
In roman- en filmkuns word die letterkundeprofessor uitgebeeld as ’n komplekse en gekwelde karakter, dikwels met ’n skadukant. Die wetenskapprofessor weer, tree op as die boodskapper van onheil. Hy wil die wêreld waarsku teen die een of ander naderende apokalips soos byvoorbeeld ’n asteroïede wat die aarde gaan tref. ’n Mens dink dadelik aan die film, Don’t look up (2021) waarin politici – maar ook die wêreld – se onverskilligheid jeens ’n dreigende en onbekende komeet gestalte vind. Die Westerse wêreld word gedikteer deur ’n kommersiële mediakultuur en die sterrekundiges, professor Randall Mindy en sy PhD-student, Kate Dibiasky, se waarskuwings val op dowe ore. Die wetenskapprofessor word voorts uitgebeeld as versteurde wetenskaplike (mad scientist), wat om die beurt verwondering, empatie of humor by kykers of lesers wek. Die verskil tussen die wetenskapprofessor en die letterkundeprofessor lê waarskynlik in die feit dat die letterkundeprofessor oor ’n wyer emosionele repertoire en groter filosofiese diepgang as die wetenskapprofessor beskik. Die letterkundeprofessor word in alle gevalle as ’n vrydenkende individu geskets.
’n Mens kan natuurlik spekuleer waarom die letterkundeprofessor as sensitiewe of gewroegde persona voorgestel word. Baie skrywers is verbonde aan die akademie waar hulle letterkunde doseer. Hierdie skrywers/akademici skryf dus vanuit hulle leefwêreld. Die letterkundeprofessor is by uitstek die representasie van die sensitiewe esteet met onderliggende psigologiese worstelinge, en laasgenoemde kan die gedaante van ideologiese of eksistensiële kwellinge aanneem, óf dit kan van persoonlike aard wees, soos die belewenis van siekte of liefde.
Die gerespekteerde en bekroonde Amerikaanse skrywer, Philip Roth is bekend vir sy uitbeelding van die gekwelde letterkundeprofessor. Sy roman, The dying animal (2001) is die derde novelle in ’n trilogie wat handel oor professor David Kepesh se beskouings oor die liefde, oudword en sy fetisj vir borste. The dying animal is in 2008 verwerk tot die film, Elegy, met Ben Kinsley in die hoofrol as professor Kepesh. Hy raak verlief op ’n veel jonger damestudent, die Kubaans-gebore Consuela Castillo (gespeel deur Penélope Cruz), maar sy besef spoedig dat hierdie ouer, sjarmante professor haar bloot gebruik vir seksuele gratifikasie. Kepesh raak mettertyd ongemaklik oor die groot ouderdomsverskil tussen hulle, en Castillo verbreek die verhouding. Alhoewel Kepesh treur oor sy jeugdige minnares, duur dit twee jaar alvorens sy hom skakel en inlig dat sy borskanker het.
In hierdie film staan estetia voorop – en professor Kepesh gebruik sy kennis van kuns, musiek en letterkunde om Castillo te verlei. Estetika dien dus as impetus tot erotiese verleiding, ’n tema wat dikwels geassosieer word met die letterkundeprofessor se benadering tot die liefde. Vóór Castillo gaan vir ’n mastektomie, neem Kepesh kunsfoto’s van haar borste. Dit is dan hierdie ouer man wat die sterwende jong vrou begelei tot die dood en haar verwonding verestetiseer.
’n Komplekse liefdesverhouding tussen ’n middeljarige letterkundeprofessor en ’n tienermeisie word op die spits gedryf in Nabokov se bekende roman, Lolita (1955). Professor Humbert Humbert ontmoet die 12-jarige Dolores Haze (Lolita) terwyl hy op soek is na woonplek in Ramsdale in New England, VSA. Hy trou met Lolita se moeder, Charlotte om naby Lolita te wees. Die bloedjong meisie deel hierdie erotiese aantrekkingskrag wat hy vir haar het, maar Charlotte ontdek ondertussen Humbert se dagboek waarin hy sy wrewel teenoor háár, sy vrou, en sy liefde vir Lolita beskryf. Tydens ’n rusie storm ’n hoogs ontstelde Charlotte by die huis uit en word deur ’n motor doodgery. Humbert en Lolita vertrek op ’n padreis waar hulle hul nagte in ’n hotel en ander motelle deurbring – en Humbert gee voor dat hy Lolita se vader is. Intussen raak hy daarvan bewus dat iemand hulle motor agtervolg; sy eerste reaksie is dat dit ’n speurder is wat hom wil arresteer omdat hy seksuele omgang met ’n minderjarige gehad het.
