(ʼn Ondersoek na/van water in die werk van NP Van Wyk Louw, Breyten Breytenbach en Magmoed Darwiesj)
Inleiding
Water gee ons nie nét lewe nie, die grootste gedeelte van wat ons ís bestaan uit water. Water is nie net die oorsprong van lewe nie, dit is ook ʼn noodsaaklikheid vír lewe. Die gang van die lewe is vloeibaar soos water. Alles in die kosmos – soos water – is in konstante wisseling. Dit is hierdie wisseling wat die oorsprong van moontlikhede is. Vir iets om voort te vloei uit niks moet daar beweging wees. ʼn Taal wat uitreik na beide digter en leser. ʼn Gedig wat altyd deur die niet na die leser onderweg is. Van stroompie na rivier én van rivier na die see. Álles wat deel uitmaak van ʼn groter geheel maar tog konstant vloei en verbind is aan mekaar. Water word dan ook – hetsy as beeld, simbool of metafoor – heel dikwels in die digkuns gebruik.
Herakleitos van Efese se epistemologie bestaan in sy grote uit twee hoof-komponente: 1) dat die wêreld in konstante wisseling, verandering of vloei is; en 2) dat alles, in wese, uit twee teenpole bestaan wat dan op sigself as groter eenheid aan mekaar verbind is, met ʼn uiteinde dat alles – in werklikheid – Een is. Hierdie filosofiese benadering kom dan ten sterkste ooreen met vier (van die sewe) hoofbeginsels waaruit die hermetiese leer bestaan, synde dat die “Alles” in alles, vibreer; dat alles twee polêre punte het én dat alles ʼn ritme – kom ons noem dit – ʼn lewensritme het.
Water se vloeibaarheid en sy alles-omvattende sisteem van strome, riviere en oseane – wat aan mekaar verbind is – toon sterk ooreenkomste met Herakleitos se epistemologie soos wat aangetoon word in Louis Esterhuizen se bundel Wat die Water Onthou (2010). Die bewuswees van water as element van alles wat lewe op aarde en die feit, aldus Herakleitos, “dat die roete op en die roete af dieselfde is” (Taljard 2010). Ek haal een van openingsgedigte aan:
dat herakleitos reeds aan die begin
daarop gewys het dat dit nie moontlik is
om dieselfde stroom twee keer
te betree nie, dat water nooit terug-
draai nie, maar te alle tye alles opneem
en onthou, aangesien elke klip,
elke gleuf en worsteling
saamgesleep moet word
na die geheue se uiteindelike
verdwarrelling
met die groter water
sonder vaart
(2010:12)
Water kan verbind word met poëtiese realiteit of dan nie-realiteit, die droomtoestand van dit wat is – maar ook nie (daar) is nie, want iets kan slegs begin as dit nié is nie – en om nie te wees nie, moet verbeel word om nié te wees nie: om dan in die verbeelding vry te val; te vloei, tot dit wat ons woorde noem, met die uiteinde van gedigte.
Die artikel wil water as beeld en/of simbool en/of moontlik as metafoor van iets groter ondersoek met verwysing na ʼn paar gedigte in die oeuvre van Breyten Breytenbach en NP van Wyk Louw asook die Afrikaans vertaalde werk van Magmoed Darwiesj. Die idee is om ʼn opstel van Gaston Bachelard, Water and Dreams (an essay on the imagination of matter) prakties toe te pas op hulle werk en dit dan in verband te bring met Herakleitos se epistemologie en die genoemde hermetiese beginsels in ʼn poging om die volgende vrae te beantwoord:
Kan water soos wat dit aanwending vind in die werk van die digters soos geïdentifiseer:
- op metaforiese vlak lig werp op die alles-oorkoepelende en interafhanklike verhouding tussen mense, wat dan as sulks ook die verhouding tussen digter en leser omvat?
- lig werp op ʼn omgekeerde wisselwerking waar water as beeld/simbool/metafoor nié net ʼn effek op die gedig het nie, maar dit éérder die gedig is wat ʼn effek kan hê op (die) water?
Teoretiese Begronding
Herakleitos se epistemologie is gebaseer op ʼn hele aantal bondige sêgoed wat denkers dan moes/kon gaan toets aan die orde van sy dag. Een van die bekendste is volgens Barnes (1979:49) dat alles vloei en nooit rus nie. En dan ook die aanname dat as gevolg van – onder andere – die polêre aard van alles, dat alles onderling aan mekaar verbind is (1979:54). Die algemene herakleitiese denkwyse (soos vervat in dié sêgoed en hulle verduideliking) kom sterk ooreen met beginsels wat ʼn hermetiese oorsprong het. Volgens Three Initiates (2010:12) omvat die beginsel van vibrasie die waarheid dat alles beweeg, dat alles vibreer en dat niks rus nie; die beginsel van polariteit dat alles, in wese, twee is, dat elke ding twee pole het, of dan ʼn teenpool het (2010:13); die beginsel van ritme dat alles ʼn konstante ritme het, ʼn vorentoe en agtertoe, ʼn eb en vloed – wat dan die twee teenpole met/aan mekaar verbind (2010:14); én dan voorts dat alles deel is van ʼn groter geheel wat as gevolg van – onder andere – vibrasie, polariteit en ritme – konstant in wording is (2010:25).
Gaston Bachelard wys daarop dat daar ʼn sterk verband is tussen die heraklitiese benadering van vloei (en die wisseling daarvan) en die menslike lot wat in verband gebring kan word met water in sy vloeiende aard (1983:6). Dit kan dan uiteraard, soos hierbo verduidelik, in verband gebring kan word met ʼn hermetiese benadering. In dié opstel verduidelik Bachelard dat verskillende ‘tipes’ waters ʼn effek het op die verbeelding en dat dit dan gevolglik ʼn uitwerking het op die literatuur. Hy klassifiseer stil water, strome en riviere as ‘vroulik’ (1983:14), terwyl meer onstuimige water – soos die see – geklassifiseer word as ‘manlik’ (1983:15). Én dan voorts dat water in sy aksie as substans ʼn substansiële wording kan vergestalt (1983:142). Ook dat water in sy vorm as simbool alles aan mekaar kan bind (1983:148). Wééreens die ooreenkomste met die heraklitiese en hermetiese benaderings (soos uiteengesit).
