waar jy ek word
Na Antjie Krog
jou asem sterf hier binne my
so intens dat dit myne
kon gewees het
onsterflik die stoflike is-heid van ons
wat met groot kwashale die ewigheid verf
jou hartklop wat myne gewens het
tik die brok van ons stukke, apaties
aan mekaar gebind soos ʼn woordende stilte
elke maan kantel
in haar son se skoot
sonder weerlegging, sinspelende spel
ek wou
die jy wat ek is
bly
maar hoe
brand ek
deur die membraan
van my trillende jy
sonder om myself te verloën
in die ek-spieël, my hart, wese soos jy?
my tong so lomp
jou lyf kraaines van my onbeholpe kom en gaan
om só alle grense af te breek
en in die kaia van jou hals
in die plekkie waar ek rus
jou met my is te berus
(dalk toe te rus –)
jy vergaan – ʼn vokaal in my keel
ek lewe in die eggo
van dit wat oorbly
van die dans binne jou
en die woorde buite my
© Bester Meyer, 2023