Konstantinos P Kavafis. Van Alexandrië na Ithaka: Konstantinos Kavafis in Afrikaans. Vert. deur Louise Cilliers. Naledi. 2023
Resensent: Charl-Pierre Naudé
- Resensent se verantwoording van die resensie
Dit mag lesers vreemd opval dat ʼn resensent sy resensiestyl wil motiveer. Dit het te doen met die aard van die werk onder bespreking, naamlik ʼn bundel vertalings.
Die vertalings ter bespreking in die onderhawige resensie verskyn sonder die bronteks, en nie om dowe neute nie. Die bronteks is in moderne Grieks, wat min Afrikaanse lesers met nut sou kon raadpleeg. Om dieselfde rede verskyn vertalings van Kavafis en ander moderne Griekse digters soos Giorgos Seferis of Odysseas Elytis in Amerika of Brittange ook meestal sonder die bronteks. (Vertalings is duur om te publiseer en hierdie werkwyse spaar ook geld.)
Daar moet ook in gedagte gehou word dat Kavafis in die Griekse alfabet skryf wat vir Westerse lesers meestal ontoeganklik is.
In die plek van die bronteks word die vertaling gewoonlik vergesel van ʼn uitgebreide voorwoord en aantekeninge, om die leser te help om die oorspronklike gedig redelikerwys te konstrueer. Dit is hierdie voorwoorde, inleidings en notas (van sewe vertalings van Kavafis in my besit), wat ek gebruik het vir my eie redelike konstruerings van die oorspronklike gedigte deur Kavafis wat hier bespreek word.
Om verskeie vertaalde bronne te gebruik om jou eie voorstellings van die oorspronklike te konstrueer, lewer ʼn hoë waarskynlikheid van akkuraatheid, maar die kans dat iets verlore gaan, is altyd daar. Dit is ʼn werkwyse in meeste tale waarin Kavafis vertaal is, en die oorspronklikes kan deur die arbeidsame of besete leser self op die internet nagespeur word.
Alle bronne word in die Bibliografie vermeld met bladsynommers na die notas. Ek gebruik veral drie vertalers (sien verderaan).
Enige bespreking van vertaalde poësie vind tussen twee punte van verwysing plaas: a) die ooreenkomste met die oorspronklike, en b) die mate van oortuiging wat die vertaling in die ontvangertaal besit. Bundels wat sonder die bronteks gepubliseer is, begunstig hierdie tweede aspek as die vernaamste ter verwysing.
1.1. Kavafis in konteks
Konstintinos Kavafis, oftewel K.P. Kavafis – of soos hy sy eie naam in Engels geskryf het: Constantine P. Cavafy – is een van die mees sonderlinge stemme in die Westerse kanon van poësie van die twintigste en een-en-twintigste eeu. Nie net weens die bona fide sterktes van sy gedigte nie, maar ook weens sy eksotiese lewensverhaal. Nie eksoties omdat dit baie gebeurtenisvol was nie, juis was dit nie, maar oor sy tydsgewrig en die romantiek van die stad waarvan hy ʼn burger was, Alexandrië, in Egipte, en alles wat Alexandrië oor die geskiedenis vertel.
En Kavafis se roem groei steeds.
Die druk om Kavafis te vertaal wat alle letterkundes klein en groot aanvoel, is omtrent vergelykbaar met die druk in die vorige eeu om The Wasteland, van T.S. Eliot te vertaal. Helaas skryf Kavafis nie in die wêreldtaal Engels nie, maar in moderne Grieks. En dus is ʼn vertaling, selfs van een enkele gedig van Kavafis, as dit vanuit die oorspronklike Grieks gedoen word, absoluut kosbaar.
Hier kry Afrikaans nou 44 gedigte deur Louise Cilliers vertaal uit die oorspronklike moderne Grieks. Cilliers is ʼn gerekende klassikus en is by uitstek die soort persoon wat hierdie gedigte, met hul veelvoudige klassieke toespelings en heenwysings, moet vertaal.