As ʼn mens dié benaderings beskou teen die seildoek van wat Marilet Sienaert aandui oor die digkuns van Breyten Breytenbach dan blyk daar duidelike ooreenkomste te wees: synde die feit dat die gedig in ʼn ewigdurende toestand van vloei is en in konstante wording (becoming) [1993:23]. Hierdie ‘wording’ sluit volkome aan met die verduideliking van die kosmos en hoe dit funksioneer soos uiteengesit in die Engelse vertaling van die Corpus Hermeticum:
“… once it has come to be, it exists forever, but it exists in becoming and comes to be forever as the becoming of qualities and quantities; for it is subject to movement, and every motion of matter is becoming.” (1992:32)
Die tantriese aspek van polariteit, byvoorbeeld, is dan ook welbekend in Breytenbach se werk (sien byvoorbeeld Strydom 1986:6): synde die feit dat alles uit twee (teen)pole bestaan wat aan ʼn groter een-heid verbind is.
Die aspek van vloeibaarheid, en die beeld van water en die see, is dan ook beelde wat op simboliese vlak sterk aanwending vind in die werk van NP van Wyk Louw (Olivier 1985:199). Beide Breytenbach en Van Wyk Louw is voorheen geïdentifiseer as simboliste (sien Viljoen 1992:15). Alhoewel Sienaert van mening is dat Breytenbach eerder ‘beelde’ in sy werk gebruik en dat hierdie ‘beelde’ nie noodwendig ʼn simboliese strekking het nie (Sienaert 1993:24). Ampie Coetzee is van mening dat Breytenbach meester is in die gebruik van die metafoor (Coetzee 2009:150).
Die vraag is, kan die gebruik van die beeld van water en die see – en die vloeibaarheid dáárvan met inbegrepe die teorie soos genoem – ook in verband gebring word met die Afrikaans vertaalde werk van Magmoed Darwiesj? Én kan enige moontlike ooreenkomste, of samehorigheid dan eerder, ondersoek word om die vraagkompleks te beantwoord?
Die Rimpel-effek van water (as beginpunt): in die werk van NP van Wyk Louw
NP van Wyk Louw se Nuwe Verse begin met ʼn kort gedig (sonder titel) waar ʼn klippie in die water plof:
Nog eenmaal wil ek in die skemeraand
weer op ons dorp en by ons dorpsdam staan,
weer met my rek óp in die donker skiet,
en luister, en al word ek seer en dof,
hoe die klein klippie ver weg in die riet
uit donker in die donker water plof
(1954:1)
Hier is ʼn perfekte voorbeeld van die leser wat die beeld oproep van iemand wat met ʼn kettie ʼn klippie in die water skiet. Hoe die klippie in die water ‘plof’, waarná die rimpels stadig uitkring vanaf ʼn middelpunt na buite. Die beeld wat opgeroep word vind dadelik aansluiting by Gaston Bachelard se opstel, Water and Dreams (an essay on the imagination of matter), waar daar reeds in die voorwoord aangedui word dat: die meer geskikte boek oor water die beeld sal wees van iets wat uit rimpel vanaf ʼn middelpunt en wat dan konstant die manier waarop ons (dinge) sien uitbrei (1983:viii). Dié beeld van water – en die (uit)kringende en vloeiende aard daarvan – word dan verder in dié bundel uitgebrei. In Die Doper in die Woestyn kom die twee teenpole van ʼn droë woestyn en die aspekte van water – en sy vloeibaarheid – sterk na vore. Miskien om ons menslike kleinheid met die Goddelike grootheid te vergelyk? Die twee teenpole van die Een. Die tempering van ons bose aard in die hand van die Goddelikheid met die uiteinde dat dit ‘die watere [is wat] straal en soek.’ Ek haal ʼn paar van die gedig se strofes aan:
… soos op U mere, en gee
vir ons woestyn, woestyn,
en laat U nugter winde vee; …
… my dwaasheid sou nie weet of gis
hoe hierdie dor woestyn verlang,
hoe heilig al die watere is. …
… die sand is wit verborge vuur
die watere is heiliger
en reik na ons op, en in die uur
van God is elke somber bron
tot in sy wortels af gepuur,
die koue see se vloed is skoon
en al die watere straal en soek.
(1954:11)
Hierdie vloei – altyd met die openingsbeeld van die klippie wat die water laat uitkring – word dan uitgebrei na die oseaan in die gedig Nood Gods. Dit is asof die rimpels wat as een ‘plof’ begin het, uitkring tot iets groter. Die feit bly egter staan dat dit veroorsaak is as gevolg van een klippie wat in die water val. Amper soos die eenheid van die sisteem van water op aarde. Dit is ʼn sisteem wat deur sy interafhanklike dele – in sy geheel – gebind is aanmekaar én nie geskei kan word nie: bergstroom–stroom–rivier–oseaan–wolke–bergstroom. Alles vloei. Alles is een. Alles het ʼn ritme. ʼn Paar versreëls uit die gedig Nood Gods:
… Grys en enkeld skoon
kom die wye dagbreek op baie
môres oor die see
wat beef in sy waters, …
… Verwatte skuim die grys see in die nag
teen al sy strande, en sy meeue sit
verlaat teen die donker klippe stil.
