Resensie: “Grondstof” deur Helena Ewert. 2022. Oudtshoorn, Turksvy Publikasies.
Resensent: Ihette Senekal
In 2022 publiseer die Oudtshoorn onderwyser, Helena Ewert, haar debuutbundel by haar plaaslike uitgewer, die onafhanklike Turksvy Publikasies. Die keuse van uitgewer laat ʼn mens onmiddellik wonder waarom die verse nie verskyn het by ʼn gevestigde uitgewershuis nie. Turksvy Publikasies adverteer hulle dienste as “redigering, versorging, uitleg en onafhanklike publikasie van boeke”. Die vraag is egter op watter literêre- en tegniese vaardigheidsvlak die redigering van hierdie aanbod gedoen word. Ewert se grondstof gee hiervan vir die leser ʼn aanduiding.
Op die agterplat van grondstof stel Daniel Hugo: “Die gedigte in hierdie debuutbundel is deurdrenk van die aardse oer-elemente en die seisoene. Helena Ewert skep haar gedigte uit dié grondstof. Die woorde kry ʼn tasbaarheid, sigbaarheid en hoorbaarheid, ʼn liggaamlikheid, waarmee sy ook die liefde besing. Sy gaan met woorde om soos ʼn skilder met kleure, ʼn komponis met klank en ʼn beeldhouer met klei. Die leser word oorweldig deur die ryk sintuiglikheid en woordweelde van hierdie fyn afgewerkte verse.”
Ek kan egter nie sê dat ek heeltemal akkoord gaan met bogenoemde beoordeling van Hugo nie. Vir my is die verse wel “deurdrenk” en word ek as leser wel “oorweldig”, maar dit is ongelukkig nie in die positiewe sin van hierdie terme nie. Losweg kan die gedigte in grondstof onder drie groepe verdeel word. Die eerste groep gedigte gaan gebuk onder ʼn deurdrenktheid, ʼn stortvloed van byvoeglike naamwoorde en onsamehangende beelde. Die tweede groep toon potensiaal deur ʼn onverwagse goeie strofe hier en helder beeld daar. Die derde groep is die ligpunte van die bundel en meer daarvan sou ʼn veel beter eindproduk kon lewer.
Die gedigte in hierdie bundel wat nie slaag nie, word gekniehalter deur die feit dat die skrywer met tye nie twee grondkonsepte van die skryfkuns nakom nie, en dit is “kill your darlings” en “show, don’t tell”. Daar is eenvoudig te veel beskrywende woorde, opeenhoping van beelde en woorde wat vir die leser sê wat om te lees. In die geval van “sakrament” (13) sou die gedig meer subtiel betekenis kon oordra as óf die titel, óf die slotreël weggelaat is. Dit sou die leser kon toelaat om self uit die inhoud van die gedig te kon aflei dat die spreker se liggaam die sakrament is wanneer daar gestel word “ek proe die verstaan in jou mond / gee myself sonder voorbehoud / voer myself diep in die donker van jou in”. Nog ʼn voorbeeld is die gebruik van die woord “rou” in die slotreël van “ooglid” (16). Om te verwys na “rou wond” in plaas van net “wond” grens aan soetsappige woordoordaad. So ook die slot van “weerbarstigheid” (18) waarin dit onduidelik is waarom die laaste twee strofes ingesluit is, aangesien dit nie tot die betekenis van die gedig bydra nie. Die reeks “drie vriendskapsverse” is dalk ʼn laagtepunt in hierdie bundel. Die verse is mooi en het wel ʼn plek, maar die plek is nie ʼn literêre digbundel nie, eerder ʼn verjaarsdagkaartjie of vriendskaplike brief.
Die tweede groep gedigte wys dat die digter wel potensiaal het en heelwat sou baat by vaardiger redaksionele leiding. Die meeste van die gedigte sou veel meer gewig gedra het indien ʼn stroping van onnodige “darlings” onderneem is. Soms is daar ʼn strofe wat eenvoudig weggelaat kon word, omdat dit oorsê wat reeds deur poëtiese middels gesuggereer word, neem byvoorbeeld die weglaatbare strofe “ry die dood na / skryf op wat verbygaan / nie behoue bly nie” (“nieleef”, 85).