Soos ek die inleiding van Cilliers verstaan, was daar twee vorme van moderne Grieks vir Kavafis beskikbaar, puristies en demoties: enersyds die “hoë” taal van die kerk en die staatsfunksies (puristies), en die “laer” taal, van die gewone man op straat (demoties of volks-Grieks).
Dié onderskeiding is tekenend van ʼn taal in fluksie, en die feit dat Kavafis, wat sy latere gedigte bykans uitsluitlik in demoties gelewer het, aan so ʼn realiteit onderworpe was wat betref sy instrument tot uitdrukking, is een van die vele feite oor sy lewe wat metafories is van die temas wat in sy gedigte aangeraak word. Kavafis skryf oor die mens, met sy ewigheidsversugtinge, en hoe hy altyd aan verandering onderworpe is.
Die feit dat Afrikaans as taal, en die sosio-politieke realiteit rondom Afrikaans, in ʼn soortgelyke toestand van fluksie verkeer, maak dit dubbeld gepas dat hierdie gedigte in hierdie ontvangertaal tuiskom. Dit is ʼn besonderse moment in die plaaslike vertaalkunde.
Ek besit verskeie vertalings van Kavafis se werk (om en by sewe, insluitende die eerste vertalings wat deur sy broer gedoen is). Ek het Cilliers se vertalings met minstens drie beroemde vertalings in die Engels vergelyk, myns insiens die beste van die vertalers uit Grieks na Engels wat my eie boekrak aan my beskikbaar stel.
Ek het gevind haar taal- en registergevoeligheid is uitmuntend, soos ek sal aantoon, en dit vertoon baie goed met die drie ander, toonaangewende vertalers wat ek as verwysingspunte in hierdie resensie gebruik. Die vertalers waarna ek verwys is Stratis Haviaras; Edmund Keeley en Phillip Sherrard; en die soms verbluffende en onderskatte vertaler Theoharis C. Theoharis (my gunsteling van die drie).
Ek het ook die Nederlandse vertalings van Kavafis se erotiese gedigte, deur Hagar Peeters saamgestel, geraadpleeg. Dit het die lieflike titel Zo dichtbij te zijn geweest. (Sien die Bibliografie vir meer besonderhede oor die Engelse en Nederlandse vertalings.)
Cilliers se bydrae is een van die grootste vertaalprestasies in poësie in Afrikaans van onlangse jare, wat juis ʼn bloeitydperk was vir vertalings van literêre werke uit Nederlands en enkele ander Europese tale.
Kavafis skryf in ʼn plat, direkte praatstyl, wat egter ritmies skandeer. Hierdie golwende skandering móét in die vertaling oorkom, anders is alles verlore. (Afrikaans se poësie het vir dekades enkele soorte ritmes, veral soos deur Van Wyk Louw of D.J. Opperman bedryf, gelykgestel aan die digkuns per definisie.) Hierdie is die eerste stasie wat Cilliers met vlieënde vaandels by verbyvlieg. Ek gee een voorbeeld, die beginreëls uit: “Die graf van die grammatikus, Lisias” (bl. 66):
Vlák by die bibliotéék van Beiróét se íngang, régs,
dís waar ons die geléérde Lísias begráwe het.
Die ritmes in Afrikaans varieer, maar belig altyd op effektiewe wyse spanninge, stel ontknopings uit, skep dramatiese beklemtonings, help met die opstel van teenstellings, skep betekenisvolle herhaling, en vele meer. Die ritmes is deurentyd in diens van die narratief. Die narratief bevat gewoonlik ʼn nugter vertelling wat ʼn helder, toeganklike toneel of toedrag van sake op ʼn afstandelike maar emotiewe wyse teken, soms met ʼn ironiese kinkel of twee by, met ander woorde met ʼn intrige. Die vertelstof is dikwels doodeenvoudig, soos in “Kerse” (bl. 73), wat aan die Grieks-ortodokse liturgie herinner:
Die dae van ons toekoms strek voor ons uit
soos ʼn ry brandende kerse,
goue kerse, warm en helder.
Die dae wat verby is, lê agter ons,
ʼn droewige ry uitgedoofde kerse.
Dié naaste aan ons smeul nog,
Koue kerse, smeltend en druppend.
…..