(1954:25)
Hierdie beginsel dat alles ʼn vloeiende aard het, word baie mooi in die Engelse vertaling van die Corpus Hermeticum verwoord:
“…Eternity’s lifegiving power stirs the world, and the place of the world is in living eternity itself; since everlasting life hedges it about and, in a manner of speaking, holds it together, the world will never stop moving nor be destroyed. The world itself dispenses life to everything in it, and it is the place of all things governed under the sun. The world’s motion is a twofold activity: eternity enlivens the world from without, and the world enlivens all within it, dispersing them all according to numbers and times fixed and appointed by the action of the sun and the movements of the stars, the whole chronological scheme framed in divine law…” (1992:171)
Die element van vloei en van eenheid vind dan ook aanwending in ander Van Wyk Louw-verse. Die beeld van see en oseaan word herhaaldelik in sý werk gebruik om die godheid te omskryf (Olivier 1985:199). Alles kom van Hom af en alles keer na Hom toe terug. Alles vibreer in Hom; en alles is gebind aan Hom. Die gedig Ekstase uit die bundel Alleenspraak is seker die beste voorbeeld van hierdie sienswyse van Eenheid:
Gedagte is ek van Gods vlammende siel,
en woord van sy mond,
lied van Sy hart se liefde en haat,
en daad van Sy wil.
Hy’t my gedink soos die sterre
en ons geskep na Sy droom,
ons wat die klank van Sy lag is,
van helder ewige blydskap.
Ek vloei in Hom, vloei is Sy wydheid
soos ʼn stroom in die oseaan;
en soos geur in die blomme lewe,
leef ek in Hom:
ek is Hy, Hy ek,
grensloos in ewigheid.
Die rimpel-effek en die beeld van vloeiende stromende water kom dan ook in Van Wyk Louw se ander werk na vore. Ek haal twee gedeeltes uit die verhoogdrama Die Dieper Reg – ʼn spel van oordeel oor ʼn volk – aan om die Van Wyk Louw-siklus me af te sluit:
AANKLAER (nog sterker)
… Die dood is die einde,
en die daad sterwe ook
as hy eenmaal
soos rimpels op water
ten einde gedein het,
of soos die beweging
wat golf langs ʼn draad
sy stilstand moet vinde.
Só het jul gesterf
en sal jul gedagtenis
voortgolf en klink,
maar uiteindelik sterwe.
Ek weet jul is myne:
ek ken my reg, en ek wag.
MAN (fors, biddend)
….
VROU (triomfantlik)
… Daarom sal ek my pyn nie noem as diens;
dis deel van my, dit is die stroom van lewe
en ewige vreug wat son ʼn vreemde skyn
aanneem in my, en daardeur sal ek leef
onsterflik in die wit land van die son
en wind-deurwaaide hooglug, Afrika.
(1947:23)
Water in die werk van Breyten Breytenbach – om moontlike lig te werp op die verhouding tussen digter en leser
Om by hierdie beelde van vloei en vloeibaarheid aan te sluit, wat dan op sigself aansluiting vind by beide die epistemologie van Herakleitos (soos genoem en verduidelik) en die beginsels van vibrasie, ritme en polariteit van die hermetiese leer, verwys ek na ʼn bespreking van Hein Viljoen (Breytenbach en die Simboliste – ʼn voorlopige verkenning, 1992) van ʼn Breyten Breytenbach gedig uit die bundel Lotus:
(8.9)
stil vloei die Ryn
soos ʼn fluit
soos wyn
meisie
op so ʼn aand
sou ons geboot
deur die nag moes kon vaar
om sterre op te sê
met ons gelag
soos water van oewer tot oewer
en iewers roer die wind die note
in die riete
en soos wyn
deur ʼn fluit
so stil vloei die Ryn
(1970:138)
In die bespreking lewer Viljoen kommentaar op Jeanette Ferreira (Breyten: Die Simbool Daar, 1985) se bespreking van gebruik van simbole in Breytenbach se poësie. Die volgende stelling word gemaak in sy bespreking van die bogenoemde gedig: “Sy meen Breytenbach se simbole vorm ʼn hele sisteem wat die sentrale gedagte van sy poësie uitdruk, naamlik dat alles een onskeibare, vervloeiende, grenslose geheel vorm waarin teenoorgesteldes met mekaar versoen word, veral ook die sogenaamde bowerklikheid en die gewone werklikheid” (1992:19) en dan ook voorts: “… sy werk [Breytenbach s’n] berus op ʼn totaal ander simboliseringsproses: nie oproep en vaagweg suggereer nie maar deur die oproep van verskillende en dikwels makabere situasies, die verskuiwing van verwysingsrame, word die vervloeiing van alles in die Niet bewerkstellig.” (1992:27). Alles vloei. Alles het ʼn ritme. Elke ding het sy teenoorgestelde; en alles is een. Viljoen merk dan ook voorts op dat asem en water van Breytenbach se belangrikste simbole is (1992:21).
