Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
22 February 202327 February 2023

Joan Hambidge. Hoe lees ons? XXIII

 

Ingrid Jonker

I

In ‘n kursus Die gedig as wond aan die Universiteit van Kaapstad het hierdie leser deur die jare die werk van Sylvia Plath, Anne Sexton en Ingrid Jonker behandel. Hul tragiese lewens en hoe die leser uiteindelik nooit die tekste kan loslees van hul biografie nie. Ook hul kinders was slagoffers; die geskiedenis van Simone is oorbekend en Plath se seun Nicholas het eweneens sy eie lewe geneem. Sexton se dogter het haar moeder van molestering beskuldig.

Searching for Mercy Street: My Journey Back to My Mother, Anne Sexton (1994) lewer verslag hiervan. Die terapeut, ene Martin Orne, het konfidensiële bandjies vir die biograaf, Diane Middlebrook gegee wat dit gebruik het in haar studie. Hierin het Sexton al haar woedes oor háár vader bely en haar verhoudings met ander.

Mag Middlebrook dit gebruik het?

Oor hierdie kwessie is daar nooit eenvoudige antwoorde nie, omdat Sexton nie haarself kon verdedig nie. Wat is waar? Wat was fantasie?

II

Die digter wat in Afrikaans die sterkste bemoeienis met Jonker het, is Johann de Lange.

In die lykdig “Ingrid Jonker (1933 – 1965)” volg De Lange die struktuur van die kinderrympie “Who killed Cock Robin?” om op ‘n retoriese wyse die vraag te vra oor wie presies het Jonker doodgemaak.

Ingrid Jonker (1933 – 1965)

Wie het Ingrid Jonker vermoor?

Ek, sê die somber see,

ek wat neem en gee.

Ek het Ingrid Jonker vermoor.

Wie het haar sien sterf?

Ek, sê die suiwer maan,

daar’s niks wat my ontgaan.

Ek het haar sien sterf.

Wie sal die sluier maak?

Ek, sê die minnaar,

om die skyn te bewaar.

Ek sal haar sluier maak.

Wie sal die graf betaal?

Ons, sê die familie trots

– met haar naam in rots –

ons sal die graf betaal.

Wie sal die kis dra?

Ek, antwoord die koerant,

op voorblaaie dwarsdeur die land

sal ek die kis dra.

Wie sal die klok lui?

Ek, sê die suster; weet

ek is afgunstig op haar leed.

Ek sal die klok lui;

Wie sal vir haar sing?

Ek, sê die ongebore kind,

sodat sy my kan vind

sal ek vir haar sing.

Wie sal haar dood betreur?

Ons wat haar gepubliseer het

en verdere winste verbeur het,

ons sal haar dood betreur.

Wie sal haar bloed trek?

Ek, sê die skrywer,

uit hebsug en naywer

sal ek haar bloed trek.

Wie sal eerste vergeet?

Ek, sê die bleek papier,

my tyd is korter hier.

Ek sal eerste vergeet.

Hierdie vers is opgeneem in Wordende naak wat ‘n digterlike hoogtepunt bly.

Die spel tussen ek en ons is opvallend. Die gedig word ‘n soort drama met die rympatrone in elke strofe wat alles sluit. Elke rolspeler – so gelees – het ‘n eie agenda, onafhanklik van die ander se motiewe.

III

The signature of a poem (…) is a wound. What opens, what does not heal, the hiatus, is indeed a mouth that speaks there where it is wounded. In the place of the lesion.

Jacques Derrida

Vir Derrida in Writing and Difference is die onbewuste ‘n teenstrydigheid.  ‘n Weefwerk van tekens, nêrens aanwesig nie; ‘n soort argief wat alreeds transkripsies is. Afsaksels van iets wat nooit daar was nie met ‘n uitgestelde betekenis (différance).

Hy gebruik ook die begrip nachträglich (1979: 211). In Freud se terme: iets wat eers by nabaat begryp kan word (afterwardsness) wat by Jacques Lacan après-coup word.

Hierdie term vind ons in die studie van Freud (saam met Breuer) in die beroemde Studien über Hysterie (1895).

Die skryfdaad is gekoppel aan repressie of verdringing.

Psigoanalise is gebaseer op ‘n triadiese verhouding. Of dit nou die id, ego of superego is wat Lacan na die verbeelde, simboliese en Reële vertaal het of dalk alle leesprosesse: teks / leser / skrywer, die verhouding signifier/d wat die teken word.  Jonker / De Lange / die leser wat teruggaan na die primordiale driehoeksverhouding tussen Jokaste / Oedipus / Laius. Hierdie verhouding is egter nie stabiel nie: dit kan soos die verhouding tussen die analis en analysand ook omgekeer word.

