Ingrid Jonker
I
In ‘n kursus Die gedig as wond aan die Universiteit van Kaapstad het hierdie leser deur die jare die werk van Sylvia Plath, Anne Sexton en Ingrid Jonker behandel. Hul tragiese lewens en hoe die leser uiteindelik nooit die tekste kan loslees van hul biografie nie. Ook hul kinders was slagoffers; die geskiedenis van Simone is oorbekend en Plath se seun Nicholas het eweneens sy eie lewe geneem. Sexton se dogter het haar moeder van molestering beskuldig.
Searching for Mercy Street: My Journey Back to My Mother, Anne Sexton (1994) lewer verslag hiervan. Die terapeut, ene Martin Orne, het konfidensiële bandjies vir die biograaf, Diane Middlebrook gegee wat dit gebruik het in haar studie. Hierin het Sexton al haar woedes oor háár vader bely en haar verhoudings met ander.
Mag Middlebrook dit gebruik het?
Oor hierdie kwessie is daar nooit eenvoudige antwoorde nie, omdat Sexton nie haarself kon verdedig nie. Wat is waar? Wat was fantasie?
II
Die digter wat in Afrikaans die sterkste bemoeienis met Jonker het, is Johann de Lange.
In die lykdig “Ingrid Jonker (1933 – 1965)” volg De Lange die struktuur van die kinderrympie “Who killed Cock Robin?” om op ‘n retoriese wyse die vraag te vra oor wie presies het Jonker doodgemaak.
Ingrid Jonker (1933 – 1965)
Wie het Ingrid Jonker vermoor?
Ek, sê die somber see,
ek wat neem en gee.
Ek het Ingrid Jonker vermoor.
Wie het haar sien sterf?
Ek, sê die suiwer maan,
daar’s niks wat my ontgaan.
Ek het haar sien sterf.
Wie sal die sluier maak?
Ek, sê die minnaar,
om die skyn te bewaar.
Ek sal haar sluier maak.
Wie sal die graf betaal?
Ons, sê die familie trots
– met haar naam in rots –
ons sal die graf betaal.
Wie sal die kis dra?
Ek, antwoord die koerant,
op voorblaaie dwarsdeur die land
sal ek die kis dra.
Wie sal die klok lui?
Ek, sê die suster; weet
ek is afgunstig op haar leed.
Ek sal die klok lui;
Wie sal vir haar sing?
Ek, sê die ongebore kind,
sodat sy my kan vind
sal ek vir haar sing.
Wie sal haar dood betreur?
Ons wat haar gepubliseer het
en verdere winste verbeur het,
ons sal haar dood betreur.
Wie sal haar bloed trek?
Ek, sê die skrywer,
uit hebsug en naywer
sal ek haar bloed trek.
Wie sal eerste vergeet?
Ek, sê die bleek papier,
my tyd is korter hier.
Ek sal eerste vergeet.
Hierdie vers is opgeneem in Wordende naak wat ‘n digterlike hoogtepunt bly.
Die spel tussen ek en ons is opvallend. Die gedig word ‘n soort drama met die rympatrone in elke strofe wat alles sluit. Elke rolspeler – so gelees – het ‘n eie agenda, onafhanklik van die ander se motiewe.
III
The signature of a poem (…) is a wound. What opens, what does not heal, the hiatus, is indeed a mouth that speaks there where it is wounded. In the place of the lesion.
Jacques Derrida
Vir Derrida in Writing and Difference is die onbewuste ‘n teenstrydigheid. ‘n Weefwerk van tekens, nêrens aanwesig nie; ‘n soort argief wat alreeds transkripsies is. Afsaksels van iets wat nooit daar was nie met ‘n uitgestelde betekenis (différance).
Hy gebruik ook die begrip nachträglich (1979: 211). In Freud se terme: iets wat eers by nabaat begryp kan word (afterwardsness) wat by Jacques Lacan après-coup word.
Hierdie term vind ons in die studie van Freud (saam met Breuer) in die beroemde Studien über Hysterie (1895).
Die skryfdaad is gekoppel aan repressie of verdringing.
Psigoanalise is gebaseer op ‘n triadiese verhouding. Of dit nou die id, ego of superego is wat Lacan na die verbeelde, simboliese en Reële vertaal het of dalk alle leesprosesse: teks / leser / skrywer, die verhouding signifier/d wat die teken word. Jonker / De Lange / die leser wat teruggaan na die primordiale driehoeksverhouding tussen Jokaste / Oedipus / Laius. Hierdie verhouding is egter nie stabiel nie: dit kan soos die verhouding tussen die analis en analysand ook omgekeer word.
By sowel Jonker as De Lange het die ouers die kind gefaal. Jonker se vader het haar in die openbaar uitgeskel en die ambivalente verhouding met die skrywer André P. Brink het waarskynlik die wond verdiep. Die doodstematiek en groot aantal lykdigte aktiveer die konflik met die vader wat selfdood gepleeg het.
Ontvlugting
Fyn kantwerk van vygies langs die see.
Die vygieranke van Somersetstrand
kon jou dun enkels nie terughou nie
daardie nag toe jy uitgestap het
na jou dood soos ‘n kind na ‘n donker kamer,
toe jy die water naweldiep ingewaad het
soos ‘n slaapwandelaar in ‘n droom.
Daardie nag: het jy toe geweet
dat daar ‘n einde kom aan die groot geel by
die dag, het jy onthou dat jy eenmaal,
een hoogsomertyd, vlasblond en gelukkig was?
Daardie nag het jy na binne geskree
en die meeue het gesterf van jou kreet.
Daardie nag het jy jou jonglyf
vir die laaste keer weggegee,
argeloos, aan die grootste minnaar
van almal: aan die krulkopsee.
En die windwit branderskuim
het jou dye skoongewas
van die bloed van die vermoorde kind,
die bloed van die veronregtes,
die nageboorte van jou volk.
In die Bergrivier en die dam by Firwoods
het jy twee keer byna verdrink, meisie-vrou;
die derde keer is skeepsreg.
Voordat jy finaal ondergegaan het,
slaapswaar en vir ewig jonk,
het die water en die wind saamgesweer
en jou skraal skouers
twee meeuwit vlerke vir die vlug
uit hierdie Valkenburg gegee.
Dit is opgeneem in Waterwoestyn, die tweede bundel. Opvallend is die verskil in toonaard tussen die twee verse. Emosioneel teenoor tegnies beheersd.
Die gedig in Waterwoestyn is ‘n oop wond; die lykdig oor Jonker in Wordende naak is al letsel.
Die ego is vir Freud ‘n “split subject”. Bewuste teenoor onbewuste. “Where id was, there ego shall be …”
Waar Jonker was, sal Johann de Lange verder skryf en voltooi. Om so die dood uit te stel.
Want beide se handtekening is die wond en letsel.
Joan Hambidge
21 Februarie 2023
Bronne:
http://joanhambidge.blogspot.com/2013/02/studie-die-digter-as-lorelei-die.html
De Lange, Johann. 2020. Die meeste sterre is lankal dood. Kaapstad: Human & Rousseau.
- Waterwoestyn. Kaapstad: Human & Rousseau.
- Wordende naak. Pretoria: Haum-Literêr.
Derrida, Jacques. 1979. Writing and Difference. Londen: Routledge & Kegan Paul.
Middlebrook, Diane Wood. 1992. Anne Sexton: A Biography. Boston: Vintage.
Sexton, Linda Gray. 1994. Searching for Mercy Street: My Journey Back to my Mother. New York: Little Brown & Co.