Die twee gedigte “Outeniqua, November 2018” (59) en “Outeniqua, Desember 2020” (60) wat handel oor bergbrande sou beter by mekaar aangesluit het as die slotreël van die eerste gedig eerder gelees het “hurk net in homself in” as “hurk net in homself / in rou”. Die tweede gedig eindig met die woorde “ – vou die lyne oop vir die ongeskrewe weet – / die onbeperkte / die vrygespreekte / die vrymoedige / kniel steeds in die berg in” (my kursivering). Indien die gedig onder meer van die drie woorde in skuinsdruk gestroop word, sou dit die progressie vanaf “Outeniqua, November 2018” na “Outeniqua, Desember 2020” beter kon illustreer en meer implisiete betekenis kon suggereer.
Hoogtepunte in die bundel is “aan-bid” (14), alhoewel die nut van die koppelteken in die titel vir my duister is. Dié gedig wys die spore van die Kalahari en iets van die “aardse oer-elemente” waarna Hugo verwys. Daar is ook die erotiese gedig “intimiteit” (52), waarin betekenislae verskuil word in slegs nege woorde (waaruit die gedig as geheel bestaan) en bewys dat die digter wel betekenis kan skep sonder om die leser te oorweldig met beskrywende woorde.
Daar is ook dikwels gedigte waarin enkele strofes of versreëls dien as ligpunte in die bundel, soos in die bundel se slotgedig met die strofe “terwyl krans en klip tydloos verweer / is die oomblik genoeg om net blom te wees / knop word kelk word kroon / vou son toe oop”. In hierdie (op die oog af) eenvoudige strofe word vele van die bundeltemas uitgebeeld, soos die klem op die natuur en die verweer van die natuur, groei en lewe, die lig in die donker.
Vriendskap is een van die temas wat deurlopend in die bundel aangebied word en wat sorg vir van die minder geslaagde en ook van die mees geslaagde gedigte. Voorbeelde van laasgenoemde is “grondaard” (19), “reis” (28) en “pastoraat” (68). Al drie hierdie gedigte belig die nuanses van die digterspreker se vriendskapsverhouding met “Hantie” (“vir Hantie”, 68). Volgens Wahl (2022) is “die kunstige voorblad van [grondstof] ‘n foto wat sy [Ewert] by Lategansvlei van aalwynblare geneem het. Die foto is deur haar vriendin Hantie, ‘n universiteits-vriendin verwerk. Hantie en Ewert deel ‘n besonderse vriendskap, al sedert hulle universiteitsdae, en al woon Hantie in Nederland, deel hulle graag hierdie dig-passie en put inspirasie van mekaar.”
In afsluiting is dit ʼn bundel van kontraste. Tematies bestaan die kontraste van lig en donker, natuur en mens, binne en buite, geskiedenis en hede, platoniese vriendskap en erotiese liefde. Die digter slaag wel daarin om uit te beeld dat elkeen van hierdie opposisies aan mekaar verknog is en noodwendig saambestaan. Daar bestaan egter ook kontraste in terme van literêre gehalte, iets wat deur slyping, stroping en redigering tot groter gelykheid gebring kan word. Die digter self stel dat as branders breek / word ver-taalde voel / die vloed van verse” (73), en dalk is dit juis waarteen daar gewaak moet word. ʼn Vloed van verse is nie noodwendig goed nie. Geen onbeheersde watermassa het positiewe gevolge nie, maar water wat gerig word en mee gewerk word, gee lewe.
Dr Ihette Senekal
Unisa
Bronne:
Wahl, Sonia. 2022. EERSTE DIGBUNDEL UIT ‘GRONDSTOF’ VIR HELENA EWERT. Oudtshoorn Courant, 18 November. https://www.oudtshoorncourant.com/News/Article/General/eerste-digbundel-uit-grondstof-vir-helena-ewert-202211171130
Die motivering vir my kwalitatiewe uitspraak oor die bundel, Mellet, staan in die aangehaalde agterplatteks.