In die Colorado-berge raak Lolita siek en Humbert neem haar na ’n hospitaal, waar sy oornag. Hy verneem later met afgryse dat sy ontslaan is in die sorg van ’n “oom”, maar Humbert weet dat Lolita geen familie gehad het nie. Clare Quilty, ’n dramaturg wat ’n skoolverhoogstuk geskryf het waarin Lolita gespeel het, is die ‘ander man’ – en ook die enigste man wat Lolita liefgehad het. Dit blyk dat sy haar ouer minnaars gewetenloos teen mekaar afspeel; sý is die meesterbrein wat professor Humbert manipuleer met haar kinderlike en naïewe rollespel. Die karakters in Lolita sterf almal tragies. Lolita, wat wees gelaat is na haar moeder se dood, trek later by Quilty in, maar nadat sy weier om in ’n pornografiese film te speel, eindig sy weer op straat. In hierdie vernietigende liefdesintrige ontvang Humbert jare later ’n brief van die 17-jarige Lolita; sy is getroud, swanger, en het dringend geld nodig. Humbert skiet uit weerwraak vir Quilty dood omdat hy Lolita van hom afgerokkel het. Kort daarná sterf Lolita as gevolg van komplikasies tydens die geboorte van haar kind, en Humbert, wat tronkstraf uitdien vir die moord op Quilty sterf in die gevangenis as gevolg van koronêre trombose.
Gelukkig toon die letterkundeprofessor se liefdesintriges nie altyd ’n donker of disfunksionele kant nie. Op ’n ligter trant: In die film, The mirror has two faces (1996) vertolk Barbra Streisand die rol van ’n eksentrieke en alleenlopende letterkundeprofessor, Rose Morgan. Nadat sy ’n wiskundeprofessor ontmoet het deur middel van ’n webtuiste vir enkellopendes, ondergaan dié verslonsde akademikus ’n metamorfose om die nuwe man in haar lewe se aandag te trek. Hulle trou op voorwaarde dat hulle beste vriende sal bly, sonder enige erotiese affiliasies, maar Morgan ondergaan ’n skreeusnaakse metamorfose in haar poging om soos ’n prikkelpop te lyk. Ware liefde seëvier uiteindelik, maar die film lewer prikkelende kommentaar op beskouings rondom die liefde en feminisme.
Soos voorheen genoem, word Philip Roth se romans gekenmerk deur die representasie van die gekwelde letterkundeprofessor. Roth is bekend as skrywer wat ook bestaande grense op ideologiese wyse uitdaag, soos die kampusroman, The human stain (2000) wat in 2003 verwerk is tot film met Anthony Hopkins in die hoofrol as professor Coleman Silk, kenner van klassieke studies en gewese dekaan van sy fakulteit. Roth lewer kritiek op die Amerikaanse akademia en knellende kwessies soos rassisme, anti-semitisme en generatiewe konflik. Om alles te kroon, knoop dié 71-jarige professor ’n verhouding met ’n halfgeletterde 34-jarige skoonmaker aan. Die tema van die (veel ouer) letterkundeprofessor en jonger minnares vorm dikwels deel van die idiosinkrasie van hierdie protagonis.
Die gekwelde letterkundeprofessor daag bestaande ideologiese kwessies uit, óf word op meedoënlose wyse daarmee gekonfronteer. Op soortgelyke wyse ondersoek Etienne van Heerden se kampusroman, Asbesmiddag (2007) die marginale posisie van die skrywer/akademikus in die eietydse sosiopolitieke Suid-Afrika. Die fiktiewe romansier en professor in skeppende skryfkunde, Sebastiaan Graaff, lewer metafiksionele kommentaar oor die Afrikaneridentiteit, kulturele geheue, ras- en genderkwessies en die kwynende rol van die minderheidsintellektueel. Nóg ’n voorbeeld van die gekwelde letterkundeprofessor is David Lurie in J.M. Coetzee se Disgrace (1999), wat bekroon is met die Booker-prys en die Nobelprys vir Letterkunde en geen bekendstelling nodig het nie. Lurie se seksuele verhoudings en gepaardgaande verlies aan mag in ’n uitsiglose post-apartheid Suid-Afrika aktiveer velerlei ideologiese brandpunte.

In 1999 verskyn Janet Fitch se opspraakwekkende roman, White Oleander. Dit is ’n besonder poëtiese werk waarin die 15-jarige protagonis, Astrid, wees gelaat is nadat haar moeder, Ingrid Magnussen haar minnaar met selonsroosgif vergiftig en tronkstraf opgelê is. Die roman belig die meisie se trauma wanneer sy tussen jeugsorgsentrums en pleegsorg bly swerf en lewer mildelik literêre kommentaar op ander skrywers en digters se werk. Met die hulp van ’n knap advokaat fabriseer Magnussen jare later getuienis en word sy vrygelaat uit die gevangenis. Ingrid Magnussen, wat vóór die moord op haar minnaar bloot bekend was as minor poet, het ondertussen in die tronk ’n indrukwekkende reputasie as digter en literêre meningsvormer opgebou. Ná haar vrylating word sy – seëvierend – aangestel as letterkundeprofessor. White Oleander is ’n bittersoet memoir oor die pynlike en ambivalente liefde tussen moeder en dogter, soos vertel vanuit die perspektief van Astrid wat haar moeder se sielkundige mishandeling vir jare moes verduur. Die roman is in 2002 verwerk tot film met Michelle Pfeiffer in die rol van Ingrid Magnussen. Die romansier, Janet Fitch het enkele van die fiktiewe gedigte, wat Magnussen geskryf het, opgeneem in hierdie roman.