Die hermetiese beginsels van vibrasie, polariteit en ritme kom sterk na vore in die werk van Breytenbach. Dat alles ʼn lewensritme het en dat daardie ritme, wat gevind kan word in die alledaagse beelde – ook die materiële aard daarvan – gebruik word om beide digter en leser bymekaar te bring in die droom. Let op die beginsels van vibrasie en ritme (self polariteit) wat in hierdie gedig uit die bundel Lotus na vore kom:
9.3 (die tekenaar)
die lig tril; jy is trillende lig
en ek uit jou verban
met die banvloek van die lyf
om verban te word
is om verdoem te word tot sién
en kyk
jy is buite
kom beminde, maak ʼn einde aan beginsels
en sit ons in mekaar
nes intiem
ek wil nie wees nie
maar net ʼn rilling in die lig
om dan die tekens van die lig
te mag teken
(1970:151)
Die beginsel van polariteit (wat dan ook in verband staan met die hermetiese beginsel van geslag) is welbekend in Breytenbach se werk. Alvorens my verdere bespreking, haal ek weer ʼn kort frase uit die Engelse vertaling van die Corpus Hermeticum aan wat die aanwesigheid van dié beginsel in alle dinge duidelik stel:
“…When the cycle was completed, the bond among all things was sundered by the counsel of god. All living things, which had been androgyne, were sundered into two parts – humans along with them – and part of them became male, part likewise female…” (1992:4)
Hierdie strook volkome met Anna Strydom (Die Konsepsie van Eenheid en die Voornaamwoord as Bindingsmiddel in Lotus van Breytenbach) se inleidende opmerkings rakende die titel van die bundel Lotus. Sy stel dit só:
“Telkens dui die tema op die tweeslagtigheid waaruit die kosmos saamgestel is: die yin en die yang. Hierdie twee pole bestaan dan in samehang met mekaar – die een reik uit na die ander en hulle dien as aanvulling van mekaar. Daar is ʼn onafwendbare neiging om een te word.” (1986:2)
Hierdie konsep word dan later in die verhandeling uitgebrei aan hand van ʼn bespreking met betrekking tot die ‘ek’ en die ‘jy’ en die ‘ons’. Die beste gedig ter verduideliking is seker die volgende kort gedig waar verduidelik word dat die ‘ek’ en die ‘jy’ onderskeidelik op die ‘yin’ en die ‘yang’ en hulle eenwording kan dui (1986:7):
4.10
hierdie drie bestaan
jy en ek en onstwee
(1970:80)
Hierdie konsep van die ‘ek’ en ‘jy’ en hulle binding deur middel van die voornaamwoord word dan verder in dié studie ondersoek. Vir my is die volgende aanname ter bespreking van die afdeling ‘Refleksies’ in die bundel Lotus baie insiggewend:
“Die voornaamwoord word metafories aangewend om die digkuns te kwalifiseer. ‘Ek’ staan vir die digter/skepper en ‘jy’ vir die medium waaruit poësie gemaak word, naamlik taal. ‘Ons’ staan vir die harmonie tussen digter en die taal. Die volmaakte harmonie sou bereik word wanneer daar nie meer ʼn ‘ek en ʼn ‘jy’ onderskei kan word nie, maar slegs ‘ons’ bestaan.” (1986:7)
Dit is hierdie harmonie van die ‘ek’ en die ‘jy’ – wat in enige sisteem kan bestaan – wat dan ook in Breytenbach se werk uitgebrei kan word na die sisteem van ‘skryf/dig’ en ‘lees’ waar die ‘ek’, die digter, en die ‘jy’, die leser, kan verteenwoordig. (Sien Louise Viljoen: Die leser in Breyten Breytenbach se Tronkpoësie, 2009) waarin daar onder andere verduidelik word dat dié digter se tronkgedigte besin oor die aard van die poësie en betekenisgewing, maar dan ook die feit dat dit ʼn proses is waarby die leser aktief betrokke is en dat die leser belangrik is vir die konkretisering van die gedig en dat lesers op verskillende manier aan die gedig lewe gee (2009:63). Wat natuurlik ook belangrik is, is die feit dat gedigmaak (waar die uiteinde die leesdaad is) nie kan bestaan sonder die teenpole van ‘digter’ en ‘leser’ nie.
Dit is hierdie – ʼn mens wil amper sê ‘geheiligde’ interaksie of sisteem dan – wat sterk na vore kom in Breytenbach se latere werk. In die verband is Bernard Odendaal se bespreking van die palindroomstruktuur met betrekking tot die subtitel van Breytenbach se op weg na kû in sy resensie (soos verskyn op hierdie webblad) insiggewend:
“Die onderons van die digter met die leser, met “Nee-Een”, staan in op weg na kû voorop. Die bundelsubtitel wys al hierheen: ’n geboorte-memoriaan (vir woorde) hiermee opgemaak tot vermaak en bemaak aan Ene Nee-Een. Die dialogiserende verbondenheid van digter en leser vind juis in Nee-Een se palindroomstruktuur vergestalting; dié eienaam voorspel egter ook reeds die nivellerende “uitveegesig” van die digkunspoging. Die leser is, luidens die bundelopeningsgedig, vir die “ek” in die “strewe om verby sterwe” te kom, om betekenissképpend met die leser om te gaan, as ’t ware ’n lewensmaat – ’n “Lot se vrou” – in sodanige (noodlottige!) poging. Of soos dit in die tweede gedig in die bundel heet:
[…] jy wat met my die stéél is
van twee bewussyne
die dronkenskap van vlinderlig
in hierdie duisternis.
(“mottoblad”)”
(Odendaal: 2019)
Die gevolgtrekking, in ag genome die heraklitiese en hermetiese beginsels, is dat die gedig altyd in sy ‘vloeiende aard’ of in sy ‘aard as vervloeiing van die Niet’ op pad is van die ‘ek’ – die digter – na die ‘jy’ – die leser – en dat dit dan, in die sisteem van skryf-en-lees, die ‘ons’ in eenheid aan mekaar kom bind. Alles vloei van die een pool na sy teenoorgestelde in ʼn proses onderliggend aan die Een. Dit is ook ʼn proses waar die inverse kan waar word in die sin dat die ‘ek’ – wat in die normale gang die digter of skepper vergestalt – die ‘geskapene’ kan word en die ‘jy’ – wat in die normale gang die leser vergestalt – die ‘skepper’ kan word (sien in die verband Ampie Coetzee se bespreking van die wisselwerking van betekende en betekenaar in die sisteem om ‘betekenis’ te omsluit soos verduidelik in Wat woorde Beteken: ʼn Voorwoord, 2009:7).
ʼn Ander aspek van Breytenbach se werk wat dan ook aansluiting vind by Gaston Bachelard se studie (soos genoem) is die reflektiewe aard van water, wat aldus hom gestalte kan gee aan drome én dat poësie ʼn droomoorsprong moet hê. Bachelard stel dit só met verwysing tot ‘water’: “To dream profoundly, one must dream with substances” (1983: 22).
