
Antjie Krog, gebore 23 Oktober 1952, is ’n bekroonde digter, joernalis, filosoof en Buitengewone Professor aan die Universiteit van Wes-Kaapland.
Sy behaal in 1973 ’n BA-graad in Engels aan die Universiteit van die Vrystaat, ’n M.A. in Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria in 1976 en ’n onderwys diploma aan UNISA.
Krog debuteer op die jong ouderdom van 18 met die bundel Dogter van Jefta (1970). Hierna volg nog elf digbundels asook drie bundels met kinderverse uit haar pen. Haar drie niefiksiewerke, Country of my skull (1998), A change of tongue (2003) en Begging to be Black (2009) verskyn in Engels.
Vir haar poësie het Krog onder andere die volgende pryse ontvang: die Eugene Marais-prys (1973), die Rapport-prys (1987), die Hertzogprys (1990), die FNB Award (2000) en die RAU-prys (2000). Mede-wete is in 2015 op die kortlys vir die toekenning van die Universiteit van Johannesburg-prys en verower in hierdie jaar die Elisabeth Eybers-prys en die ATKV-prys vir poësie.
Vir haar vertaling van gedigte uit die inheemse tale, Met woorde soos met kerse (2002), ontvang Krog in 2003 sowel die Toekenning vir Voortreflike Vertaling van Poësie, as die Toekenning vir Beste Vertaler van die Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut (SAVI) in 2003.
Haar gedigte word opgeneem in talle versamelbundels, wat insluit Groot verseboek, Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte, Digters en digkuns, Die dye trek die dye aan, Woordpaljas, Liggaamlose taal, Goudaar, My Afrikaanse verseboek, Kraaines, Verse vir Opperman, Majesteit, die kat, Die goue vreugde, Voorspraak en Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte. In 2020 word van haar gedigte in Vers en vrou opgeneem.
Krog se gedigte is in Engels, Nederlands, Frans, Spaans, Duits en Italiaans vertaal. In 2009 verskyn ‘n keur uit haar werk, Digter wordende, by Human & Rousseau.
Lees gerus meer oor Antjie Krog en haar werk op LitNet.
![]()
[Nota van die Versindaba redaksie: Ons wil graag nuwe en ou digters aanmoedig om vir ons opgedateerde profiele aan te stuur na taljard.marlies@gmail.com
Van ‘n digter wat al een of meer solo-bundels by ‘n erkende uitgewer gepubliseer het, versoek ons die volgende:
-
-
- ‘n Redelik onlangse foto in JPG-formaat
- ‘n Lys van publikasies (ook die belangrikste nie-poëtiese publikasies)
- ‘n Kort lewenskets wat inligting bevat oor o.a. waar en wanneer jy gebore is en grootgeword het, waar jy studeer het, watter beroep jy beoefen of waarmee jy jou tans besig hou, waar jy op die oomblik woon, ens.
- Enige ander interessante feite oor jou
-
Skryf asseblief die profiel in narratiewe vorm en nie as ‘n reeks feite ondermekaar nie, ten einde dit meer lesersvriendelik te maak.
Indien jy bereid is om ‘n profiel te skryf oor ‘n gestorwe digter, laat weet my asseblief by taljard.marlies@gmail.com]
