Resensie: Sirkelgang deur Johann Lodewyk Marais. Naledi, 2023. ISBN 978-1-991256-09-6
Resensent: Neil Cochrane
In 1983 debuteer Johann Lodewyk Marais met Die somer is ’n dag oud. Hy vorm deel van ’n toonaangewende groep Afrikaanse digters wat gedurende die 1980’s op die literêre verhoog verskyn en op verskeie maniere die Afrikaanse digkuns vernuwe. Joan Hambidge, Johann de Lange, Daniel Hugo en T.T. Cloete is ’n paar digters wat mens kan uitsonder. Nou is dit veertig jaar later. Sirkelgang – Marais se veertiende digbundel – het onlangs by Naledi verskyn.
Die bundeltitel en voorplatkunswerk beklemtoon reeds die sirkelgangmotief wat op ’n aantal wyses in die bundel benut word. In die openingsgedig beweer die spreker dat die aarde “oeroud én nuut” is en in die slotgedig word die sirkelgang van lewe en dood, hede en verlede asook dag en nag opnuut benadruk:
Dit is die uur om varkore te pluk
in die ruie tuin van vantevore
en oorkant na die graftes toe te neem
waar my voorouers steeds ter ruste lê
in bestrede en belaste aarde.
Die sirkelgangmotief beskik nie net oor ’n strukturele funksie in terme van bundeleenheid nie. Marais benut ook ruimer tematiese moontlikhede soos byvoorbeeld in “Beesmis” wat handel oor ’n ekologiese sirkelgang wat begin met die mis van Afrikanerbeeste en eindig met ’n organiese fees:
op dié dag se spyskaart: die voorkeure
van die heersers van die savanne
wat maak en breek, hulle harte uitstort
oor wat eetbaar, geurig en bros is
en uitgewerp word vir een en almal
om weg te dra, te vreet en te verteer
tot alles weer na die aarde terugval.
In die eerste afdeling val die klem op die oertyd en hominiede soos Australopithecus afarensis en Homo neanderthalensis wat steeds aanwesig is in die hede deur ontdekkings en uitstalruimtes asook deel vorm van die kreatiewe psige van die digter: “want oor duisende millennia heen / het hulle stilweg in mý weggeraak.”
Jeugherinneringe is ’n bekende tema in Marais se digkuns en kom weereens ter sprake in gedigte soos “Lucky packets” en “Steampunk”. Dit blyk duidelik uit dié twee gedigte dat die spreker reeds van jongs af ’n intense belangstelling in wetenskapsbeoefening het, verwonder word deur onkonvensionele denkwyses en oor ’n kragtige verbeelding beskik. Dit is juis dié eienskappe wat die spreker in ’n mate bevry van sy plattelandse jeug waar baie inwoners aan konvensionele verwagtinge voldoen:
Maar Pa het ’n lugskip wat met stoom werk
en van hier af oor hulle huis kan vlieg
dat ons vrindelik vir hulle kan wuif
en dan op die plaas Balmoral gaan land.
In die volgende afdeling word verder ingespeel op die spreker se jeugherinneringe in kontemplatiewe verse wat handel oor die Oos-Vrystaatse wêreld van sy jeug, familiegeskiedenis en spesifieke historiese gebeure. In sy jongste werk bied Marais miskien die mees onsentimentele blik op die wel en weë van ’n plattelandse jeug. In gedigte soos “Viceroy”, “An African farm”, “Charlotte” en “Kevin” skets die spreker nie ’n idealistiese prentjie van familiefigure en sy jeugjare nie, maar wys eerlik op die uitdagings van ’n plattelandse lewe en menslike gebreke – ook dié van ouers. In dié opsig bestaan ’n ooreenkoms met soortgelyke verse van Joan Hambidge.
