Dubbeldoos
ek sit in die paleis van justisie
vasgegrendel aan die banke
soos ʼn Madiba van ouds –
snak na my asem
in die wete dat:
die oë van die waarheid
dra die maskara van die leuen
dat die weg, as die waarheid, en ook die wysheid
nie verstaan kan word sonder die kloppende boosheid alom:
en in my voer die dubbeldink
(nou al) ʼn uiteinde in die mou
ek praat met die advokaat
opper my afgewaterde gebede
vir ʼn korporatiewe kont
én kruisig Madiba aan die loodglasplafonne
sien hom sit saam met die sekuriteitswagte
in ʼn glimlaggende allemans-gewaad
dit, terwyl ek die ego streel-na-sterre
met die kierang van ʼn geregtigheid
gemaak’t uit wat môre-se hand nie kan liefhê
sónder ʼn sekere mate van begrip vir gister se lesse nie
Madiba hier tereggestel in terme van die wet op terrorisme
en ek hier op verhoor aan hand van die wette van die man:
dat geregtigheid beide vraag en aanbod omvat (?) –
óf gee ek myself oor aan juis dit
wat besweer moet word
om my daarop te (kan) beroem
dat oorlog vrede is
en vryheid slawerny –
én dat dit wat soos die etter en swere van ouds
vir Mabida gekerker het vir wat demokrasie sou word
mý nou na die begraafplaas stuur
aan hand van ʼn spoegseltjie woorde
wyer as die soeke na waarheid,
en – skraler –
as enige heer se genade
© Bester Meyer, 2023