Heilna du Plooy se vierde digbundel, Getye van Tyd, het onlangs by Imprimatur verskyn. Carina Stander het haar gepols oor dié bundel.
Carina Stander (CS)
Heilna, geluk met jou pragtige vierde digbundel!
Soos met jou vorige bundels sypel jou liefde vir landskappe en skilderkuns weer deur, maar met ’n fokusverskuiwing, soos die titel voorspel: die see. As binnelander, wat vier jaar gelede na die kus verhuis het, het jy vermoed die see gaan só sterk in jou verse vloei? Het jy dié bundel van vêr sien kom?
Heilna du Plooy (HdP)
Jy is reg as jy sê dat my bewustheid van landskappe en die skilderkuns reeds in vorige bundels na vore kom, maar ek het regtig nie die tematiek en metaforiek van hierdie bundel van ver af sien kom nie. Ons ken Jeffreysbaai goed en het voordat ons hierheen gekom het reeds vir meer as dertig jaar hier vakansie gehou, maar ek het nie besef watter impak die direkte aanwesigheid van die see op die drumpel op my gaan hê nie. Mens voel hier nader aan die natuur – dis ’n kleiner dorp met die see eenkant en die berge aan die ander kant. En die wind en die see is deurentyd om jou, vandaar dat ek die gevoel het ek is met die elemente self gekonfronteer. Vanselfsprekend gaan dit nie net om die see en die wind soos hulle bestaan nie, dat hulle daar is nie, maar om die betekenisse en assosiasies wat hulle in my denke na vore lok.
Nie lank nadat ons hierheen gekom het nie, het Covid uitgebreek en dit het mens binnenshuis gehou (aanvanklik mag mens mos selfs nie op die strand gaan stap het nie – genade!!). Die inperking het egter vir my ironies genoeg ’n wins gebring. Ek kon my afsluit en fokus op my onmiddellike werklikheid wat die see en die wind insluit.
In dié tyd het ek baie gekyk en geluister en het dit vir my begin voel asof alles met alles verband hou, ek het alles gesien en beleef soos wat dit in verhouding is tot alle ander dinge. Eintlik word ’n mens se hele lewe betrek as jy aanhoudend en aandagtig nadink en dan kry elke gedagte bykomende dimensies of jy nou oor jouself of oor ander dinge dink. Jou menseverhoudinge, jou werk, jou reise, jou leeservarings, die onmiddellike see en wind, alles smelt saam. Ek dink ’n mens se brein is ’n wonderbaarlike rekenaar – jy voer hom met allerhande goed en hy maak self nuwe kombinasies, want eintlik is alles die hele tyd daar en werksaam.
Of iets daarvan in en deur die gedigte uitkom, weet ek nie. Wat mens dink en wat uiteindelik na vore kom, stem dikwels nie ooreen nie. As mens begin skryf, word ’n vers ook iets op sy eie en jy meet en pas en skuif en redigeer totdat die vers ’n gawe afgeronde eenheid is, wel minstens na die beste van jou vermoë. Die aanleiding en die eindproduk is verwant aan mekaar maar die gedigmakery is ’n bedryf met sy eie reëls en wetmatighede en vryhede, met ingewings en mistastings ook.
CS
Getye van tyd is ook ’n besinning van ’n lewensverloop. “Die niks wat tyd is, is uiteindelik alles,” skryf jy. As kenner van narratologie of verteldigkuns, is dít die belangrikste storie wat die bundel wil vertel?
HdP
In my lewenslange belangstelling in hoe verhale werk en inmekaarsteek, is een van die belangrikste aspekte dat ’n verhaal nie net gaan oor karakters en gebeure nie, maar dat dit inderwaarheid afspeel binne die dimensie van tyd en ruimte. Tyd en ruimte is as ’t ware die medium waarin die karakters en gebeure funksioneer. Ek weet self dat een van die temas waarheen ek altyd weer terugkeer tyd en ruimte is, omdat dit ook die menslike lewe in die werklikheid bepaal: die plek en die tyd waarbinne ’n mens leef, het immers ’n geweldige, ’n ingrypende en soms selfs dominante invloed op wat daardie mens is. Vanselfsprekend is dit nie al wat die mens vorm nie, maar die psigologiese en sintuiglike ervaring (ruimtelikheid) van onmiddellikheid (as tydsaspek) teen die agtergrond van kennis en herinneringe (tyd as verloop) vul sekerlik die grootste gedeelte van ’n mens se bewussyn.
