Thomas Friz & Volker von Törne. Liedvertaling uit Duits in Afrikaans. Vert. deur Bernard Odendaal
ʼn Besinningslied oor die spanningsverhouding tussen skrywerskap en politiek
Deur middel van die vorige liedvertalings in hierdie reeks, en die konteksskeppende aantekening daarby, kon die verhaal van die Liedermacher-beweging gevolg word tot in die laat negentien-sewentigs.
Intussen, moet ’n mens nie vergeet nie, was Duitsland steeds in twee verdeel; die Skandmuur het steeds gestaan. Die Ystergordyn het nog swaar gehang tussen die kapitalistiese Weste en die kommunistiese Ooste.
Pogings van Oos-Duitse burgers om uit hul land te vlug na die Weste het onverpoosd voortgegaan. Die onderdrukkende politieke bedeling daar, en die kwyning van die kommunistiese nywerhede en ekonomie, het gewone mense aangevuur om hulle vryheid en heil in die Weste te gaan soek. Berekeninge wil hê dat meer as 5 000 ontvlugtingspogings oor die Berlynse Muur alleen aangewend is, waarvan meer as 3 000 misluk en tot inhegtenisnemings en swaar strawwe en onderdrukking aanleiding gegee het.
Tussen 1974 en 1976 het die Oos-Duitse regering die Muur verder versterk en die bewaking daarvan verskerp. Dis asof dit ’n verbete strewe geword het om die Muur tot ’n onoorkomelike hindernis uit te bou. Hoe koelbloedig die Oos-Duitse grenstroepe geword het, toon byvoorbeeld die gebeurtenis in 1975 toe dié troepe hulp geweier het aan twee klein Wes-Berlynertjies wat in die moeilikheid geraak het in die Spreerivier nadat hulle bootjie omgeval het. Hulle is sienderoë toegelaat om te verdrink.
Op 7 Oktober 1977 het Oos-Duitse jeugdiges tydens republiekdagvieringe uit frustrasie handgemeen met die Volkspolizei geraak. Hulle het “Die Mauer muβ weg!” (Die Muur moet weg!) gedreunsing, maar die opstand is bloedig onderdruk en drie jongmense het gesterf.
Vryheid van spraak, van gewete en kunsbeoefening is, soos dikwels in ander kommunistiese lande van daardie tyd, ernstig gekortwiek.
Die nywerheidsverval in die kommunistiese Ooste, en die gevare wat onverantwoordelike omgang met kernkrag en kernwapens in daardie stadium vir die wêreld ingehou het, is versinnebeeld deur die kernreaktorkatastrofe by Tsjernobil in Sowjet-Rusland.
Dit alles het die Liedermacher-beweging, wat in elk geval as identifiseerbare stroming aan die verval was, in ’n identiteitskrisis laat beland. Dieter Süverkrüp, oor wie se “Kersies op slagroom” daar ’n vorige keer in hierdie reeks geskryf is, het na aanleiding van die Tsjernobil-voorval aangekondig dat hy nie meer as Liedermacher bekend wil staan nie. Sy argument was dat ’n katastrofe van die Tsjernobil-soort, asook die verskeurde sosiaal-politieke toestande in die wêreld, ’n bewys was dat bemoeiing met liedskepping en die strewe om daardeur ’n maatskaplike invloed uit te oefen, ydel geblyk te gewees het. Volgens hom het dit absurd geword om nog as Liedermacher te wil werk.
Die digter Volker von Törne (1934–1980), van wie ons eweneens voorheen in hierdie reeks verneem het, het in sy gedig “Frei wie ein Vogel” (“Vry soos ’n voël”) die gespanne verhouding tussen skywerskap en politiek aan die hand van slagoffers uit die Duitse geskiedenis uitgedruk. Die verwysings na die droewige lot van bepaalde literêre figure word nogal kripties aangebied; in die Afrikaanse vertaalpoging word dus vryer as gewoonlik met die oorspronklike stelwyses omgegaan om betekenistoeganklikheid te probeer bevorder.
G’n wonder dat een van die belangrikste Liedermacher, en een wat al herhaaldelik in hierdie reeks vermeld is, naamlik Thomas Friz, dié gedig sou toonset nie. Dit verwoord die problematiese verhouding wat talle van die Liedermacher met hul vaderland aangevoel het, juis in die jare sewentig en tagtig. In die lied hoor ons die name van enkele Duitse skrywers uit die verlede wat gely het, wat selfs vervolg, gemartel en doodgemaak is, weens heersende sosiopolitieke of religieuse beskouings. Vir Thomas Friz was so ’n vervolgingservaring nie net ’n abstraksie nie. Sy uitgesproke links-liberale politieke oortuigings het in Januarie 1994 tot gevolg gehad dat hy in ’n voorval so erg deur regs-radikale Skinheads aangerand is, dat hy ’n hele ruk in die hospitaal moes deurbring.
Tragies soos sulke gebeure is, bewys hulle ironieserwys dat die pogings van die skrywers en Liedermacher miskien nié so absurd is as wat Dieter Süverkrüp gevrees het nie. Hulle vervolging is juis ’n teken dat wat hulle sê en sing, tog ernstig opgeneem word – al is dit om die verkeerde redes.