‘Refleksie(s)’ – soos gesien uit die genoemde sub-titel van die bundel Lotus – en ook die beeld van ‘spieël’ maak konstant ‘n draai in Breytenbach se werk (sien Ampie Coetzee: Die Spieël as blinde mond – die poësie van Breyten Breytenbach, 2003: 19-37). Bachelard ondersoek hierdie reflektiewe aard van water aan hand van ʼn bespreking oor Narcissisme. Hy verduidelik dat dit in die aangesig van water is dat Narcissus se identiteit en sy dualiteit aan hom openbaar word (1983:23) maar dan ook voorts dat by aanskoue van sy (Narcissus se) gestalte in die water, sien hy ook meer as nét ʼn refleksie van homself (1983:24 env). Dit is ʼn ‘ideale’ toestand wat gereflekteer word. ʼn Toestand wat ons in ʼn mate laat sien, wat ons graag (sal) wil sien.
Om water te verstaan is om weg te vloei daarmee; om weg te smelt én aan onsself te sterf (1983:47). Deur dié vervloeiing is dit miskien moontlik om die aard en die betekenis van nie net water nie, maar iets groters te verstaan. Dieselfde is waar met betrekking tot die digkuns: vir beide digter en leser om te versmelt met die beelde en om eerder te sterf aan wat die digter probeer oordra, kan dit moontlik word vir die leser om die droomwêreld van die gedig te betree as beeld van ʼn beeld, simbool van ʼn simbool en/of uiteinde van ʼn ideale werklikheid.
Die aard van water is voorts dié van sogenaamde absolute refleksie (sien Bachelard 1983:47 env). Dit is asof die beeld in die refleksie van ʼn poel (wat in wese illusie is) meer werklik vertoon as die realiteit, omdat dit suiwerder is. Die droombeeld is suiwerder as die werklikheid. Die gedig en sy beeld(e) is suiwerder as die werklikheid juis om deur sy eienskap van (moontlike) illusie beter met die werklikheid te kan konfronteer.
Dit is hierdie reflekterende aard van water wat ons met ‘wat is’ of dan ‘wat werklik is’ kom konfronteer. ʼn Refleksie in ʼn stil poel reflekteer meer as net die “ek” wat van bo af in die water staar. Sien in die verband die sterk ooreenkomste in Breytenbach se gedig ‘Weerklink’ uit op weg na kû wat gedruk is met fotos van onder andere ʼn vis in water en dan ook twee beelde wat Narcissus kan verteenwoordig. Ek haal twee grepe uit die gedig aan:
2.2 weerklink
hoe nader jy kom aan ʼn einde hoe verder sién jy – of moet jy aanhou kyk
om jou oë nie tóé te maak nie?
Dood is uiteindelik hier deur Lewe spartelend (om lewe en dood) aan
wal gebring. Dikwels het sy probeer om hom te vang, gefassineer
deur die wese so slank gefatsoeneer soos ʼn slang of fetus wat
skynbaar gewigloos sonder om te beweeg in die klanklose stagnasie van
leweskenkende water hang.
Sy het na die verwerkliking van Dood verlang – en hy na Lewe daar bo
in die geheue van voëls. Asof die een ʼn intieme dimensie sou wees van
die ander se sang. Wat is bo en wat is binne? Die een het na die ander
gestaar, elk gehipnotiseer deur die ander se bewegings in die spieël van
die onpeilbare ruimte van één.
….
…
Die lewe kyk na haar lyk in die water. Sy ween oor die téénskyn van lewe
wat daarmee heen is. Wie sal haar tog nou om die lewe kan bring sodat sy
toemond en oopoog kan sing van die niet wat gevul moet word met die
klip se verwagting van waanskyn? Watter geboortebloed sal dan
die verdonkerde maan laat dans in die droomwater
om die afwesige gesig
vol te skryf met gedigte se maat?
(2019:36-41)
Hierdie beelde oor die reflektiewe aard van water in ‘die onpeilbare ruimte van één’ kan natuurlik ook in verband gebring word met die ‘geheiligde’ sisteem tussen digter en leser soos hierbo verduidelik. Die ‘ek’ wat deur die gedig vloei na die ‘jy’ en dan een word in ʼn harmoniese sisteem van gedigte-maak en hulle-lees. Alles het ʼn ritme. Alles vloei; en elke gedig het sy maat.
Ek sluit hierdie siklus van Breytenbach af met nog ʼn paar beelde uit op weg na kû wat dan eweneens aansluit by die hermetiese beginsels soos genoem:
begrawe in as
langs flanke bergreeks koraal
onder gordyne sneeuende saad
hoe moet dit wees om te waterwees
(2019:110)
om dan te kan sing
van mondverbranding
in maanversande vlakke
water se weer en verweer
(2019:144)
kyk, daar is musiek in die sand en ritme in die hand
en woorde bring wel die verskuiwing van ʼn diereriem
maar die swye van ligword hol ons uit
tot die vergaanskil van ʼn gedig
(2019:159)
en jou mymering is ʼn herhaalde mantra
in die trilling van ritme versin
(2019:164)
my aandgesig en my aangeepyn
omring my met jou liefde
vir die dans
vir wanneer ons
jakkalskaal nog één maal
afdaal in die poel stilte
(2019:170)
Water as simbool van binding tussen mense – Die werk van Magmoed Darwiesj
Die beeld van water word heel dikwels in Magmoed Darwiesj se werk gebruik. Ek haal ʼn paar grepe uit sy gedigte aan om hierdie aanname te staaf:
Waar kom ons vandaan? vra die doeanebeampte.
En ons antwoord: Van die see af!
Waar gaan ons heen?
Na die see toe antwoord ons.
(2021:44)
O Water, wees ʼn snaar vir my kitaar.
(2021:76)
Ek los my droom – laggend – in water.
(2021:80)
Ek het twee mane –
een in die hemel
die ander een wat swem in water –
Ek het twee mane.