Teen hierdie agtergrond en ook as ’n werklikheid is dit vanselfsprekend dat ons lewe hier langs die see anders is as alles wat voorafgaan het. Dit was ’n bewuste keuse om ’n nuwe fase te betree. Die koue hoëveld, Pretoria, die droë plat Noordwes provinsie, Potchefstroom met sy mooi bome (wat nou ook agteruitgaan) lê agter en dit is nou die plek waar ons ons bevind hierdie. En soos ek die omgewing van Potchefstroom beskou het in In die landskap ingelyf so neem ek hier opnuut waar en geniet alles wat letterlik aan my opgedring word. Dit is inderdaad ook ’n nuwe lewensfase, ’n rustiger tyd met afstand van die drukte en gewoel waarvan mens deel was. Daarby het Covid die aarde getref net ’n jaar nadat ons hierheen gekom het en daardie inperking het mens ook na binne gedwing, jou laat inkeer en ironies genoeg, terwyl alles in so ’n warboel geraak het, het dit by my ’n diep rustigheid gebring om vir ’n tyd afgesluit te wees van aandringende werklikhede en verpligtinge. Mens kon ook nie buite skilder nie en ek het inderdaad ’n hele reeks stillewes in waterverf geskilder in my klein skilderkamertjie. En gedigte het ontstaan.
CS
Ja, jy skilder inderdaad ook. Jou verse wemel van sintuiglikheid, van kleure en teksture soos saffier, toermalyn en akwamaryn. Jy skryf dié verruklike sin: “Die wind skilder altyd in wit.” En: “Die wind se groot ateljee is die see”. Dis poësie vir die oog. Dit herinner my dat skilderkuns in Chinees as wu-sheng-shih bekend staan, “stil poësie”. Hoe werk jou skeppingsproses: eers die beeld of eers die woord?
HdP
Dit verskil, soms is daar eers ’n skildery – of ’n poging tot byvoorbeeld ’n waterverf wat nie reg uitkom nie of gewoon ’n flop is – en dan dink ek ek is handiger (of mondiger!) met woorde as met die kwas en gaan aan die skryf. Gedigte kom egter meestal vanself in mens se kop op, soms na aanleiding van iets wat jy hoor of sien of wat iemand sê of iets wat jy lees. Maar wanneer ek skryf, sien ek dinge voor my en soms skryf ek juis oor iets wat ek gesien het.
Die prosesse agter skilder en skryf, die kreatiewe denke wat voorafgaan aan die werk of produk wat tot stand kom, stem in baie opsigte ooreen omdat dit gaan om aspekte soos vereenvoudiging en fokus, struktuur en tegniek, ens. Wat mens bedink, kry dan maar sy koers en word of ’n skildery of ’n gedig. Bygesê, ek kan besluit om ’n skildery van iets te maak, maar ek kan nie besluit om ’n gedig te maak nie. Die meeste gedigte kom vanself van iewers af.
CS
Van die verse is ’n kopknik na groot geeste soos NP van Wyk Louw, Breyten Breytenbach, TT Cloete en Petra Muller; opdragverse vir die Akademie vir Wetenskap en Kuns se reeks oor Hertzogpryswenners. Jy kén die litêrere tradisie. Jy was dekades dosent en is steeds buitengewone professor met meer as vyftig akademiese essays op jou kerfstok. As literator, het jou geweldige literêre kennis jou ooit lamgelê, of dien dit eerder as inspirasie?
