Sinéad O’Connor
Niks vergelyk met jou
woede argwaan pyn
teen jou familie politiek die kerk
Die leeu en die kobra
jou simbole teen inkerkering
(soos) bipolariteit en ander geestesafwykings
hulpkrete misgekyk die pous
se foto opgeskeur hare afgeskeer
oor almal wat ongerymd optree
jy was iets dwingends dalk ‘n katekrese
met ‘n soeke na begrip teen
jou eie roekelose familie-romanse in
woorde ontbreek oor
wat jy artikuleer namens ons almal
dalk dat al die leuens
wat jy moes verduur juis
jou stem klokhelder
laat opklink teen onreg
die taal van musiek
is al wat oorbly metonimies:
ons staan bankvas luisterend sonder jou
© Joan Hambidge, 2023