Tik
Met apologie aan Seamus Heaney
Op die tafel van my bobene staan
my oop skootrekenaar; horisontaal.
Die sagte klik-klak-klank wat die knoppies maak
herinner my aan naskool wag tussen kantoorlessenaars:
my ma, wat sit en tik. Ek kon my verstaar
aan haar gebuigde rug, geken tussen rye op rye ander
wat in die stowwerige vertrek die jare om werk,
‘n rat in die ritmiese draai van toe se uitvoerende gesag
terwyl sy die hel uit haar tikmasjien slaan.
Sy het haar kop altyd na eenkant toe geknak, helder die oë
wat nooit van die bronmateriaal sou wegkyk nie.
Haar vingers kon dans, flink die letters laat spring
teen die inklint vas slaan en swart afdruk sinne agterlaat.
Behendig lig haar hand as sy die rollermeganisme terugskyf.
My moer, maar my ma kon daai sleutels laat sing.
Nes haar ma.
My ouma kon meer woorde per minuut tik
as enige ander vrou vanaf die Verwoerdburgtegnikon.
Sy het my eenmaal vertel hoe haar jonger lyf
vir meer as agt-ure foutloos getik het. Haar arms was moeg
en haar vingers styf, maar klaar moes sy die werk kry
met diensdoende deursetting en bereidwilligheid,
so het sy later die magistraat se gunsteling tikster geword
en vir twee dekades lank dit gebly. Dié tikster.
Die ou reuk van ink en papier, die meganiese weergalm
van vroumensmasjiene wat tik vir ure aaneen
in ‘n beknopte oopplankantoor bly by my.
Waar sou ek vandag so goed getik kon kry.
Op my skootrekenaar, met my een wysvinger
Google soek ek chatGPT.
Ek sal tik met dit.
© Eduan Naudé, 2023