omskryf én ten opsigte van sosiale/rasseverhoudinge. Wanneer die gelade slot van “vergewe my …” daarmee saam gelees word, kom hierdie dimensie duidelik uit die verf. Oor ʼn hemp by die koöperasie gekoop: “it’s two-toned so it go wif eweryfing”. Hierdie keer is dit die “ooms” se taal wat belaglik klink binne die diskoers van die (vroulike) digter.
Die gedig wat in die bundel noudat slapende honde direk na “Dame in progress” volg, is “die huisvrou”. Ook hierdie gedig werk met stereotiepe sieninge van wat ʼn vrou (in hierdie geval ʼn huisvrou) is:
die huisvrou
antie Doris was ʼn tipiese tannie
soggens het sy haar kinders by die skool kom afsien
met ʼn pienk check overall en groen rollers in haar hare
het sy heeldag huis skoongemaak, wasgoed gewas en kos gekook
sy was ʼn huisvrou
eendag in Junie het dit vreeslik gereën
maar antie Dors het wasgoed opgehang, vensters gewas
en haar stoepplante water gegee
later het ʼn polisievan en twee van Tygerberg se lykhuisbussies
voor haar huis gestop
drie bodybags is op stretchers uitgestoot
een grote en twee kleintjies
antie Doris het vir die eerste keer in jare
ʼn blomrok aangehad met haar hare wat in lang los krulle
oor haar skouers hang
sy is gehandcuff en het agter in die polisievan geklim
sy’t vir ons nosey bystanders gesê dat ons maar kan kyk
haar huis is skoon
Wat die samelewing betref, is antie Doris ʼn onberispelike huisvrou: sy tree soos ʼn huisvrou op en lyk soos ʼn huisvrou, maar die skyn bedrieg. Jack the Ripper, Jeffrey Dahmer, Dr. Death en Johan Wayne Gacy kan gaan slaap. Mans het nie die alleenreg tot gewelddadige optrede nie. Antie Doris – goeie huisvrou soos sy ooglopend is – ondermyn die siening dat dit mans se prerogatief is om op die Kaapse Vlakte ʼn skrikbewind te voer …
Bronnelys
KAMFER, Ronelda. 2008. Noudat slapende honde. Kaapstad. Kwela Boeke.
SCHMAUßER, Beatrix. 1991. Blaustrumpf und Kurtisane: Bilder der Frau im 19. Jahrhundert. Zürich: Kreuz Verlag.
STACEY, Jackie. 1993. Untangling Feminist Theory. In: Richardson, Diane & Robinson, Victoria. 1993: Introducing Women’s Studies: Feminist theory and practice. Houndmills: Macmillan.

Dankie hiervoor en dat jy wys daarop dat daar feminismes is. Nie iets soos Die Feminisme nie.
Ook psigoanalises.