By sowel Jonker as De Lange het die ouers die kind gefaal. Jonker se vader het haar in die openbaar uitgeskel en die ambivalente verhouding met die skrywer André P. Brink het waarskynlik die wond verdiep. Die doodstematiek en groot aantal lykdigte aktiveer die konflik met die vader wat selfdood gepleeg het.

Ontvlugting

Fyn kantwerk van vygies langs die see.

Die vygieranke van Somersetstrand

kon jou dun enkels nie terughou nie

daardie nag toe jy uitgestap het

na jou dood soos ‘n kind na ‘n donker kamer,

toe jy die water naweldiep ingewaad het

soos ‘n slaapwandelaar in ‘n droom.

Daardie nag: het jy toe geweet

dat daar ‘n einde kom aan die groot geel by

die dag, het jy onthou dat jy eenmaal,

een hoogsomertyd, vlasblond en gelukkig was?

Daardie nag het jy na binne geskree

en die meeue het gesterf van jou kreet.

Daardie nag het jy jou jonglyf

vir die laaste keer weggegee,

argeloos, aan die grootste minnaar

van almal: aan die krulkopsee.

En die windwit branderskuim

het jou dye skoongewas

van die bloed van die vermoorde kind,

die bloed van die veronregtes,

die nageboorte van jou volk.

In die Bergrivier en die dam by Firwoods

het jy twee keer byna verdrink, meisie-vrou;

die derde keer is skeepsreg.

Voordat jy finaal ondergegaan het,

slaapswaar en vir ewig jonk,

het die water en die wind saamgesweer

en jou skraal skouers

twee meeuwit vlerke vir die vlug

uit hierdie Valkenburg gegee.

Dit is opgeneem in Waterwoestyn, die tweede bundel. Opvallend is die verskil in toonaard tussen die twee verse. Emosioneel teenoor tegnies beheersd.

Die gedig in Waterwoestyn is ‘n oop wond; die lykdig oor Jonker in Wordende naak is al letsel.

Die ego is vir Freud ‘n “split subject”. Bewuste teenoor onbewuste. “Where id was, there ego shall be …”

Waar Jonker was, sal Johann de Lange verder skryf en voltooi. Om so die dood uit te stel.

Want beide se handtekening is die wond en letsel.

 

Joan Hambidge

21 Februarie 2023

Bronne:

http://joanhambidge.blogspot.com/2013/02/studie-die-digter-as-lorelei-die.html

De Lange, Johann. 2020. Die meeste sterre is lankal dood. Kaapstad: Human & Rousseau.

  1. Waterwoestyn. Kaapstad: Human & Rousseau.
  2. Wordende naak. Pretoria: Haum-Literêr.

Derrida, Jacques. 1979. Writing and Difference. Londen: Routledge & Kegan Paul.

Middlebrook, Diane Wood. 1992. Anne Sexton: A Biography. Boston: Vintage.

Sexton, Linda Gray. 1994. Searching for Mercy Street: My Journey Back to my Mother. New York: Little Brown & Co.

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Joan Hambidge. Hoe lees ons? XXII
Joan Hambidge. Hoe lees ons? XXIV →

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. glasman
  • Anne-Marie Bartie. fake news
  • Anne-Marie Bartie. visum
  • Margaret Cordier. Gestroop
  • Willem de Swyger. bokwagter

Nuutste bydraes

  • ND Cronjé. wiskunde
  • Driekie Grobler. skoffeer
  • Digtersprofiel: Pieter Odendaal
  • Yves T’Sjoen. “’n pêrel stilte”
  • Joan Hambidge. Cussons en “Die knetterende woord”

Nuutste kommentaar

  1. Versindaba on Gunther Pakendorf. hoe dooier hoe mooier16 September 2026

    Dankie Gunther. So op Breyten se verjaarsdag (Pampoendag). - Marlies Taljard

  2. Annora Eksteen on Gerrit Theron. Die vuurhoutjie11 September 2026

    Net so. Ek kan nie sonner my voorraad vuur houtjies nie. Kerse en gasstofie en die Kaap is heerlik Frans…

  3. Annora Eksteen on Vers-en-klank: Joan Hambidge11 September 2026

    Bai geluk professor Joan! Lank leef! ♥

  4. Bernard Odendaal on Resensie: “Van man tot man” (Olive Schreiner, versorg & verwerk deur JM Coetzee, vert. deur Antjie Krog)10 September 2026

    Jy het my nou nog nuuskieriger gemaak. Dankie, Marlies!

  5. Yves T'Sjoen on Joan Hambidge. Sheila Cussons en Dominique Botha: Die ander waarheid8 September 2026

    Bijzonder interessant, Joan. Er valt een boeiende literatuurgeschiedenis te schrijven op basis van dergelijke literaire correspondenties of consonanties. Dat betekent…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • onderhoude
  • Onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d