Voorspoedige Nuwejaar…
Jaareind merk die begin van voornemens.
Op hierdie oujaar
is ’n verjongingskuur op die agenda.
Ek moet spring want die onderdele raak verslete
dit raak noodsaaklik om te gryp
na enige moontlike verbeteringe.
Ek laai die program vir opgradering af
soek deur alle harde- en sagteware
na verwydering en vernuwing.
Om die selfbeeld te hersien –
megadosisse vitamiene.
Vir ander deurslaggewende mutasies
nuutkweking van eie selle
instuur na binne van nanorobotjies
gladde kosmetiese ontrimpeling
botox die frons uit en laat die lippe tuit
maagverkleining tietievergroting koekievernouing
alle moontlike toevoegings uitwissing
oorplanting vervanging en herbouing.
Ek ruil en vul my valleie met silikoon.
Skud my ou self af en gee die pas
in hierdie post truth jaar
bloedjonk en splinternuut aan.
© Rosa Keet, 2023