(2021:114)
In die Corpus Hermeticum word verduidelik dat om God te (kan) sien moet ʼn mens na die kosmos, insluitende materie, kyk. Dit, en dan ook die wisselwerking van alles in die kosmos (1992:47). Water sluit uit die aard van die saak ʼn groot deel van die kosmos in. Bachelard verduidelik dat die wisselwerking tussen water en die aarde ʼn effek kan hê op die droomtoestand waaruit gedigte vloei. Water word gesien as die sagter element en dat dit die vermoë het om wesenlik te kan bind as gevolg van die feit dat mense ʼn intieme band met water en een van sy teenpole, die aarde het (1983:102 env). Voorts word aangedui dat water die ‘universele gom’ is (1983:107) en dat dit ʼn eindelose eenheid kan vergestalt (1983:194). In sy bespreking van Magmoed Darwiesj se gedig: Wie is ek – sonder Ballingskap? maak Fady Joudah die volgende opmerking wat hiérby aansluit:
“Yes, water binds us to ourselves within ourselves. And we bind ourselves to each other through water. Without water in our future, there’ll be no us. Do we not also return to water as markedly as we return to dust?” (Joudah: 2019).
Die hermetiese beginsel van polariteit is ook in dié gedig aanwesig. Die dualistiese aard van ‘vrede’ en ‘oorlog’ asook ‘besitting’ en ‘vervreemding’. Die manlike en vroulike (sien Joudah se verduideliking dat die ‘jou’ in ‘water bind my aan jou naam’ in Arabies die vroulike sal verteenwoordig). Ek haal die eerste drie strofes van die Afrikaans vertaalde weergawe van die gedig hier aan:
Wie is ek – sonder Ballingskap
Vreemdeling op die oewer
soos die rivier –
Niks bring my uit my verte
na my oase toe terug nie: nie vrede of oorlog nie.
Niks laat my die evangelies binnegaan nie.
Niks skyn op die strande
van die eb en vloed
tussen die Tigris en die Nyl nie.
Niks laat my neerdaal van Farao se strydwaens af nie.
Niks dra my, of laat my ʼn idee saamdra nie:
nie hunkering of belofte nie.
Wat staan my te doen?
Wat staan my te doen
sonder ballingskap
en ʼn lang nag al starend na water?
Water bind my aan jou naam.
Niks neem my weg
van die skoenlapper van my drome nie.
Niks gee my realiteit – nie stof of vuur nie.
Wat sal ek doen sonder die rose van Samarkand?
Wat sal ek doen in ʼn teater waar die sangers
verglans word met stene van die maan?
Ons het gewigloos geword –
soos ons huise in afgeleë winde.
Ons albei het vriendskap gevind
in die vreemde skeppings van wolke.
Ons albei is bevry
van die aantrekkingskrag
van die land se identiteit.
Wat staan ons te doen?
Wat staan ons te doen
sonder ballingskap
en lang nag al starend na water?
Water bind my aan jou naam.
Niks bly van my oor behalwe vir jou nie.
Niks bly van jou oor behalwe ek nie –
ʼn vreemdeling wat ʼn vreemdeling se dye liefkoos.
…
(2021:176)
In dié gedig is dit die water, en die feit dat twee vreemdelinge na die rivier se water staar, wat hulle bind. Hoekom is dit so? Ek dink dit gaan terug op die feit soos hierbo verduidelik in die bespreking van absolute refleksie – dat, ten spyte van die ballingskap (of miskien selfs eerder as gevolg daarvan), die reflektiewe aard van die rivier en die droomtoestand wat daardeur geskep word, ʼn idilliese maar ook ʼn idealistiese effek kan hê op die vreemdeling-karakters in die gedig, maar ook die vreemdeling-leser(s). Dat dit as gevolg van hierdie droomtoestand nie saak maak dat ons vreemdelinge is nie. Dat dit nie saak maak dat ons in ʼn land sit, wat in wese by ons afgeneem is nie, en dat ons daarom geen identiteit het nie. Ten spyte daarvan kan alles in ons lewens, en die gebroke aard dáárvan, kan ons vrede in die aangesig van water ervaar. Water kan gesien word as die simbool wat ons, as mense, aan mekaar bind. Dit is hierdie simbolistiese aard van water wat alles bymekaar kan bring (1983:148).
Water het dan ook die eienskap van reiniging. Dit het die innerlike krag om die inner-wese te reinig (1983:142). Bachelard bespreek hierdie kwaliteit van reiniging en verduidelik dat dit ʼn effek kan hê op die materiële verbeelding. Dit hang af watter tipe droom ons wil droom. Soos ek dit verstaan, sal die droom afhang van wat, met inbegrepe die Darwiesj gedig onder bespreking, ons wil hê die droom moet wees. Én voorts waarmee die waterbeeld(e) – hetsy die vloei van die rivier óf sy refleksie óf twee vreemdelinge wat dan ook ʼn bewussyn met mekaar deel – ons wil konfronteer. Water in sy aard as substans, kan gedroom word om ʼn substansiële wording daar te stel. Én om te droom in hierdie konteks met water as die bindingsmiddel van vreemdelinge; as gewer van ʼn droomtoestand waarin en waaruit poësie geskep kan word; as reinigingsmiddel en beswering van die bose (op watter vlak dan ook al) – beteken dat dit alle omstandighede kan oorkom, alle struikelblokke uit die weg kan ruim en alle grense af kan breek en/of verskuif (toepassing van Bachelard 1983:142). In die woorde van Bachelard: “The contemplation and experience of water leads us, by many routes, to an ideal.” (1983:146).
Wat verder voortvloei uit die konsep van absolute refleksie, is dat water (of selfs woestyn) kan reflekteer wat nié noodwendig daar is nié. Dit kan, aan hand van die dromer, die refleksie ʼn meer perfekte en beter – miskien suiwerder – glans óf verteenwoordiging van die werklikheid gee. Aldus Bachelard kan dit die wêreld maar ook die dromer ‘verdubbel’ (sien bespreking 1983:47 env). En dis dan waar die konsep van ‘lugspieëling’ inkom. Waar ‘water’, byvoorbeeld, in die woestyn gereflekteer word, maar nie noodwendig daar is nie. Dit kan ook lewe gee aan ʼn droom wat dalk nie meer daar is nie (maar steeds daar behoort te wees). Die lugspieëling het die effek dat dit die ‘werklikheid’ kan ‘korrigeer’; en die kladmerke en ellende kan verwyder (1983:49).