After all the fears, the warnings
After all
A woman’s mistakes are different from a girl’s
They are written by fire on stone
They are a trait and not an error…
White Oleander. Janet Fitch / Ingrid Magnussen, p. 120.
Asook:
Shhh
Astrid’s sleeping
Pink well of her wordless mouth
One long leg trails off the bed
Like an unfinished sentence
Fine freckles hold a constellation of second chances
Her cowrie shell
Where the unopened woman whispers…
White Oleander. Janet Fitch / Ingrid Magnussen, pp. 60 – 61
Die soeklig val op ’n linguistiekprofessor se belewenis van siekte in die dramafilm, Still Alice (2014). Die protagonis, Alice Howland (vertolk deur Julianne Moore) ontvang ná haar 50ste verjaardag die tyding dat sy aan Alzheimer-siekte ly. Die film is gebaseer op Lisa Genova se 2007 gelyknamige roman. Laasgenoemde was aanvanklik ’n selfpublikasie, maar dié roman is later gepubliseer deur Gallery Books waarna dit vir langer as 40 weke op die The New York Times Best Seller List geboer en onder meer bekroon is met die Bronte Prize. Die roman en film fokus op ’n dieper besinning rondom die dimensies van taal. Die hoofkarakter voer ’n stryd om haar waardigheid te behou te midde van haar vernietigende siekte – en die kwynende mag van woorde, in die uitdrukking en definiëring van die self. Moore self het toekennings ontvang as beste aktrise in ’n hoofrol vir hierdie sensitiewe vertolking.
Nog ’n genietlike film, (weliswaar met ’n swakker resepsie as Still Alice), handel oor ’n letterkundeprofessor se persoonlike stryd teen longkanker in The Professor (2018), met Johnny Depp in die hoofrol. Nadat Richard Brown die verdoemende tyding, dat hy ses maande oor het om te leef, ontvang het, bring hy sy laaste dae deur in ’n waas van voorskrifmedikasie, dagga en drank. Hy verneem dat sy vrou ’n verhouding met die dekaan van sy fakulteit het (’n man met drie testikels), en dat sy gay tienerdogter ’n liefdesteleurstelling gehad het. Omdat sy gesin se probleme skynbaar swaarder weeg as sy eie, weerhou hy die nuus van sy longkanker van hulle. Die film is getint in donker humor en Brown rebelleer teen sy eie lewe en dood, teen akademiese burokrasie – en die film eindig ambivalent met die suggestie dat hy moontlik selfmoord gepleeg het.
In hierdie blog is slegs enkele romans en films belig wat ten doel het om die kompleksiteit van die letterkundeprofessor as gekwelde individu te beskryf. Die lys is nog lank. Mens dink byvoorbeeld aan French se The Bleeding heart, Reynard se Gabriel’s Inferno, of Nabokov se Pnin. Die letterkundeprofessor funksioneer as ’n argetipe en tipiese persoonlike kwellinge betrek onder meer eksistensiële uitdagings soos veroudering, dikwels met gepaardgaande verhoudings met jonger persone, soos studente; ideologiese en akademiese vraagstukke wat hierdie persona op ’n menslike, dog ingrypende wyse kwel; die rol van estetika, wat ’n belangrike rol in die vergestalting en begrip van hierdie individue speel – eienskappe wat kulmineer in atipiese en komplekse karakters wat met genadelose deernis hulle weerlose skadukant aan ander wys.
Verwysings:
Coetzee, J.M. 1999. Disgrace. Londen: Secker & Warburg.
Elegy. Samuel Goldwyn Films. Rolprent. 2008.
Fitch, J. 1999. White Oleander. New York: Back Bay Books.
Lolita. The Samuel Goldwyn Company. Rolprent. 1997.
Nabokov, V. 1955. Lolita. Parys: Olympia Press.
Roth, P. 2001. The Dying Animal. Boston, Massachusetts: Houghton Mifflin.
Roth, P. 2000. The Human Stain. Boston, Massachusetts: Houghton Mifflin.
Still Alice. Sony Pictures Classics. Rolprent. 2014.
The Human Stain. Miramax Films. Rolprent. 2003.
The Mirror Has Two Faces. TriStar Pictures. Rolprent. 1996.
The Professor. Saban Films. Rolprent. 2018.
Van Heerden, E. 2007. Asbesmiddag. Kaapstad: Tafelberg.
White Oleander. Warner Bros Pictures. Rolprent. 2002.