Ek het nie die bundel gelees nie. Ek lewer egter kommentaar op die manier waarop die resepsie daarvan hier op Versindaba uitspeel.
Ek verstaan die problematiek rondom ‘n relatief nuwe firma wat ‘n reputasie wil vestig as ‘n vooraanstaande uitgewer. Dit lyk vir my dat dit in die eerste paar jaar met suksesvolle, en soms minder suksesvolle projekte gepaard gaan. Die reputasie van die uitgewer word uiteindelik bepaal deur beide die finansiële volhoubaarheid; en die gehalte van die boeke wat uitgegee word. Laasgenoemde is ‘n funksie van die resepsiegeskiedenis van die boeke. Dit neem baie deursettingsvermoë; ‘n paar bloedneuse; en finansiële hulpbronne om uiteindelik in die kanon erkenning te geniet as so ‘n vooraanstaande uitgewer. Turksvy Publikasies het al suksesse behaal met “Maskers en Mure” en “Polkadraai” (laasgenoemde is uiters positief ontvang). Ek dink egter dis onafwendbaar dat daar ook teleurstellings sal wees en lesse wat geleer word. Ná publikasie is boeke immers in die publieke domein, dan het nóg die uitgewer, nóg die skrywer enige beheer oor die pad wat ‘n boek loop. Dit is ‘n soort dobbelspel: jy kan nie aandring op die wins as jy nie ook bereid is om in te betaal as die dobbelsteen nie in jou guns val nie.
Ek neem byvoorbeeld Naledi wat ook hierdie pad geloop het. Hulle het mettertyd sekere fokusareas hulle eie gemaak en hulle reputasie toon deesdae ‘n duidelike opwaartse neiging. Dit het ook seker ‘n paar bloedneuse geneem, maar ek dink hulle verdien ‘n pluimpie vir die manier waarop hulle terugslae verwerk het, lesse geleer het en voortgebeur het.
Wanneer ek na Turksvy se webruimte kyk, verstaan ek die dilemma van Dr Senekal, naamlik dat die uitgewery homself in hoofsaak fokus op beginners wat hulp nodig het om ‘n eerste (self?)publikasie te loods. Dit veroorsaak verwarring dat die firma enersyds selfpubliseerders help, maar andersyds ook aspirasies het om ‘n vooraanstaande uitgewer te wees. Miskien kan Turksvy oorweeg om ‘n duideliker onderskeid in hulle sakemodel te tref.
Dalk was die bedoeling dat hierdie boek eerder een van bogenoemde selfgepubliseerdes moes wees en nie geresenseer moes word nie, maar na jou kommentaar, Daniel, verstaan ek dat dit wel verby jou ervare keurdershand is en dus as letterkunde aangebied is. Ek vind dit verwarrend. Eerstens, omdat ek onseker is of jy as ‘n onafhanlike keurder beskou kan word agv jou huwelik met een van die eienaars. Tweedens lees ek dat jy, as keurder, na vore tree en ná die resensent, die laaste woord spreek. Jy het tog jou rol voltooi en die boek moet vir homself praat. Laastens lig jy ons in dat dit ‘n goeie bundel is sonder om dit enigsins te motiveer.
Ek reageer nie slegs na aanleiding van reaksies wat op hierdie plasing en ander plasings verskyn het nie, maar ook na aanleiding van e-posse en gesprekke wat ek oor die jare met poësieliefhebbers, literatore en leke gevoer het en ook vanuit my ervaring van baie dekades as beroepsletterkundige. Ook na aanleiding van gesprekke oor die resensie hierbo.
Dit is ‘n wanpersepsie dat die Letterkunde op sy beste ‘n stokperdjie is wat deur enige persoon met genoeg belangstelling beoefen kan word. Natuurlik is lees en die waardering van goeie letterkunde vir baie mense ‘n wonderlike stokperdjie, soos sterrekyk byvoorbeeld vir talryke mense is wat nié professionele sterrekundiges is nie. Die probleem is egter dat die grens tussen lees as stokperdjie en die beoefening van literêre teorie deur beroepsletterkundiges dikwels vervaag en dat leke hulleself dan aanmatig om uitsprake oor ‘n vakgebied te maak waarbinne hulle geen beroepservaring het nie, en dan boonop verwag dat hulle ernstig opgeneem word. Net so absurd as wanneer ons as letterkundiges buite die operasieteater sou staan en die ortopediese chirurg raad gee en uitskel oor die prosedure wat hy volg sonder dat ons die vaagste idee van anatomie of die spesialisterrein van die medikus het.