ʼn Gepaste voorbeeld uit Darwiesj se werk met betrekking tot ‘lugspieëling’ is die gedig Die Dobbelaar waarin dié beeld, myns insiens, gebruik word as metafoor vir die ‘skrywer/digter’ om aan te hou inspirasie vind vir die ‘skryfdaad’. Die vraag is, kan ‘lugspieëling’ ook ʼn invloed hê op die verhouding tussen die ‘ek’ en die ‘jy’ en die ‘ons’ soos hierbo genoem en verduidelik met water as alles-oorkoepelende bindingsmiddel?
Die Dobbelaar
…
En lugspieëling
is die reisiger(s)boek in die woestyn.
Sonder dit,
sal die reisiger nie aanhou optrek
na water nie.
Hierdie is wolke, sê hy
en dra hoop se kruik in die een hand,
terwyl die ander een sy gewrig vasgryp.
Hy stamp sy voete in die sand
om wolke bymekaar te maak in ʼn gat
soos wat lugspieëling na hom uitroep –
hom verlei hom verkul hom oplig en sê:
Lees
as jy kán, lees.
Skryf
as jy kán, skryf.
Hy lees: water water water,
en skryf
ʼn reël in die sand:
As dit nie vir lugspieëling was nie
sou ek nie steeds gelewe het nie.
(2021:276)
Die Hermetiese Beginsel van Kousaliteit: ‘Aksie en Reaksie’
Een van die hermetiese beginsels wat ek nog nie genoem het nie, is die beginsel van kousaliteit, synde die waarheid dat elke handeling ʼn gevolg of effek het (Three Initiates 2010:89). Dit is tog die skiet van die klippie met die rek in die NP van Wyk Louw se openingsgedig in hierdie artikel wat die water laat rimpel en uitkring na buite. Dit is die beelde van water se reflektiewe aard soos verduidelik aan hand van die foto’s soos hierbo bespreek wat eerstens ʼn effek het op die digter; hom dan maak skryf/dig én dit dan ʼn uiteinde het waar ‘ʼn bewussyn gedeel word’ wat dan weer ʼn gevolg of effek het op die leser. Die skryfdaad kan ook ʼn effek op die uiteinde van ons drome hê. Dit word as volg in The Kybalion, ʼn hermetiese teks, gestel:
“And the very act of writing, on our part, and the act of reading, on yours, will affect not only the respective lives of yourself and ourselves, but will also have a direct, or indirect, affect upon many other people now living and who will live in the ages to come. Every thought we think, every act we perform, has its direct and indirect results which fit into the great chain of Cause and Effect.” (2010:93)
As ʼn mens dan Ampie Coetzee se beredenering soos hierbo na verwys kan toepas. As die digter wat in werklikheid die skepper is, deur die gedig en die skryfdaad, ‘geskapene’ kan word, dan beteken dit ook uiteraard dat die leser ‘die skepper’ van die gedig kan word om ‘betekenis’ te ontsluit. Dit is hierdie omgekeerde wisselwerking wat interessant is. Die vraag is hoekom kan só ʼn redenasie nie ook toegepas word op die gedig se beelde, en dit wat die gedig moontlik op simboliese vlak wil verwoord nie. Wanneer dit nie water se beeld is wat lei tot inspirasie vir die skryfdaad nie, maar waar die skryfdaad, as gevolg van die sisteem tussen leser en skrywer, wat altyd ʼn sekere soort droom of uiteinde in die vooruitsig stel, ʼn effek begin hê op die wêreld daar buite en selfs die materiële aspekte dáárvan. Metafories gesproke, wanneer dit wat ons as mense sê en doen en skryf ʼn effek begin hê op die ‘water’ eerder as wat die water ʼn effek het op ons.
Wanneer die frase in die een Darwiesj gedig soos aangehaal, nie meer lui: “O Water, wees ʼn Snaar vir my Kitaar” – nie. Maar eerder, “O Kitaar, wees ʼn snaar vir ons Water.” Waar ons as mense die vloei en die wording van ons vloei bepaal. Hier en daar in Bachelard se opstel onder bespreking is dit asof hy amper hierdie konsep wil aanraak. Op die een plek sê hy “dit is in óns oë dat die water droom” (1983:31) en dan op die ander, met verwysing na frase uit Paul Claudel se werk, wat ek hier volledig in Engels aanhaal, sê hy:
“They show that poetry is a natural and durable synthesis of images that are only artificial in appearance. The conqueror and the poet both want to put the brand of their power on the universe. They both take the branding iron in hand; they brand the dominated universe. What seems senseless to us when part of history and past, is now in the eternal present a profound truth of free imagination. Metaphor, physically inadmissible, physiologically absurd, is, nevertheless, poetic truth. It is because metaphor is a phenomenon of the poetic soul. It also a phenomenon of nature, a projection of human nature on universal nature.” (1983:183)
Ek dink Darwiesj stel dit die beste in sy lang epos, Die Muurskildery, wat hy geskryf het ná sy herstel van ʼn hartkondisie:
Een dag sal ek wees wat ek wil wees.
Een dag sal ek ʼn digter wees.
Water sal van my visie afhang.
My taal sal ʼn metafoor vir metafoor wees.
(2021:189)
In die normale gang sou die frase gewees het: “My visie sal van water afhang.” Hier is ʼn voorbeeld van omgekeerde wisselwerking waar dit die digter se ‘visie’ wat die aard en effek van ‘water’ (kan) bepaal. Die argument is dus dat soos wat die digter se visie die aard en effek van die materiële substans, water, kan bepaal, só kan die mensdom – as dit steeds die droom is – nie net die aard en effek van ons water, vuur, aarde en lug bepaal nie, maar ook ons lot. Dit is taal en gedigte wat ons daartoe kan dryf:
Hierdie klank is die steekpyn van my bloed.
Maar tog is ek nie die skrywer nie.
As ek arriveer, maar nie aankom nie,
is hierdie “ek” nie “ek” nie.