Kavafis het hierdie eenvoudige gedig sy beste een (in die oorspronklike Grieks) genoem. ʼn Scenario met kerse is per definisie melankolies sowel as dubbelsinnig in register, weens die beeld wat refraksie suggereer. So eenvoudig soos dit is, só bedrieglik is dit ook. Dit is ʼn situasie wat in sy konkreetheid lyk asof dit nie verder gereduseer kan word nie, maar dan “verdeel” dit wel verder.
Die verteller weet nie so presies (soos wat die eenvoud van die beeld sou suggereer) waar “in die ry kerse” hy homself bevind nie, met ander woorde waar in sy lewe hy is nie, veral nie as die kerslig refrakteer nie, soos wat kerslig maak.
ʼn Nederlandse digter op besoek na Suid-Afrika het eenmaal met my verskil toe ek gesê het Kavafis se versteekte metaforiek moenie onderskat word nie. Sy punt was Kavafis werk nié met metafore nie, dit is net die konkrete situasie. Maar as die konkrete situasie resoneer, soos dit kennelik doen, dan is die metaforiek nié in finale arres nie, want resonansie impliseer ʼn verdere punt van betekenis. Die “metafoorlose” scenario het sélf die metafoor geword.
Kavafis se gestroopte situasies het iets weg van die klassieke Latynse digters, soos Horatius, se blote gegewendheid – van tafereel of situasie – waarmee die gedig werk. Ter sake by Horatius is, sê maar, gewoon die sketsing van ʼn bukoliese toneel. Die vers dra nie enige tekens van bewustelike en opsetlike komplisering soos gekry in die moderne digkuns van amper tweeduisend jaar later nie. En tog is Kavafis se werk, wat my aan hierdie Latynse digters herinner, intense moderne digkuns. Die problematisering in die gedig se terme – soos gevra deur die eietydse gedig – is tog daar, soos in “Ithaka” (bl. 31), waar die waarde van die reis (van “op pad wees”) die gegewe waarde, van aankoms, vervang; of soos in die gedig “Verraad” (bl. 28) waarin die verraad van ʼn godheid, in hierdie geval, Apollo, in strakke reliëf gegooi word teen die kwesbaarheid van die mens in sy gewilligheid om in iets hoër as homself te glo. Die toonaard van die gedig is nié die Antieke Tyd se aanvaarding van die grille van die gode en laasgenoemde se reg om te doen wat hulle wil nie; die toon is ʼn moderne bevraagtekening van die betroubaarheid van geloof. Dit is onder meer hierdie anachronistiese kombinasie van digterlike kenmerke wat Kavafis se werk vir my begoëlend maak.
Nog ʼn voorbeeld van die verdieping by Kavafis wat ek kan noem, kan gesien word in “Alexandrynse konings” (bl.45). Weereens is ʼn gegewe toneel bloot geskets. Hierin word die oënskynlike verwondering van die gepeupel met die koningskap op heimlik ironiese wyse geteken en ondergrawe:
[hulle is] betower deur die skouspel –
selfs al skat hulle die gebeure na waarde,
Al besef hulle die koningskappe is leë woorde.
Die feesvieringe is eintlik maar net ʼn verskoning vir die gepeupel om hulself met oorgawe te geniet. Dit is die ware “waarde” van die koningskappe wat so selfvoldaan hulself vier.
Ek sou die kruks van Kavafis se metaforiek as volg stel. In enige gedig is daar ʼn stel gegewens, sowel as ʼn metaforiese resonansie in die spel. Soms, soos by Kavafis, is laasgenoemde baie versteek of onderspeel, sodat dit amper lyk of dit glad nie daar is nie. En tog weet ons dit is daar omdat die gedig verby sy gegewens met jou praat.
- Kavafis se temas
Die bundeltitel “Van Alexandrië na Ithaka”, betrek twee terme wat veel verklap oor Kavafis se temas. Dit is ʼn goed gekose titel, en wat nie in die oeuvre self voorkom nie.
