Nog steeds om die gebeentes
Al is die skelet en skedel meer bestand
teen aanslae van buite as die weekdele alleen
al bly die geraamte oorwegend dieselfde
been van my been.
Al spoeg ek herhaaldelik stukkies uit
verslyt verbrysel en kapot
vir die aasvoëls die tandmuis die graf
in hulle moer in bederf en verrot.
Al versplinter en spat die skerwe uit hul raam
vergeel die kalkwit pitte met tyd
asem ’n klaaglied nou sonder roosmaryn
die gebit verslind met valse byt.
Al raak ek amper te oud vir die daaglikse stryd
watch my maar stip want ewe bedees
eendag nie te ver van nou af nie
gaan ek ’n seksie lyk met ’n passion gap wees.
© Rosa Keet, 2023
