huis toe ̶ eerste semester
Inspirasie: Lynthia Julius (die intellektualisme van goed)
Voor die spieël haak ek Etiek uit my ore,
nog op pad na die bus
skud ek Metafisika van my skouers af
Heidegger val uit die slapte van my hand
Nietzsche trek ek van my vinger af
(moet onthou om dit te verpand)
en Epistemologie los my uit
met die afhaal van my enkelsnoer
Filosowe!
Kry julle rus
in julle boekomslae in.
My toothbrush kom in die vanity case
saam met die make up
die hangertjie om my nek is van jou
dit bly aan
ek kom huis toe
nog soos my ma my
met Koebaai! gegroet het
Dit is ver tot by Ghaamsberg verby
’n lang pad om te gaan of te kom.
Aan my ma se formicatafel
eet ek haar brood met vet en stroop
Kyk hoe maer is jy kjênd
dôd geleer en uitgeteer
nie eers stêre vir ’n houtbank se hardegeit
is ôk so, jy leer nie met jouse gatkant nie
As ek weer teruggaan Ma
vat ek jou saam
soos ’n tatoe op my vel ̶
lat hulle jou nie kan afskrop nie.
© Anton Döckel, 2023
