In die Maag van die Vis
die lewe is soos ʼn niekerbol sê die ou storie:
eendag tuinier van die groot deeltitelskema
die volgende ʼn mismaaksel in vodde flenters
én die walg rook een sigaret na die ander
om ʼn skarlakenrooi-lied te pars
uit die stilte –
regerings staan borg vir vergrype
soos in 2008,
want die markte van ʼn vrye-mark wêreld
is onstabiel soos die deinings
buite die baai
in die ou Van Wyk Louw gedig.
as die ekonomie in duie stort
soos ʼn hommeltuig wat baas kom soek
in ʼn pikswart see
kan dit verrykende gevolge hê
vir die institusie van die ons –
daarom dan die pinkie wat uitgehou (moet) word:
gryp bankiers, gryp vir al wat die aandele werd is.
die gevolg is mos maar wat Covid kom leer het
van strategiese voordeel,
terwyl klein restaurante, eenmansake
in sak en as hulle goedjies moes oorhandig aan balju
sodat Amazon ʼn verwyderde oorsaak
deur afstandsbeheer kon uitoefen
vir die koffers van maanreisende filantrope
soos die lewe, so die inflasie
wat die borgtogte vermoontlik
sodat skurke in hulle baadjies met kaviaar
aan kan hou om mekaar op die skouer te klop –
aan kan hou spog oor hulle woekerwinste
wat hulle so ampertjies kwyt was
terwyl die silikon borste wip
in Gucci en Armani
en Fauci reken mense
moet oopkop bly
oopkop dat die inflasie die gewone burger
dalk sal noop om die huis van sy kinders
af te staan aan die bank –
oopkop oor die tuinier wat nou
deur die gevestigde tuindienste maatskappy vervang sal word
omdat reëls en regulasies nie verbreek mag word nie –
oopkop oor die omvang van die ongelykheid
wat ʼn kloof tussen Brahmane en Onaangeraaktes
kom afdwing en indwing
en van kant kom maak van die niekerbol
wat een is, maar tog so veelkleurig,
so veeltalig, multikultureel
in sy strewe
om ʼn soet smaak
in die mond agter te laat
totdat ook hý sal wegsmelt
oor die tong van ʼn groot en genadige God
of dan andersins,
– omdat hy so lóú geword het –
by die mond uitgespoeg sal word
soos ʼn Jona uit die bek
van fabelagtige prehistoriese
vis
© Bester Meyer, 2023