As ek klets, maar nie praat nie,
is hierdie “ek” nie “ek” nie.
Die verborge letters openbaar dit aan my:
Skryf om te wees. Lees om te vind.
As jy wil praat, moet jy optree.
Laat jou teenstrydige pole daarom een word in betekenis.
Die deursigtige een binne jou is jou ode.
(2021:195)
Gevolgtrekking
Gestel ʼn mens neem weer vir ʼn oomblik die feit soos genoem in die inleiding in ag: dat rivier en water in sy vloeiende aard ‘die vroulike’ kan simboliseer en die oseaan – in sy stormagtig, soms woedende aard – ‘die manlike’ kan verteenwoordig. Water is altyd op pad na die see. Netsó is ons, as mense, altyd op pad terug na die Een. Aldus Van Wyk Louw vloei ‘ons’ in Sy ‘wydheid’. Ons is Een in ons Eenheid met mekaar maar ook met Hom. Die twee teenpole wat nie net mekaar aantrek nie, maar ook die balans hou. Die gedig in Breyten se poësie altyd deur die Niet op pad na die leser, ook gebind is deur en aan die Een. Alles vloei, alles vibreer. Alles het ʼn ritme.
Miskien is ‘ons’ vloei soos die riviere in vroulike vorm altyd op pad na die Een, ʼn manlike oseaan. Twee teenpole van wat ons is. Miskien is ons ‘twee vreemdelinge’ op die oewers van ʼn rivier wat deur die aardeffek van water ‘gebind’ kan word aanmekaar deur wat as ʼn droombeeld in die digter se bewussyn begin het; wat deur taal en die metafoor van taal – of dan die poëtiese siel soos wat Bachelard dit noem – gemessel word tot gedig en dit daardie gedig is wat ons materiële en geestelik aard kan verander as ons (steeds) wil hê dat dit die droom moet wees.
Bedankings:
- Aan die drie digters met wie se werk ek kon speel, asook al die akademici soos vermeld, baie dankie.
- Karen de Wet en Carl-Pierre Naudé vir hulle aanvanklike insette met betrekking tot die artikel.
Bronnelys (in die volgorde soos vermelding gemaak in artikel):
Esterhuizen, L. 2010. Wat die water Onthou. Protea Boekhuis, Pretoria
Taljard, M. 2010. Die vloeibaarheid van geheue wat die water onthou, Louis Esterhuizen : resensie. Literator 31(2) Aug. 2010.
Bachelard, G. 1983. Water and Dreams, An Essay on the Imagination of Matter (as translated from French by Edith R. Farrel). The Pegasus Foundation, Dallas, Texas.
Barnes, J. 1979. The Presocratic Philosophers. Routledge & Kegan Paul Ltd, USA & Canada.
Three Initiates. 2010. The Kybalion: A Study of the Hermetic Philosophy of Ancient Egypt and Greece 1908. YOGeBooks by Roger L. Cole.
Sienaert, M.1993. Breyten Breytenbach: Painting the Eye. David Phillip Publishers (Pty) Ltd. Claremont, Cape Town.
Copenhaver, B. 1992. Hermetica: The Greek Corpus Hermiticum and the Latin Asclepius in a new English translation, with notes and introductions. Cambridge University Press.
Strydom, AD. 1986. Die Konsepsie van Eenheid en die Voornaamwoord as Bindingsmiddel in Lotus van Breytenbach. Magister Artium Verhandeling: Fakulteit Lettere en Wysbegeerte – Potchefstroom.
Olivier, SP. 1985. Mistiek in Afrikaanse Poësie. Doctor Litterarum Verhandeling: Fakulteit Lettere en Wysbegeerte – Potchefstroom.
Viljoen. H. 1992. Breyten Breytenbach en die Simbolisme – ʼn Voorlopige verkenning. Literator 13 No 1 April 1992.
Coetzee, A. 2009. Die Vlugtige taal van Vergeet: Die Metafoor by Breyten Breytenbach. Tydskrif vir Letterkunde 46(2). Bladsy 150 tot 168.
Van Wyk Louw, NP. 1952. Nuwe Verse. Tafelberg.
Van Wyk Louw, NP. 1935. Alleenspraak. Nasionale Pers.
Van Wyk Louw, NP. 1947. Die Dieper Reg: ʼn Spel van die Oordeel oor ʼn Volk. Nasionale Pers.
Breytenbach, B. 1970. Lotus. Buuren-uitgewers (Edms) Beperk.
Ferreira, J. 1982. Die Terugkerende Simbool in die Poësie van Breyten Breytenbach. Magister Artium Verhandeling: Fakulteit Lettere en Wysbegeerte – Pretoria.
Viljoen, L. 1992. Die leser in Breyten Breytenbach se tronkpoësie. Tydskrif vir Letterkunde 46(2). Bladsy 57 tot 80.
Odendaal, B. 2019. Resensie: op weg na kû (Breyten Breytenbach). Versindaba webruimte: https://versindaba.co.za/2019/04/15/resensie-op-weg-na-ku-breyten-breytenbach/ (besoek 28 Maart 2023)
Coetzee, A. 2009. Wat woorde beteken: ’n Voorwoord. Tydskrif vir Letterkunde 46(2). Bladsy 5 tot 10.
Coetzee, A. 2003. Die Spieël as blinde mond – die poësie van Breyten Breytenbach. Literator 24(2) Aug. Bladsy 19 tot 37.
Darwiesj, M. 2021. Die Vlug van ʼn Vreemdeling soos vertaal deur Bester Meyer. Naledi.
Joudah, F.2019. The Secret Song of Water: From Coleridge to Darwish. Los Angeles Review of Books. https://lareviewofbooks.org/article/the-secret-song-of-water-from-coleridge-to-darwish (besoek 18 Maart 2023).
Hi Mellet, dankie. Waardeer.
Ek het hierdie essay met waardering gelees.
Die manier waarop jy Bachelard betrek is in die kol: jy verdien ‘n pluimpie vir die manier waarop jy jou horisonne verbreed.