Alexandrië, die enigmatiese Afrika-stad aan die noordkus van die kontinent, gestig deur Alexander die Grote, was Kavafis se tuisstad wat hy ná ʼn jong lewe van omswerwinge, met een of twee uitsonderings nooit weer verlaat het nie. Die stad was in die digter se tyd ʼn enklawe van libertynse waardes in die voorskriftelike, Moslem-patriargie van Moslem-Egipte. Dit is tot vandag toe ’n stad met ʼn kosmopolitiese erfenis, en was onder meer lank onder die bestuur van die Britse kroon. Hierdie geskiedenis en geur van die stad het teweeg gekom deur middel van verskuiwende geo-politiek. Daar is die verval van die Ottomaanse Ryk teen die agtergrond van die reeds vergane Bisantynse Ryk, wat in wese die Weste soos ons dit vandag ken, gelewer het. In hierdie geopolitiek kom Egipte ook ter sprake omdat dit die land is waarin Alexandrië geleë is.
Die Antieke, die Middeleeue, die Renaissance, die Moderne – en Afrika, Europa, die Levant. Alles kom hier in Alexandrië bymekaar uit.
Kavafis het as kind in Londen skoolgegaan en ook ʼn ruk lank met sy familie in Konstantinopel gewoon. Hy het gekom uit ʼn gegoede familie, van wie die fortuin deur wanbestuur na die pa se dood erg gekwyn het. Kavafis moes ʼn lewe maak deur sy lewe lank in ʼn tydelike administratiewe regeringspos te werk, terwyl hy ook die markte gespeel het met wat van sy familie se fortuin oor was. Hy was sinies op ʼn beleë manier, en nuuskierig met die wysheid van eeue wat hulself herhaal.
Die roerende ooreenkomste tussen sy persoonlike lot en die historiese werklikhede waarin hy geskoei gestaan het, tref die leser voortdurend.
Kavafis skryf oor verval, en die dubbelsinnige en sanerende aard van besinning wat deur verval moontlik gemaak word, nadat die ego platgedruk is. Hy was ʼn oorwegend homoseksuele man, en hierdie tema, van ʼn ouer man wat droom oor die erotiese ervaringe van sy jeug, is ʼn sterk leitmotiv.
Die verval van ryke is een van die sterker temas en bied aan Kavafis sy ironiese en navrante materiaal. Dit sluit in die verval van die Romeinse Ryk, van die latere Bisantynse Ryk, en al die gewrigte van veranderinge wat die vervallende ryke deurgemaak het. Die Suid-Afrika van vandag, so sterk deur verval en oorgang gekenmerk, is ʼn besonderse omgewing om die trefkrag van Kavafis se verse in te ervaar. Lees, en huil. Lees weer, en lag. Maar word veral tot stilte gedwing. Wanneer die tyd van kostuum verwissel, dit is dan wanneer die keisers kaal loop.
Die suggestie in Kavafis is dat verval, en die afstandelikheid wat dit meebring, die beleë kunstenaar dikwels tot voordeel sal strek. Die mindere kunstenaars en kommentators – wat gewoonlik die waardigheid van hul eie bas wil red of blinkskuur – trek op groot vlamme vir kort rukkies, en verdwyn dan straks. Wie weet wie was Orophernes, seun Ariarates? Dit is die hubris van die tydelike wat die ootmoed van die ewige ontmoet.
Kavafis het in sy eie lewe min gepubliseer, maar sy gedigte het gesirkuleer, en volgens sommige kritici het dit ondanks Kavafis se skugter aard ʼn soort “mitiese status” bereik lank voor boekpublikasie. Hy is in 1863 gebore en het in 1933 gesterf. Die eerste uitgawe van sy versamelde werk word in 1935 gepubliseer, twee jaar na sy dood. Dit beslaan slegs 154 gedigte, die hele oeuvre, die meeste gedigte onder ʼn bladsy lank.
