Die Koms van die Rassis
(na NP van Wyk Louw)
Die mans het hom die eerste gewaar
toe die stof van die Nakba hom uit die verlede sou baar:
hy’t gekom oor landerye wat by voorvaders afgevat is
nou ʼn tuiste waar hul kinders in gehuggies rus –
die Jenin Vlugtelingekamp huis vir martelaars
tog gee internasionale bondgenote bes
word die onderdruktes omskryf as ʼn verwronge wespenes
van rebelrooi-hart wraaksugtige terroriste
maar is hul nie bloot net geskiedeniskompromiste
wat heenkome mos vind vir hulle volk en mense?
Hulle wat nou weereens uit huise geboender word
ten aanskou van die pers se kan-dit-nie-ontken-nie-lense.
En die wysgere van hul stam het geweet dat die dag sou kom
wanneer die wêreld op sou staan om toe te gee: “Die Rassis het gekom!”
– die Israemerikaners wat nie kan erken dis oorlogsmisdaad dié
uit swart en duister redes is hulle beleidsriglyne saamgeflans,
terwyl die mismaaksel, blywend, teen die Wesbank dans.
Oor die woestynvlaktes het hy te voorskyn gekom
in middernagtelike uur met die knal van skouermortiere wat ore stom;
skoolkindsoldate gepantser in ʼn arsenaal van gewapende haat
ruk mans en vroue uit hul wonings in ʼn verdere siklus van sy kwaad.
Dis die kinders wat in hulle beddens roer
slag na slag; hommeltuie teen uitspansel uitgevoer:
hy is êrens in die verlede verwek as: dis ons land dié
en geen Oslo of tweestaatoplossing kon hom terughou nie;
deur baie oorloë en kortstondige vredesverdrae is hy geskep
internasionale gemeenskap wat geen woord oor sy vergrype rep.
Was hy dan ook ʼn boorling van dié beknopte land
waar Jordaanvallei strek aan oostekant deur woestyn se sand?
Maar nou bult hy sy spiere; propageer vrylik dis sý vaderland
en tienduisend van die siele in hierdie kamp gestrand
juis as gevolg van die groot katastrofe van agt en veertig
dit terwyl hy dans, geen vreemde dans, almal sien die lug
en weet sy genadeloos-getransformeerde haat is nie ʼn klug
maar net ʼn uiting van wat ook in ander state moes kom:
die Rassis se dans, so herken ons hom en dié wat voor hom sou kom.
Geil van die begeerte om meer en meer
het hy in diepe nag gepropageer
dat stootskrapers, ononderbroke, hulle werk moet doen
om teenstrydig, met alles menslik, ideaal met plek te versoen
om so geboorte te gee aan die mismaaksel se wellustige dans
en hoe meer die mans moes smeek vir net ook ʼn kans
hoe meer word soldate op kontrolepunte gestasioneer
om die eens voëlvry stam goed te leer
aan die Rassis se dans is daar geen keer;
en om en om die landerye van eens vry olywe
skiet kindersoldate nou teiken op Palestynse lywe.
En met dieselfde slag as die fosforbomme van Operasie Lood-Gooi
word drie kinders nou die soldate se voor-die-hand-liggende prooi –
uit beddens geruk in die donker bose nag
elke besitting in die slag verkrag
om onder die vaandel van die reinigingsproses regverdigend te lag
maar kan ʼn mens die wyse waarop dit geskied ooit na waarde ag
in lig van ál die skade; die gruweldade
gepleeg uit niks anders ʼn strewe na sy kwade.
Traangas by hospitaal se vensters in
grootskaalse vernietiging na magsgewin;
uitbuiting, diefstal en plunder deur ʼn eens minderheid
en al die ander fasette van ʼn ondrukkingswerklikheid.
Mag Allah ons tog genadig wees
ons verlos van hierdie ingebore vrees
dat om elke draai van die lang pad terug huis toe
ons kinders verhoed sal word om meer en meer die smaak van wraak te proe
om – as Allah so wil – vir ons ʼn tuiste te skep buite die uitbuiting
buite die besette gebiede; aan die anderkant van kastyding;
ons ʼn lied te gee vir ons land en ook ons mense
ʼn plekkie – in ʼn wêreld sonder grense;
ʼn nedersetting waar ons vrylik kan kom en gaan
sonder Israeli Verdedigingsmagte op ons hakke
sonder Palestynse Bevrydingsweermag bepalend van ons barakke;
of Hamas of Fatah of vuurpyllanseerders se vuurpyle in die niet
net ʼn ons en onse mense in ʼn vreedsaam geharmoniseerde grondgebied.
En in die bouvalle van ál die puin het die vrouens koud gesit
geluister na die nag, stuk-stuk, in groepies, aanhou bid –
die kinders huilend, neulend, oor dit waarin hul gebore is
hul jong harte reeds met die soeke na vergelding toegerus.
En terwyl soldate luidkeels hul bespotting kraai
word die vlugtelinge weereens afgemaai
op ʼn nuwe roete na ʼn vaderland
die iewers, ʼn oase, in die woestyn se dorre sand –
tot dan, egter, bly die ondier se passies om en om
oor die vlaktes kom hul saamgedrom …
© Bester Meyer, 2023