In corpore sano
Siekte nog altyd afstandelik
ironies berym of verwoord.
Geen medikasie hier vir seer
of Voltareninspuitings vir nood.
‘n Onverwagse insident
(die voet se glyslag op water
in ‘n toilet by die teater)
laat my skaats soos ‘n digter
in vryval soos ‘n vryevers
sonder einde met die leser
deur te veel woorde beseer.
Só helaas: geen salf te smeer
aan ‘n gedig oor ‘n besering
in hierdie siektesonnet pynlik.
© Joan Hambidge, 2023