Wilhelm en Deon Knobel van Bethlehem
Twee Knobel-broers wat op Bethlehem gebore is en grootgeword het, het ’n merkwaardige indruk gemaak en word nog steeds met die dorp verbind. Hulle oupa was tewens eerwaarde Roux, wat 40 jaar lank die sendeling op Bethlehem was. As monument vir sy nagedagtenis staan vandag nog die Ysterklip Sendingkerk, Nazareth, wat tans die Bethlehem-museum huisves en oor ’n magdom artefakte beskik.
Wilhelm Knobel is op 26 Oktober 1935 op Bethlehem gebore en het op die familieplaas Versien grootgeword en aan die Hoërskool Voortrekker op die dorp gematrikuleer.
Wilhelm het ’n groot liefde vir die letterkunde gehad en was in verskillende tale belese. Sy liefde vir musiek laat hom ook klavier- en tjellolesse neem. Later studeer hy aan die Universiteit Stellenbosch tale en filosofie en gaan met ’n beurs na die Sorbonne in Parys waar hy die digter Breyten Breytenbach leer ken en ook begin skilder.
Ná Wilhelm se terugkeer doseer hy kort tye Frans aan die Universiteit van die Vrystaat en Unisa. Hy bring die somervakansie van 1973 op die plaas deur, maar sterf in sy slaap op 4 Januarie 1974 in ’n inrigting in die Kaap na ‘n hipermaniese aanval. Die groot dosisse medikasie wat hy ontvang het, het sy asemhaling onderdruk en sy dood veroorsaak. Sy eerste aanval van bipolêre gemoedsversteuring het egter reeds op 19-jarige ouderdom voorgekom. Hy is op Versien begrawe.
Wilhelm Knobel het as Sestiger bekendheid verwerf vir sy skryfwerk. Hy publiseer die digbundels Bloedsteen (1966), Mure van mos (1970) en Nagelate gedigte (1976). Uit sy pen verskyn ook ’n kinderboek, Mitsi bak koek (1975), terwyl ’n keur uit sy gedigte deur Johann de Lange in As die woorde begin droom (2011) opgeneem word.
Deon is op 5 April 1939 op Bethlehem gebore, het op Bethlehem gematrikuleer en aan die Universiteit Stellenbosch gestudeer. Hy het in Philip McLachlan se universiteitskoor gesing, was ’n lid van die Geneeskunde Studenteraad en het gedien op die redaksie van Potio medicata, die jaarblad van die geneeskundestudente. Later was hy ’n forensiese patoloog en het as mediese aktivis vir mense met MIV/vigs se menseregte opgekom. Hy was tot 2004 professor in Forensiese Medisyne aan die Universiteit van Kaapstad.
Deon het op ’n jong ouderdom bewus geword van sy broer Wilhelm se bipolêre gemoedsversteuring en self daaraan gely. Ná Wilhelm se dood het hy gehelp om met nuwe publikasies en opdragte vir komposisies sy broer se werk lewendig te hou. Hy het ook bygedra tot bewaring op Bethlehem en in die 1980’s sy sendeling-oupa se huis met glad afgewerkte sandsteenboublokke en binnemure van klein kleistene van die munisipaliteit gekoop. Die huis is gerestoureer en sy oupa se studeerkamer en hoofslaapkamer is as huismuseum ingerig.
Deon is op 1 Maart 2019 ná ’n kort siekbed oorlede.
© Johann Lodewyk Marais, 2023

Dankie Johann — goed dat om te lees van mense uit my vandaankom-kontrei.
Ina Wolfaardt-Gräbe
2023-05-13
Dankie, Johann. Gied om meer van dié broers te wete te kom.