nood
ek sluk swaar aan die dik wit sediment
van sulfaat gaan lê roerloos op die naat van my rug
op die harde bed die skanderingsapparaat tas
my inwendige af vreemde koppe tuur teen die lig
ondersoek die film murmur onderlangs oor
die ingewande vertakte buisies in die long
en verkalkte werwels wat die nek en skof
voorouderdoms laat buig maar wie of wat
sal die dieper nood in my ondersoek wat stil
en onopspoorbaar deur elke bloedsel limfknoop
spierbundel en breinsinaps van my soma loop
© Leunis van Rooyen, 2023
Dankie, oom Leunis vir die emosionele gedig.