- Cilliers se vertalings in spanning met ander vertalings
Cilliers se vertalings is meestal helderklinkend en straal van reguit-segging en deursigtigheid. Hierin kan die aard van haar taal, Afrikaans, dalk ʼn rol speel. Vergeleke met die drie Engelse vertalers wat ek in die Bibliografie noem, staan sy kop en skouers in hierdie aspek uit. Interessant genoeg, is dit veral so betreffende die opstapeling van bysinne wat Kavafis se gedigte so sterk kenmerk. Afrikaans, soos Engels, in teenstelling met Duits, het nie merkers wat wys na watter term in die hoofsin die bysinne moet verwys nie, en so ʼn styl kan maklik struikel. Cilliers straal egter hierin. So lui die eerste strofe van “Tydens die mars na Sinope” (bl. 41):
Mithridates, magtig en beroemd,
Heerser oor baie stede,
In besit van baie sterk leërs en vlote,
Wyk onderweg na Sinope af van sy roete.
Daar is ander voorbeelde van die opstapeling van bysinne, wat so gedoen word dat onderbreking (en die metaforiese resonansie hiervan) altyd beklemtoon word. Dit word beklemtoon in tema sowel as tegniek. Uit “Seleukides is misnoeg” (bl. 39):
Maar hulle moet ten minste die skyn bewaar,
ʼn sekere waardigheid behou,
nie vergeet dat hulle nog konings is nie,
dat hulle helaas nog konings genoem word.
(Ek mis ʼn dubbele nie in daardie laaste reël, soos dalk ook enkele ander plekke in die bundel. Dit ontsier.)
Let op die tegniek van herhaling, wat plaasvind met enkele klemverskuiwings. Dit is ʼn treffende poëtiese tegniek en word in die prosa ewe treffend deur Karel Schoeman aangewend.
Die opstapeling van bysinne lewer ʼn hoogtepunt met die afloop van “Caesarion”, oor die seun van Kleopatra en Julius Caesar. Caesarion, wat beteken “kleine Caesar”, is as jongeling om die lewe gebring met die val van Alexandrië voor die magte van Octavianus (die latere keiser Augustus) die stad binnegetrek het. Die verteller lees ʼn boek oor die tydperk en verbeel hom die skone Caesarion se gestalte verskyn in sy kamer soos wat dit bestaan het kort voor sy dood. Let op hoe die gedig hierdie feite suggereer:
So perfek het ek jou opgetower
dat gisteraand laat
toe my lamp doodgaan
(ek het dit met opset laat gebeur),
ek jou teenwoordigheid
in my kamer aangevoel het –
jy het daar voor my verskyn soos jy
in die verowerde Alexandrië
moes gestaan het –
bleek, uitgeput,
maar volmaak in jou verdriet,
steeds met die hoop
dat daar erbarming sou wees
by die gepeupel
wat “te veel Caesars” mompel.
Wat duidelik is, uit byvoorbeeld die laaste reël, is dat Cilliers ʼn stewige hand met die eksentrisiteite van die Afrikaanse tydvalle het. Sy gebruik die teenswoordige verlede tyd en die toekomstige verlede tyd op onberispelike wyses, wat onder meer Kavafis se spel van onmiddellikheid in spanning met die verlede en toekoms, tot lewe bring. Hierdie bepaalde illusie van Kavafis, dat die verlede en die hede en soms die toekoms ook gelyktydig teenwoordig is, is ‘ʼn wonderlike effek.
Die aangehaalde stuk toon ook die gebruik sinsverkapping deur middel van reëlbreuke, wat sentraal vir Kavafis se trefkrag is, en wat hierdie vertaler ook behendig hanteer.
3.1. ʼn Voorbeeld waar die Afrikaans die Engelse vertalings troef
Ek wil graag Cilliers se vertaling “Die gebed” bespreek in spanning met Haviaras, Theoharis, en Keeley en Sherrard se drie vertalings hiervan onderskeidelik. Eers Cilliers s’n:
Die see het ʼn matroos in sy dieptes ingetrek.
Sy moeder, onwetend, neem ʼn kers,
Steek dit aan by die voete van Maria,
Vra vir ʼn spoedige tuiskoms, goeie weer –
En heeltyd spits sy haar ore teen die wind.
Maar terwyl sy bid en smeek
Luister die beeld, swaarmoedig en bedroef,
Wetend dat die seun op wie sy wag nie sal terugkeer nie.
