Narsistiese persoonlikheidsteuring
ek skryf jou enigste klavierkomposisie
op jou grou verlate graf, jou stukkie wat jy betitel het
Eggo en Narsissus – en gooi daarmee – die daisies nat
narsisme is ondermeer die egotistiese bewondering
vir eie fisieke, wesentlike of verstandelike eienskappe
einlik net ’n arrogante trots, ‘n psigologiese steuring
uiters ernstig en skadelik vir ander
onsensitief vir ander se gevoelens, probeer hulle weer
om hulleself op te pomp deur iemand van nederige geaardheid
te verneder, te verlaag, te verkleineer
en as daar nie aan hierdie verwagtings van hulle voldoen word nie
is daar blou moord en soms ‘n werklik siek seksuele satisfaksie
in hierdie onversadigbare ongesonde selfliefde
waar hulle voortdurend toneelspeel, voortdurend geprys moet word
voortdurend die opperhand wil wees
toe ek ‘n kind was, was ek amper elke dag in die moeilikheid
hoe dit dan op aanranding uitgeloop het, hoe sy dit geniet het
om my te sien huil en so het sy weer beheer oor my gekry
al wat sal help is om diesulkes vir ewig te ignoreer en vir ewig
weg te stap van die verskrikking van emosionele manupilering
my liefde behandel my kosbaar
soos Renosterrivier se oewerkonyn
en wys vir my beeldhouwerk
nomades van donkerklip Kaokowoestyn
die kunstenaar kap die rotse, breek die uitsigte oop
in stom vertellers van Afrikatragedies wat ons gedagtes vul
soos ons digby ver die einders in ry
hanteer ons versigtig
ek maal altyd rond om hierdie selfde wete
of prontuit in my gedagtes gefluister: fokof
© Annora Eksteen, 2023
