Chemoterapie
al is die kanker in my destyds dood onthou ek
die vrees vir metastase, vir terminale lyding
en in hierdie land hoekom ons nie
die keuse van Dignitas kan kry nie
terug na chemo-behandeling destyds in 2004
hierdie middels wat selverdeling afskakel
die gevaarlikste is egter dat die kanker kan versprei
daarom moet die hele liggaam behandel word
in sistemiese terapie waarvan hormoon- of endokriene-terapie
‘n deel is en nodig is vir hormoon-sensitiewe gewasse
endokriene afgelei van die Griekse terme endo
wat binne beteken, en kriene, wat beteken om af te skei
afskeidingsprodukte van endokriene kliere is hormone
en word direk in die bloed deur die liggaam gedra
waar hulle slegs die selle beïnvloed wat reseptorplekke
vir daardie hormoon het
adjuvante terapie beteken die behandeling deur chemikalieë
is toegedien nadat die kanker uit die bors en armholte verwyder is
die middels meestal gebruik in gevalle soos myne:
antrasikliene bekend as die rooi duiwel, en taksane
en nou haal ek asem in my weerbare wondweefsels
so dankie Liefentjiefontein, dankie Besitwater en Matjiesgoedkloof
dankie Stofputs van Droëgrond in die land van ǀXam
dankie pagoed in jou kisgoed vir jou diggoed
ek het julle eergister beloof
ek sal nou ophou kla
© Annora Eksteen, 2023