Kyk nou na die laaste drie reëls van Haviaras se vertaling van dieselfde gedig getitel “Supplication” (bl. 33):
But as she prays, and implores, the ikon
listens, solemnly and sadly, knowing
the son she awaits will never return.
Die verpersoonliking van die beeld as synde iets wat sy eie gedagtes het, vind minder suksesvol by Haviaras as by Cilliers plaas. Hier volg dieselfde reëls in Keeley en Sherrard (bl. 34):
While she prays and supplicates,
the ikon listens, solemn, sad,
knowing the son she awaits will never come back.
Daar is steeds iets na my voeling in die Afrikaans wat die ander vertalings van dieselfde reëls troef. Kyk nou na Theoharis:
But while she faithfully wishes and prays,
the icon listens, solemn and sorrowful,
knowing he won’t come now, the son for whom she waits.
Al drie Engelse vertalings het onbetwisbare sterktes, maar die woord wat die ikoonbeeld se aard met die mens-aard verbind, is slegs by Cilliers te bespeur. Die woord wat dit aktiveer is “swaarmoedig”, wat kom net ná die woord “beeld”. Die woorddeel “swaar” bring tot lewe die klip-aard van die beeld maar verbind dit onmiddellik met ʼn emosie in die volgende woorddeel “moedig”. Hierdie woordkeuse is baie slim, en die vertaling slaag gevolglik op ʼn hoër vlak as die Engels.
3.2. ʼn Voorbeeld van hoe Kavafis sy tema in tekstuur omsit
In 3.1. het ek juis hieroor gepraat, en hoe Cilliers se vertaling soms meer geslaag is as die van die groot name.
Kyk nou na die laaste twee strofes van “Die beeldhouer van Tyana”, een van my gunstelinge onder Kavafis se gedigte. Die beeldhouer is self die verteller en vertel aan die digter (die hoorder) van wie almal hy beelde maak. Kyk hoe die aard van die bepaalde beeld in die sin tot gelyksoortige gedagte omgesit word in die gedig. By Cilliers:
Nou, geruime tyd al,
is ek besig om ʼn Poseidon te maak.
Ek het lank en diep gedink oor sy perde,
hoe moet ek hulle maak?
Hul liggame, hul hoewe moet so lig wees
Dat dit lyk of hulle glad nie die aarde raak nie
maar op water galop.
Maar hierdie werk is my gunsteling:
Toegewyd, met ontroering, en uiterste sorg gemaak.
Op ʼn warm somersdag by my opgekom –
My gedagtes in verhewe sfere.
Hy daar, die een van my drome –
ʼn jong Hermesermesss.
Hermes was die boodskapper-god wat vlerkies aan sy enkels gehad het, en wat al swewend oor die aardbol gefunksioneer het. Ek vergelyk weer die laaste drie reëls. Haviaras:
This one I conjured up on a warm summer day,
When my thoughts were soaring to lofty ideals.
This is the one I was dreaming of – a young Hermes.
Theoharis praat van
when my mind rose to ideal things –
this one came as I dreamt of the young Hermes.
En Keeley & Sherrard:
This one – it weas a summer day, very hot,
And my mind rose to ideal things –
This one came to me in a vision, this young Hermes.
Kavafis het etlike gedigte oor standbeelde, en hoe die sterflikheid in die gees van die mens hanteer word. Dit is uiters aandoenlike gedigte. Wat betref die huidige gedig, is Cilliers myns insiens die ander vooruit met haar sinsnede “verhewe sfere”. Nie net roep die woord “sfere” die onsigbare orde van die gode voor die oë nie, maar dit bevat ook die bykans homonimiese vonds van ʼn woordspeling met “sweef”.