Net soos Wiskunde, Fisika, Geografie, Farmasie, Sielkunde en honderde ander professionele rigtings hulle eie teorieë het wat die vakgebied kenmerk en aan die hand waarvan dit bedryf en beskryf word, so het die letterkunde ook teorieë aan die hand waarvan (byvoorbeeld) literêre tekste ontleed, beoordeel en bespreek word. Eweknieë kan met mekaar in gesprek tree oor mekaar se praktyk aan die hand van dié teorieë. Wanneer daar dus op ‘n literêre forum soos “Versindaba” kritiek uitgespreek word oor gedigte, artikels en resensies, behoort die persoon wat kritiek uitspreek te kan aantoon waar die skrywer gefouteer het, watter teorie verkeerd of onwaarskynlik geïnterpreteer is of watter aantoonbare foute daar in die skrywer se teks of argument voorkom; watter foute die digter begaan het of waarom ‘n gedig nie werk nie. Om bloot te sê ‘n bepaalde resensie/artikel is kwaadwillig, swak, oningelig of afbrekend; om slegs te beweer dat ‘n bepaalde literêre werk “goed” is, is nie ‘n wetenskaplike manier om oor teksresepsie te praat nie. Wanneer ‘n mens die bewering maak dat ‘n resensie/artikel/blog/gedig “goed”, “swak”, “lelik” of “mooi” is, moet die stelling met ‘n rede gepaard gaan wat (soos in Wiskunde/Fisika/ die Regte, ens.) wetenskaplik verantwoordbaar is en behoort so ‘n stelling die denksprong wat dit onderlê, openbaar te maak (m.a.w. “hoekom sê ek so?”). Veral as afbrekende kritiek gelewer word – natuurlik!
Daarmee wil ek geensins poësieliefhebbers se monde snoer nie. “Versindaba” is ‘n plek vir alle poësieliefhebbers en hulle menings. Sê gerus wat vir jou mooi is, waarvan jy nie hou nie, wat jou pla … Wat ek egter wel probeer vra, is dat ons professionele literêre kritiek aan literatore oorlaat en nie suiwer op subjektiewe voorkeure resensente en ander skrywers wat hulle beroep “volgens die reëls” beoefen, sal kritiseer en veroordeel op subjektiewe, meestal oningeligte gronde nie. Op dieselfde manier waarop ek as letterkundige nie ‘n ortopediese chirurg sal kritiseer en hom as onbevoeg verklaar omdat hy ‘n bepaalde prosedure verkies bo ‘n ander een wat ek nie verstaan nie. Soos wat dit vandag belaglik is om te sê Picasso kan nie mooi teken nie. Dat ons dus stokperdjie en praktyk van mekaar sal skei, dat ons sal besef dat dit altyd gevaarlik is om grense oor te steek (ook die grens tussen leke en vakkundiges). Dat ons nie sal probeer praat met die stem van ‘n vakkenner as ons dit nie is nie. Dat ons nie eise aan ‘n kunswerk of ‘n skrywer sal stel wat nie eie is aan die genre waarin dit geleë is nie.
Marlies Taljard: Inhoudsbestuurder, Versindaba
Jan Schoeman, miskien moet jy maar eers Helena Ewert se bundel lees en ‘n eie oordeel oor die gehalte daarvan fel voordat jy allerlei afleidings maak. Ek het nie net die agterplatteks geskryf nie, maar het ook as keurder en redakteur opgetree. Dit is ‘n goeie bundel.
Terloops, elke letterkundige sisteem is as geheel ‘n “echo chamber” – veral ‘n klein sisteem soos die Afrikaanse digkuns.
