Takotsubo kardiomiopatie
Lank, lank gelede sterf net ‘n prinses
aan ‘n gebroke hart wanneer ‘n ridder
op ‘n wit perd hotomkeer.
‘n Goeie fee met ‘n towerstaf
kon dié krisis in ‘n oogwink besweer.
Deesdae meestal ‘n ouer vrou wat na
haar borskas gryp nadat sy byna
verdrink of al haar geld verloor:
haar linker ventrikel verseg om normaal
te beweeg, dog haar kroonare wawyd oop.
Die herstel nou voetjie vir voetjie met
fronsende artse, sonars en pille.
Die les te leer: vir ‘n gebroke hart
steeds meer vaartbelyn
om ‘n towerfee te konsulteer.
© Hendrik J Botha 2/2023
