Een is Twee
Lorca sê twee is nie ʼn nommer nie
maar ek sê twee is ʼn samekoms
van die mond wat hart word op papier –
van die ons wat nimmeralleen
anders is as die één wat ween
Lorca sê twee is nie ʼn nommer nie
maar ek sê twee wat een word
is soos die binnekring om die maan –
die een tot die mag twee wat saam
hulle reis deur die uitspansel baan
Lorca speel die spel van die dood
hoor ek Ingrid se woorde in hom
maar hulle twee is nie ʼn nommer nie –
dit spyt my maar my donker dood
moet nog koeibaai sê aan my nood
Ek ruik aan die gras van begraafplase
en die wind verklap die stilte as twee
maar dié buite die kring staan siel(s)alleen –
een in ʼn hart van swart; een in duister wese
en dus twee, nie ʼn dubbelspelnommer nie:
net ʼn hom en ʼn haar in eenheid gebaar
© Bester Meyer, 2023
Remember that the AVBOB Poetry Competition reopened on 1 August 2023. Visit our website regularly at https://www.avbobpoetry.co.za/ for editing tips and advice as well as updates about upcoming workshops.