Frei wie ein Vogel
Sänger bin ich, und ich sing
Mir die Dunkelheit vom Leib
Damit ihr nicht, wie den Von Kleist
Mich nackt in eine Grube schmeißt
Bevor aus deutscher Finsternis
Ich mir ein Stückchen Leben riß
Ich grüß, getrost auf Messers Schneid’
Herrn Walther von der Vogelweid’
Der auch in diesem Vaterland
Erst unterm Rasen Ruhe fand
In Würzburg, wo ein Knecht hernach
Des Riemenschneiders Hände brach
Ja, Hochverrat und Hirngespinst’
Nennt dieses Volk die Schönen Künst’
So zog in eines Feuers Rauch
Von dannen Quirin Kuhlmann auch
Ach! endlos ist die Litanei
Des Leids… im Lande Vogelfrei
O Land der Träumer und der Toten
Die dem Tod die Stirn geboten
Und mußten doch ins Dunkel fliehn
Wie jener Friedrich Hölderlin
Der, daß er unter Deutsche kam
Sich zu sehr zu Herzen nahm
Wie in Paris einst Heinrich Heine
So lieg ich schlaflos nachts und weine
O Volk, das sich bei Marschmusik
Dreht um den Hals den eignen Strick
Du hast die Freiheitsmelodien
Deinen Sängern nie verziehn
O Volk der treuen Untertanen
Mit Hakenkreuz und Abgasfahnen
Im Land, das mir einst Heimat war
Mit Apfelbäumen, Mädchenhaar
Das meinen Mund mit Schweigen schlägt
Und das mir doch das Herz bewegt
- Teks: Volker von Törne (uit die bundel Im Lande Vogelfrei, Verlag: Klaus Wagenbach, Berlyn, 1981); toonsetting: Thomas Friz (ingesluit op die CD Heimatland, ade, Verlag: ‘pläne’ GmbH, 1996); te beluister by die volgende internetskakel: https://www.youtube.com/watch?v=o5upXY32OHI
***
Voëlvry
Sanger is ek, en ek sing
om die duister te verdryf.
Von Kleist se lot skrik mens so af:
’n selfmoord en ’n niemandsgraf …
Al stem my Duitsland my morbied
gryp ek na lewe met my lied.
Ja, middeleeus kan lirikus
Von der Vogelweide rus.
Hy was in dié verdwaasde land
teen onreg ridderlik gekant …
in Würzburg, waar hy rus, is wéér
kritiek met kru geweld besweer.
Soos hoogverraad en heksery
word kunste hier met vuur bestry;
selfs in die verre buiteland
moes – ketters! – Quirin Kuhlmann brand.
Ag, ewig hou die klaaglied aan
oor leed … in hierdie voëlvryland.
O land van dromers, doodsveragters,
nuwe-daeraad-verwagters –
maar wat die nag soos straf uitdien
as nóg ’n Friedrich Hölderlin,
wat Duitsheid as bestaansprobleem
alte veel ter harte neem.
Soos in Parys eens Heinrich Heine
lê ek ook wakker langs ’n Seine:
O, volk wat marsmusiek hoor speel
– ’n tou geknoop om eie keel –
vir liedkuns van die vrye gees
was jy altyd doof gewees.
O, volk van troue onderdane,
van hakekruise, as-rookvaandels;
o, land van toet, geboortegrond,
met appelbome, meisies blond;
o, land wat my met stomheid slaan …
en tog my hart aan ’t sing laat gaan!
Beste Gerard
Ek was as sestienjarige seun in Oos-Berlyn op ‘n halfdagbesoek saam met ‘n klein groepie Suid-Afrikaanse skoliere. Ons moes vergesel gaan van ‘n Oos-Duitse amptenaar en is daarop gewys dat net sekere besienswaardighede gefotografeer mog word: die Brandenburger Tor, die Kriegsgedenkmal, die hoofgebou van die Humboldt Universitat … Die amptenaar het ons na ‘n kafee geneem waar ons iets te ete en drinke kon koop. Ek en een van my mede-skoliere het egter, toe die amptenaar wegkyk, by ‘n ander winkeltjie ingeglip as die een wat hy aangewys het. Dit was skokkend om te sien hoe leeg die rakke in daardie winkeltjie was, in vergelyking met die een waarin ons eintlik toegelaat was om te kom. Seker ‘n soort “window-dressing” vir buitelandse besoekers gewees … Net mooi ‘n jaar gelede was ek bevoorreg om weer in daardie dele van Berlyn te kon rondstap, en te sien hoe dit glad nie meer so duidelik te onderskei is van wat eens Wes-Berlyn was nie!
Beste Bernard,
eenmaal heb ik een bezoek gebracht aan Oost-Duitsland, toen de muur nog stond. Een bijzonder ervaring, vol tegenstrijdigheden, waar ik nu weer aan terugdenk. Het grauwe Oost-Berlijn en de tegenstelling met West-Berlijn. Het platteland, het bezoek bij een dominee, die op zondag vijf hoogbejaarden in zijn kerkje had en na afloop van de dienst op het kerkplein op een trompet speelde. Het bezoek aan een cafe waar je in een rij moest gaan staan om binnen gelaten te worden. Drie er uit, drie er in, om als je eenmaal aan de tap stond te horen dat het sluitingstijd was.