Diagnose
en ek reflekteer van lug daarbo tot waaiende gras
van wind wat speel deur snare van ‘n harp
dat die natuur geen notisie geneem het
van my goeie prognose
ook lankal die wete – ek was gelukkig
ek kon my kinders sien grootword
my waarde het net verminder, so het
ek gevoel terwyl kinders steeds sal speel
in ‘n soelbruin strandmeer, voetjies trappend
in die sliksag somersand van Glenmorestrand
terwyl vuurvliegies steeds ‘n rukkie sal sirkel bo nat mos
agter slierte van ‘n waterval, waar ons dae lank gestap het
singend oor berg, en singend oor dal, altyd in die Ōṃ
en altyd in die al in die hooglande van KwaZulu-Natal
so het ek gedink toe ‘n radiografis
met ‘n siftingsmammogram besig is
daarna het ek lank gewag daardie dag
toe iets in my begin kwyn het, in my
nooit bladwit, net ligbruin eierdop
‘n radioloog het toe gekom, ek onthou die koue gel
om ‘n sonar te vat as diagnostiese toets om ‘n beeld te verkry
deur ultraklank met ‘n ultraklank-sonarmasjien
Latyn: ultra = verder as en sonus = klank / ultraklank is 20 kHz of hoër
klank of vibrasies met ‘n ultrasoniese frekwensie
‘n menslike oor kan nie hierdie klanke, hierdie klankgolwe
van die borsweefsel af en die sterkte van die klanksein asook die tyd
wat dit neem vir die golf om deur die liggaam te beweeg, verskaf
die inligting wat nodig is om ‘n ultraklankbeelding te produseer
gebaseer op die weerkaatsing van hierdie golwe
daarna weer ‘n lang gewag, in November 2003
toe ek 42 was, toe klanke onmenslik hoog en skril
uit my binneste begin tril
‘n onheilsgevoel het my verstand oorvloei, in my wese
dalk ‘n besef hoe seer my lewe vorentoe in stukke sou spat
maar groen trosse piesangs sou steeds hang
in Kwazulu-Natal by Glenmorestrand
© Annora Eksteen, 2023
