Sover as ‘n engel te perd kan ry
Anita Visser (1952 – 2023)
Jou 70e vier ons
in ‘n Griekse restaurant
met blou teëls en skottels kos;
boonop dra die spreker blou –
glo die kleur van helderte
én melancholie. Nou ook rou.
Danie Visser se vrou is oorlede…
Wars van fieterjasies en voorgee was jy
soos ‘n spreekwoord:
spits, op die man af, puntig.
Uitstaande sjef en hoeder
van familie en vriende en kennisse.
Danie Visser se vrou is oorlede…
Ek sien jou frons oor dié gedig;
onthou ons gesprekke oor verloedering,
die brand by UCT met vuurkeëls
wat die lig inskiet en jou biblioteek tref.
By die interbib-afdeling staan jy almal by.
Danie Visser se vrou is oorlede…
Iewers staan dit opgeteken
ons lewe ‘n boek op bruikleen
met net soveel tyd en stempels
voor dit terug gevra word
deur die Onsienlike.
Danie Visser se vrou leef
in ons binnespraak
en herinneringe – al was
die dood ‘n opskepgas.
© Joan Hambidge, 2023