En daar val dit nou mooi in plek! Met verwysing na jou Wikipedia-blad (https://af.m.wikipedia.org/wiki/Hannes_Visser) kan mens verhelderende afleidings maak. Jy, Marlene (Malan) en Daniel (Hugo) het op “grondstof” se meriete besluit en is dalk skuldig aan wat die byderwetses vandag ‘n ‘echo chamber’ noem. G’n wonder dat jy so van die resensent verskil nie…
Hannes, jy begin jou terugvoer sinvol deur op die resensent se kundigheid en ervaring te dui. Verder gee jy ook deeglike konteks deur jouself as die uitgewer te identifiseer. As iemand wat self uitgewer is (beide in voltydse en vryskuthoedanigheid), het ek self paar notas en vrae vir jou.
1) M.b.t. jou eerste (nederige) vraag: is hierdie “uitstekende” publikasies nie juis by Turksvy uitgegee omdat dit nie elders kon geluk nie? Mens sal waarskynlik elkeen van hierdie resensies (en die resensente daarvan) vir geldigheid en “objektiwiteit” moet nagaan.
2) Wat jou ander vraag aanbetref: iemand wat “internasionaal” gewild is, is nog nie ‘n kenner (in terme van nie-fiksie en akademiese werke) of literêr nie. Hierdie individue het dit dalk nie by gevestigde huise gemaak nie omdat daar nie aan (hulle) bepaalde kriteria voldoen is nie?
3) In die onafhanklike uitgewerswese is die uiteindelike – ten minste deurslaggewende – vereiste dat die persoon wat self uitgee die betrokke koste moet kan betaal. Dit beteken nie dat ons nie van ewekniebeoordelaars en dies meer gebruik maak nie, maar dat hierdie oorwegings uiteindelik nie vereis (hoef te) word nie.
Ek’t nie gelees dat julle geloofwaardigheid betwyfel word nie, maar is tog nou nuuskierig oor wat julle manuskripontwikkeling en gehaltebeheer vir kreatiewe uitsette soos digkuns behels!
Anders gestel: Jy is miskien bietjie … sensitief oor hierdie publikasie – veral vreemd met inagname van al die veronderstelde treffers uit julle stal.
Beste Jan,
dankie vir jou kommentare. Ek reageer sommer hier op albei. Dit is effe duister hoe “alles in plek val” met die lees van die Wikipedia-inskrywing oor my en hoe dit jou tot “verhelderende afeidings” laat kom het. (Terloops, kan afleidings verhelderend wees? Is afleidings in wese nie bloot afleidings en nie juiste insigte nie?) M.b.t. my Wikipedia-blad het jy ‘n voordeel bo my, want ek kon nie ‘n verwysing na jou op die internet vind om my te help met konteks nie en ek het dus nie ‘n stuk gereedskap om “alles in plek” te laat val nie. Jy weet kennelik baie meer van my as ek van jou.
Omtrent alles in die lewe gaan oor konteks en oor aannames. Die konteks waarteen ek my reaksie op die resensent se verwysing geskryf het, is in die eerste plek die samestelling en werkswyse van Turksvy Publikasies, in die tweede plek die fisiese bundel en die pad wat dit en die digter oor meer as ‘n jaar geloop het en wie die medewerkers was. In die derde plek is my konteks die resensie wat verskyn het. Ek lei af dat jou konteks my reaksie is en my Wikipedia-profiel. Op grond van konteks word aannames gemaak – onder andere jou aanname oor wie besluit het oor die bundel en dat die internasionale persoon waarna ek verwys, internasionaal “gewild” is met geen literêre kennis nie – wat ‘n flagrante aanname. Ek het ook nie na “uitstekende” publikasies verwys nie, wel na “uitstekende resensies”.
Ek was tot nou nie bekend met die begrip “echo chamber” nie, maar ek begin wel die begrip “ego-chamber” snap. Sou ons ons in ‘n “echo chamber” bevind sou die chamber effens groter moet wees om meer as drie mense te akkommodeer en as ek die pasverskene resensie op Litnet oor die internasionaal erkende letterkundige prof.Jerzy Koch van Pole, se bundel, Polkadraai, lees voel ek glad nie sleg dat my tuiste ‘n “echo chamber” is nie en voel ek myself heel gemaklik daar, want ek ken gelukkig die huisreëls en die etos. Groete
Lyk my na ‘n klassieke geval van ‘n swak resensent skryf ‘n swak resensie oor ‘n swak boek en vind dit swak.