HdP
Ek besef maar te goed dat ek in ’n dubbele hoedanigheid met die letterkunde besig is. Toe ek jonk was, was ek inderdaad oorweldig oor al die ou grotes wat oor ’n mens se skouers loer, maar ek het later besef elke mens is uiteindelik tog uniek en mens moet maar waag en skrik en dan weer waag. Wanneer ek skryf, dink ek nie aan my werk as iemand wat die letterkunde onderrig het en aan al die teoretiese aspekte van die letterkunde nie, absoluut nie. Trouens, ek is soms benoud wanneer ek so argeloos aan die skryf raak, maar mens skryf met ’n ander ingesteldheid en vanuit ’n ander drang as wanneer jy akademies besig is. Akademiese werk is maklik want dit verg net kennis en logika maar as dit by kreatiewe denke kom, moet alles bedink word asof dit nog nooit voorheen vir jou bestaan het nie. Dit is ’n veel vaer en gans ongemerkte ruimte waarin jy beweeg en die linkerbrein speel dan gans en al tweede viool. Wanneer ek herlees en redigeer, weet ek dat my kennis meewerk maar ek hoop dat wat dan inskop liewer die aanvoeling is wat ek deur jare se omgaan met die letterkunde ontwikkel het. Nogtans vertrou ek soms die instinktiewe oorspronklike meer as die later meer bedagte idees wat bykom by die halfvoltooide gedig. Ek is nie meer bang vir beïnvloeding nie want ek hoop ek het genoeg gelees en lees steeds genoeg en ook wyd genoeg en ongeordend genoeg dat daar ’n soort chaos van literêre aard gemeng met allerhande ander soorte kennis in my brein is. Met groot omsigtigheid verkies ek om te dink dat alles wat ek weet en voel in die onderbewuste saambroei en dat daar nie een skrywer of teorie of ideologie is wat oorheers nie. Soos mens ouer word, leef en dink jy veel meer geïntegreerd omdat alles nou al gemaklik in jou brein ingenestel is en jy steur jou buitendien aan minder dinge.
CS
“Kuur” handel oor die Covid-pandemie. Om te skilder kan tog terapeuties wees. Dié kreatiewe kuur word egter bevraagteken in die gedig daarna: “verruklik alles in so ’n stillewe, en nutteloos, die smaaklike oorvloed bedrieglik bedoel om te troos.” Wat is digkuns en skilderkuns meestal vir jou: ’n troos, ’n kuur of ’n desperate “Hou vas, want alles, alles gaan verdwyn” ?
HdP
Om te skilder is inderdaad terapeuties omdat dit jou besig hou en baie konsentrasie verg, omdat dit meestal jou fokus rig op iets buite jouself wat goed is vir trauma. Dieselfde geld vir skryf (hoewel skryf ook soms in ’n naeltjiekykery kan ontaard). Die kreatiewe aktiwiteite bring persoonlike verligting, afstand, selfs genesing en dikwels vreugde na gelang van omstandighede, maar die feit bly staan dat die wêreld waarin ons vandag leef, die produkte van kreatiwiteit nie hoog ag nie. Kyk maar na mense se gesigte as jy probeer sê waarmee jy besig was en dit is ’n digbundel, vra maar vir galerye hoe treurig die verkope van skilderye verloop. Ons wat hierdie soort dinge maak, sit dikwels met al ons skatte in ons eie huis en haard al sou ons dit hoe graag wou deel. Die stillewe en die gedig is dus nutteloos gemeet aan die standaarde van die geldbenewelde werklikheid, maar dit pla die digter en vir ou Willem Kalf, die skilder van stillewes, klaarblyklik nie. Hulle hou aan en vaar voort want die drang waaruit hierdie soort werk vir die toegewyde kunstenaar ontstaan, is iets gans anders as wins.
Dit maak nog twee opmerkings nodig: Die eerste is dat baie skrywers van hoogstaande gehalte, vaardige en ervare mense, ook markslim is en hulle skryf boeke wat verkoop. Hulle ken hulle mark, hulle weet waarvan mense hou, wat mense gaan boei en hulle gebruik hulle vaardigheid om so ’n produk te maak. Dieselfde geld vir skilders: sommige weet hoe om die regte soort blomme, landskappe, wit huisies en donkiewaentjies te skilder met die grootste vaardigheid, soms selfs benydenswaardige tegniese vaardigheid, en hulle werk verkoop. Hiermee is niks verkeerd nie, maar daar moet plek wees vir die stiller dink en praat, vir diegene wat nie wil of kan meeding op die markplek nie, want daar is sulke mense ook. Hulle besinning is minder opspraakwekkend as ander kunstenaars s’n wat harder en sterker stemme het en baie aandag trek (hetsy vanweë onderwerp of styl), maar hulle werk is nie noodwendig minder relevant of belangrik nie. Daar is ander mense wat weer daarvan kan hou.