3.3. ʼn Geval waar die Afrikaans tweede viool speel
Hierdie gevalle is baie min. Kom ons kyk na “Archilles se perde” (bl. 25). Die gedig gaan oor Patroklos wat in die Trojaanse oorlog sneuwel. Archilles het na ʼn argument met die ander Grieke hom aan die Trojaanse oorlog onttrek. Maar hulle smeek hom om na die stryd terug te keer. Archilles wil sy maters straf en stuur sy boesemvriend Patroklos in sy plek. En dit is ook dan wat Patroklos sneuwel. Die gedig gaan oor hoe die perde van Archilles (wat steeds in die strydperk is) huil toe hulle die dooie Patroklos aanskou. Archilles se perde is onsterflik, so die vraag is waarom huil hulle oor die sterfgang. Die perde huil nietemin oor die dood, al voel hulle dit nooit self aan eie bas nie. Hulle huil egter daaroor dat hulle tot in ewigheid die dood herhaaldelik sal moet aanskou. Dit is ʼn groot uitdaging! Of dalk huil hulle omdat die dood so ʼn groot universele ramp is. Dit is een van die mooiste gedigte van Kavafis, en Cilliers se vertaling is uitmuntend, behalwe vir een frase. Sy vertaal die sinsnede “speelgoed van die noodlot”, as verwysende na die perde, en al drie die ander vertalers vertaal dit as verwysende na die mensdom, wat as synde sterflinge die speelgoed van die noodlot is.
Ek het Cilliers lank gelede hieroor in ʼn e-pos uitgevra, toe sy van die gedigte aan my gestuur het vir kommentaar. Haar antwoord was dat die sinsnede se grammatikale verbuiging in die Grieks wys dat dit na die perde moet verwys. Dalk is dit so, maar kan dit wees dat Kavafis self ʼn fout gemaak het? Want in terme van die logika van die verhaal, is al drie die ander vertalers se keuse korrek en Cilliers sʼn verkeerd.
Sy het waarskynlik geredeneer dat die perde op ʼn indirekte manier, deur middel van hul handeling met die sterflinge, per ongeluk speelgoed van die noodlot geword het. Dit lyk vir my na die beste verklaring vir haar keuse. Maar ek behou my voorbehoud.
“Die begrafnis van Sarpedon” (bl. 26) handel oor nog ʼn sneuwelgeval in die oorlog teen Troje. Patroklos het die vegter Sarpedon, koning van Lisië en ʼn seun van Zeus, se lewe geneem. Sarpedon was een van Zeus se gunsteling-sterflinge, en deel van sy bloed. Maar ingevolge ʼn edik deur Hera, Zeus se vrou, uitgevaardig is Zeus verbied om Sarpedon te red “omdat al die gode dan hul menslike gunstelinge sou wou red”. Uiteraard was Hera jaloers, want Zeus het kinders by allerlei vroue gehad. Zeus besluit in die lig van die verbod om die beste hulde moontlik aan Sarpedon ná sy dood te bewys. Kyk na die volgende reëls:
Hy sal aan sy mees geliefde,
versaakte seun – deur die Wet so bepaal – hulde bring na sy dood.
In Haviaras staan daar:
His dearest son – whom he had abandoned,
For so said the Law – he will at least pay
Homage to in death.
In die vertaling van Cilliers is dit onduidelik of die Wet bepaal het Zeus sal hulde bring aan Sarpedon, en of Zeus verbied sal wees om Sarpedon te red. Waarna verwys “die Wet”? By nadere lees word dit duidelik, maar sommige lesers kan hier struikel. Hierdie onduidelikheid kom nie in een van die Engelse vertalings voor nie, en ek vermoed Cilliers was sku om woorde by te voeg ter wille van helderheid.
- Nog sterktes van Cilliers se vertaling
Die Afrikaanse vertaling gebruik Kavafis se gebruik van alliterasie, binneryme, en eindrym effektief. Die gebruik van eindrym is meestal oor reëls verspreid, so daar is geen indruk van formele rym nie, en tog het die rym sy bindende en andere effekte. Die gebruik van halfryme is ook efektief en skaad nooit die informele spraaktoon nie. Kyk na “kroning/ konings”; “bymekaar/openbaar”; “Kleopatra/parade”; en veral “Caesarion/stadion in die eerste strofe van “Alexandrynse konings”:
Die Alexandryne kom bymekaar
om Kleopatra se kinders te sien.
Caesarion en sy jonger broers,
Alexander en Ptolemeus,
nou vir die eerste keer in die openbaar
vir kroning as konings in die stadion
tydens ʼn manjifieke militêre parade.
