Castle de Wildt
Lief, kom saam met my na die wildveiling
by Castle de Wildt in die Waterberg
waar kopers van heinde en verre kom.
Jy met jou khaki, leerhoed en rybroek
wag ons twee tot die groot houtdeure oop-
swaai en ons die arena binnegaan
waar kolligte helder op die ring val
en besoekers hulle plekke inneem,
kelners rondbeweeg en glasies weerklink.
Ons moet gou deur die katalogus blaai
met foto’s en stamboekgeskiedenis
van die trofeediere op die program.
Dan kom swartwitpens, buffel, swartspringbok
en swartrooibok een-een aan die beurt
en word ’n bot onder applous toegeslaan.
Maar vanmiddag koop ons ’n eenhoring
om te kan hervestig in die soetveld
van die vergete berge van my jeug.
© Johann Lodewyk Marais