Die tweede opmerking gaan oor die oorlewingskrag van byvoorbeeld die poësie en die skilderkuns. Die stillewe van Willem Kalf is baie doelbewus gekies vir die gedig. Hy was ’n tydgenoot van Rembrandt, en hoewel minder bekend staan sy werke na meer as drie eeue steeds in boeke oor renaissancekuns afgedruk. Hy het dalk wel vir ryk mense hulle weelderige artikels geskilder om daarvoor betaal te word, maar Rembrandt was voortdurend finansieel in die knyp. Hulle werk oorleef hulle nogtans en bly verruklik mooi. Dit bestaan steeds. Gaan vra jou slimste ekonoomvriend of hy weet wie was die slimste en suksesvolste sakeman in die tyd van Shakespeare, maar almal weet van Shakespeare. Bernlef het ’n gedig geskryf oor ’n stillewe waarvan die bak gebreek en die appels opgeëet is. Maar dan sê hy al het die stillewe vergaan “is er hier een bijgeschreven”. En Umberto Eco se verduideliking van die naam van die roos gaan juis daaroor dat dinge vergaan en woorde oorleef. Daarom, gedrewe deur ’n innerlike dryfkrag, bly die skilder skryf en die digter dig. En ironies genoeg oorleef hierdie oënskynlik “nuttelose” werk verbete, beter as baie pragmatiese en winsgewende dinge. Want die nut daaarvan lê op ’n ander vlak, op die vlak van die gedagtegoed en kulturele nalatenskap, op die vlak van denke en ’n geestesaktiwiteit soos kreatiwiteit in verskillende lande en tale.
CS
Enkele verse lewer sosiale kommentaar oor moord, misdaad, volksskuld, angs en die nostalgie van veiliger kinderjare. Jou hantering van die kwessies is subtiel en skaamteloos getrou aan jouself. “Beeneerlik,” om jou woord te gebruik. Het jy ooit as Afrikaanse digter die druk gevoel om meer polities aktief te skryf?
HdP
Dit is eintlik ’n natuurlike vraag met ’n gekompliseerde antwoord. Natuurlik is mens mateloos aangegryp deur die geskiedenis en die hede van hierdie land, en ook diep bekommed oor die toekoms. Maar ek dink altyd ek kan net skryf oor wat ek waarlik goed ken en verstaan. Ek het nooit in ’n township gewoon nie, daardie geluide gehoor, daardie reuke geruik, daardie atmosfeer aangevoel nie. Ek gaan ook nie ander groepe se smart toeëien, hulle ervaring – ideologies of andersins – namens hulle beskryf nie. Hoe treffend ookal is dit inderdaad soms onregmatige appropriasie. Soos J.M. Coetzee in Disgrace skryf dat die swartman Petrus self sy storie moet vertel. En dan is dit ook so dat elke standpunt oor Suid-Afrika ’n direk teenoorstaande standpunt kan ontlok sonder dat een van die twee noodwendig verkeerd is. Vandaar dat ek so versigtig is en eerder indirek ’n bepaalde problematiek aandui as wat ek oor die materie van ’n spesifieke saak geweldige uitsprake wil maak. Dit gaan ook vir my dikwels meer oor die emosionele impak van wat gebeur, die hantering agterna wat mense se lewens beïnvloed. Dalk is ek ’n agtergeblewe modernis, want al het ek ’n intense hekel aan magsbehepte mense en strukture en al weet ek dat subtiliteit meestal onopgemerk verbygaan, sou ek liewer mense aan die dink wil sit as vir hulle skree.
Oor nostalgie: Eintlik is SA voosgeskryf en gepraat. Maar ons is daar binne-in en dit is onvermydelik dat mens oor die werklikheid nadink. Nostalgie is sekerlik nie ’n goeie ding nie – en niemand wil die verlede in politieke sin terughê nie, maar ons het heimwee na dit wat daar was wat meer was as die politieke bestel. Braam te Vries skryf in een van sy verhale oor die mense van die Klein Karoo dat hulle soveel meer was as wat die politiek weerspieël. Noudat ek weer na die gedigte kyk, dink ek dit is miskien waarom dit vir my gaan, daardie bykomende aspekte van menslikheid, wellewendheid en selfs liefde wat in die huidige openbare gesprek is soos dinge wat nooit bestaan het nie.