- Slotopmerkings
Hierdie vertalings uit Kavafis is een van die dinge wat ʼn taal soos Afrikaans op internasionale niveau plaas.
Kavafis is ʼn verbasend subtiele digter. Ek sou graag sy poësie die grootste kragtoer van die komma en die aandagstreep in die Westerse kanon wou noem. Die komma en die aandagstreep – dit is faktore wat verbind sowel as verbreek: tydperke, mitologieë, en geskiedenisse.
In “Myres, Alexandrië, 340 n.C.” is die verteller uit huis ʼn toegewyde aan een van die antieke heidense gelowe. In hierdie gelowe het Olympos steeds die botoon gevoer. Die verteller het ʼn vriend, Myres, wat saam met die verteller en sy vriende ʼn lewe van jeugdige wellus gely het. Dit was ondanks die feit dat hulle geweet het Myres is ʼn praktiserende Christen. Die Christelike geloof is ʼn relatiewe jong geloof in hierdie tyd, en nie baie gewild onder die gevestigde families onder die Alexandryne nie. Dan sterf Myres, en die verteller bring hulde by sy sterfbed. Maar die Christelike rituele – so sorgvuldig beskryf – van Myres se familie vervreem die verteller so dat hy besef hy het die lieflike Myres vir ewig verloor. Die verlies hier word nie deur die dood gebring nie, omdat die gestorwene nog in die verbeelding sou kon voortlewe. Dit word deur ʼn vervreemdende godsdiens gebring, wat die verteller se herinnering aan Myres vernietig. Op ʼn rare manier word ʼn geloof, wat in ons hedendaagse psige met lewe-oorskrying verbind word, die bringer van vergetelheid vir ʼn ander tyd wat die gedig vir ons teenwoordig stel.
En nou staan die leser aan die ander kant van die tyd, waarin die Christendom die histories gevestigde geloof is wat bedreig word deur nuwe historiese insette. ʼn Pragtige gedig hierdie, wat Nietzsche se begrip van “ewige wederkeer” oproep.
BIBLIOGRAFIE
Cavafy, C.P. 1978. Poems by C.P. Cavafy. (Vertaal deur John Mavrogordato, met ʼn inleiding deur Rex Warner). Londen: Chatto & Windus. [“Introduction by Rex Warner”, “Translator’s Note” bl.1-11.]
Cavafy, C.P. 1992. Collected Poems. Revised Edition. (Vertaal deur Edmund Keeley en Phillip Sherrard). Princeton, New Jersey: Princeton University Press. [“Editor’s Introduction”, “Notes” en “Biographical Note” bl. 209-280.]
Cavafy, C.P 2001. Before Time Could Change Them. The Complete Poems of Constantine P. Cavafy. (Vertaal deur Theoharis C. Theoharis.) New York: Harcourt. [Sien “Foreword” deur Gore Vidal en ”Introduction”, maar veral “Notes on Selected Poems” bl. 320-353.]
Cavafy, C.P. 2004. The Canon. The Original One hundred and Fifty Four Poems. (Vertaal deur Startis Haviadas). Athene: Hermes Publishing. [“Foreword”, “Introduction” en “Translator’s Preface” bl. 17-25.]
Cavafy, C.P. 2008. Selected Poems. (Vertaal en ingelei deur Avi Sharon.). Londen: Penguin. [Sien veral “Notes” bl. 185-209.]
Kavafis, K. 2006. Zo dicht te zijn geweest. Een keuze uit zijn gedichten door Hagar Peeters. Amsterdam: Atheneum. [Peeters se vertaalkeuse is gemaak uit die werk van G.H. Blanken, maar sy het ook die vertaling van Hans Waren en Mario Molengraaf geraadpleeg, sien Nawoord bl. 107-118, spesifiek bl. 109.]
Kavafis, K. 2023. Van Alexandrië na Ithaka. Gedigte uit Grieks vertaal deur Louise Cilliers. Kaapstad: Naledi.
Boeiend om te lezen en uiterst informatief, vertalen is en blijft een moeilijke discipline en lijkt slechts weggelegd voor een enkeling.