Ek weerhou my normaalweg van kommentaar op resensies aangesien ek glo dat digbundels se resensies behartig word deur kenners op die gebied en ek aanvaar ook dat talle resensies ‘n mate, en dikwels ‘n ruim skoot van subjektiwiteit bevat. Ek gaan dus nie kommentaar lewer op die resensent se ervaring van en uitsprake oor die digkuns nie. Ek aanvaar dit is haar kundige oordeel en dat sy vir ‘n resensie genader is omdat sy ‘n deurwinterde poësieresensent is en reeds talle digbundels geresenseer het. As uitgewer word ek egter deur die persoonlike en myns insiens oningeligte uitlatings van die resensent ten opsigte van die uitgewery genoop om te reageer. Dr Senekal stel die volgende: “Die keuse van uitgewer laat ʼn mens onmiddellik wonder waarom die verse nie verskyn het by ʼn gevestigde uitgewershuis nie?” en dan word oor die dienste van die uitgewery uitgebrei.
Ek wil graag aan Dr Senekal ‘n teenvraag vra: Waarom het ander boeke, nie slegs digbundels nie, wat by Turksvy Publikasies verskyn het en uitstekende resensies ontvang het, nie by sogenaamde “gevestigde uitgewershuise” verskyn nie? Waarom is selfs internasionale digters wat tans groot aandag geniet, deur “gevestigde uitgewershuise” afgekeur? Ek sal nie weet nie. Tog is dit vir die resensent ‘n belangrike kwessie om die uitgewer se geloofwaardigheid te bevraagteken. As deel van die resensie word ‘n koerantberig in ‘n gemeenskapskoerant wat verwys na die vriendskap van die digter met die vriendin wat die voorbladfoto verwerk het, as ‘n “bron” gebruik. Wat is die relevansie daarvan ten opsigte van die resensie? (Terloops – ek is nie ‘n proefleser nie – maar ek vermoed dit is universiteitsvriendin en nie universiteits-vriendin nie)
Ek weerhou my normaalweg van kommentaar op resensies aangesien ek glo dat digbundels se resensies behartig word deur kenners op die gebied en ek aanvaar ook dat talle resensies ‘n mate, en dikwels ‘n ruim skoot van subjektiwiteit, bevat. Ek gaan dus nie kommentaar lewer op die resensent se ervaring van en uitsprake oor die digkuns nie. Ek aanvaar dit is haar kundige oordeel en dat sy vir ‘n resensie genader is omdat sy ‘n deurwinterde poësieresensent is en reeds talle digbundels geresenseer het. As uitgewer word ek egter deur die persoonlike en myns insiens oningeligte uitlatings van die resensent ten opsigte van die uitgewery genoop om te reageer. Dr Senekal stel die volgende: ” Die keuse van uitgewer laat ʼn mens onmiddellik wonder waarom die verse nie verskyn het by ʼn gevestigde uitgewershuis nie?”
Ek wil graag aan Dr Senekal ‘n teenvraag vra: Waarom het ander boeke, nie slegs digbundels nie, wat by Turksvy Publikasies verskyn het en uitstekende resensies ontvang het, nie by sogenaamde “gevestigde uitgewershuise” verskyn nie? Waarom is selfs ‘n internasionale digter wat tans groot aandag geniet deur “gevestigde uitgewershuise” afgekeur? Ek sal nie weet nie.Tog is dit vir die resensent ‘n belangrike kwessie om die uitgewer se geloofwaardigheid te bevraagteken. As deel van die resensie word ‘n koerantberig in ‘n gemeenskapskoerant wat verwys na die vriendskap van die digter met die vriendin wat die voorbladfoto verwerk het, as ‘n “bron” gebruik. Wat is die relevansie daarvan ten opsigte van die resensie? (Terloops – ek is nie ‘n proefleser nie – maar ek vermoed dit is universiteitsvriendin en nie universiteits-vriendin nie)