CS
Sedert jou digdebuut in 1997, die donker is nooit leeg nie, vind ons ’n spanning tussen duisternis en lig. Die woord “lig” verskyn dertig keer in jou nuwe bundel, asook verwante soos “deurskynend”, “deursigtig”, “helder,” “strale” en “gloed”. In een gedig haal jy Leroux aan wat gesê het hy skryf “om ’n vonk van die ewigheid te vang”. Selfs die dood is “sterbelaaid”. Jou verse is ligsoekend, hoopvol. Vloei dit uit ’n geestelike bewussyn?
HdP
Miskien is iemand wat so na lig soek, juis iemand wat van die donker bewus is. Dit gaan ook daaroor dat niks ooit heeltemal eenselwig lig of donker is nie, maar dat donker en lig mekaar afwys en daardeur opvallend word (die donker is nooit leeg nie). Alle betekenis kom immeres tot stand omdat daar vir elke term ’n teenoorgestelde en ’n negatief is. Iets wat wel vir my altyd opvallend is, is hoe naby kontrasterende dinge aan mekaar lê, hartseer en vreugde, lig en donker, afskeid en ontmoeting, en dalk is lig die metafoor vir al die goeie dinge wat daar kan wees as mens jou oë daarvoor oopstel.
CS
Verwondering oor die skepping, die hemel, aarde en see is volop in die verse. “Die wind is jou metgesel.” En: “waar jy ook al gaan, gaan die winde met jou saam.” En: “Onsienlikheid… is soos wind wat alle leemtes vol maak.” Dit laat my onthou: Die Hebreeuse woord ruach beteken wind, asem en gees. Sou mens die “wind” in die versreëls hier bo kon vervang met “gees”?
HdP
Ek skryf oor die wind omdat Jeffreysbaai werklik ’n winderige plek is. En ons woon reg langs die water en dit voel soms of ons die dorp se windbreek is. Maar wind het baie assosiasies. Dit is die een voordeel en voorreg van ouer word: ’n mens het baie herinneringe en alles wat jy sien en beleef en waaroor jy dink, roep baie assosiasies op. Daarom is die wind vir my veel meer as ’n natuurverskynsel, dit is lewe en lug, heelal, dit is gees, asem, maar ook alles wat abstrak is soos denke. Die Hebreeuse woord vir wind is soos jy noem ruach, en dit is dieselfde woord wat vir gees gebruik word. Ook in Latyn (animus, spiritus) en Grieks (ánemos, pneuma) en in baie ander tale is daar ’n verband tussen wind en gees en die ontasbare. En die woord ruimhartig kan ook gelees word as ’n sinoniem vir genadig.
My bewustheid van wind kom van ver af. Ek het al in vorige bundels windgedigte geskryf. Daar is een lang gedig in Die stilte opgeskort wat eintlik gaan oor ’n gesprek wat ek en Elize Botha gehad het oor wind, na aanleiding van Carlos Ruiz Zafon se roman The shadow of the wind. Maar daar is ook ander. Ek dink nie ek sou die woord wind direk met gees wou vervang nie, liewer die wind sien as metafoor vir die onsigbare, vir alles wat nie gesien kan word nie, wat sekerlik uiteindelik die groot Onsienlike insluit. Geloof is immers net ’n vaste vertroue in God en nie ’n natuurwetenskaplik bewysbare proses of entiteit nie. Dit is so ’n plat of vlak uitkyk op die werklikheid en die geskiedenis as mens sou glo en dink dat net wat jy sien, bestaan, dat net dit wat jy as individu onder woorde kan bring, bestaan. Die beste brein is maar beperk. Die wonderlike is juis dat daar soveel is wat mens nie weet nie, nie ken nie, nie verstaan nie, soveel wat groter en ouer is as jy, wat langer kan oorleef as jy. En daarby kom dat daar altyd iets misterieus en veral iets mistiek van aard is wat ek nog kan ontdek en waarvan ek dan met verwondering bewus sal word. En daardie verwondering is vir my een van die bronne van die poëtiese denke.