Verder herinner die gedigte oor historiese gebeure aan miniflitse of skermgrepe waarin die spreker jou momenteel verplaas na die verlede –’n stuk geskiedenis wat jy kan sien, voel, proe en ruik. Dié soort verlewendiging en heraktivering van die geskiedenis word oortuigend hanteer in byvoorbeeld “Coach house”. Al is die verlede “’n ander tyd” bly dit steeds in die landskap, verbeelding en herinneringe aanwesig. Hede en verlede vorm deel van ’n betekenisvolle sirkelgang, alhoewel die spreker ook besef dat die verlede in ’n groot mate onherroeplik is. Dié aspek word goed verwoord in “Kersfees op Warden” as “’n laaste tante” skaars nog ag slaan op die hede wat nog te sê van ’n verre verlede.
Marais neem in “Reisplan” bestek op van sy posisie as digter in die Afrikaanse poësielandskap. Dié gedig vorm dus ook ’n sirkelgang betreffende Marais se digterskap en sy digterlike strewe van dekades gelede:
Ek wil my land
en die kontinent leer ken,
bewus net van sterre en wind.
Met ’n AA-kaart op my knie
reis ek my Afrika vol.
Die liefdesverse in die derde afdeling word ingelei deur “Daphne en Apollo” waarin dié mitologiese verhaal kreatief verplaas word na die Vrystaatse platteland. Dié gedig dien as aanvoorwerk vir die tema van onvervulde, onbereikbare en onvoltooide liefde wat ook in die ander liefdesverse ter sprake kom. Ek is wel nie oortuig dat die afdelingsmotto’s uit populêre lirieke van Josh Groban en Irene Cara besonders sinvol is nie. Dit pas gewoon nie by die strekking en stemming van die liefdesgedigte nie.
’n Hoogtepunt is “Kroegpraatjies” waarin verbande tussen liefde en terminale siekte gelê word. Verder is dié gedig ’n goeie voorbeeld van Marais se spesifieke aanwending van die praatvers en funksionele gebruik van ironie en suggestie. Ander siekteverse soos “Kevin” en “Die begrafnis” toon aan dat Marais pakkende siektepoësie skryf juis omdat hy breër biopolitieke kontekste met individuele lotgevalle in verband bring. In “Kevin” word ’n familietragedie verbind aan die Life Esidimemi-skandaal – een van die grootste bioetiese vergrype in die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Die uiteindelike impak hiervan op slagoffers word onthutsend en ironies deur ’n vraag-en-antwoord-patroon in die laaste twee strofes gesuggereer:
“Where am I going, Dad? wou hy weet
anderkant 42nd, terwyl die berg
in die mis verdof. “Where am I going?”
“You’ll be going to a nice farm, my boy,”
antwoord sy vader oor en oor. “My boy,”
you’ll be happy there. You’ll be OK.”
Marais is ’n gedugte beoefenaar van die spesievers. Sy bundels Aves (2002), Diorama (2010), In die bloute (2012), Insektarium en ander gedigte (2018) en Veldboek (2020) kan gesamentlik beskou word as ’n digterlike ensiklopedie van fauna en flora. Lesers wat geïnteresseerd is in dié aspek van sy werk kan gerus Linda Maree se MA-verhandeling getiteld “Taksonomie, taksidermie en diorama: bewaring in die poësie van Johann Lodewyk Marais” (2015) raadpleeg wat sy onder leiding van dr. Erika Lemmer voltooi.
Die spesieverse in die vierde afdeling handel oor verskillende slangspesies soos die gewone luislang, swartmamba, boomslang, rinkhals, molslang en pofadder. Gewoonlik beskik die spesievers oor ’n aantal permutasies en die fokus hoef nie eksklusief op die natuurlike eienskappe van ’n spesifieke spesie te val nie. Dikwels dien die spesie as ’n fokuspunt om iets anders aan die leser te kommunikeer soos byvoorbeeld ekobewuste kommentaar. Dit is presies die tematiese fokus in “Swartmamba” wat handel oor die versteuring van dié spesie se natuurlike habitat deur menslike aktiwiteite. Uiteindelik is die mens direk verantwoordelik vir die swartmamba se “lieflike lyding”.
Marais slaag daarin om die bekendste kulturele en simboliese betekenisse van slange te aktiveer in “Gewone luislang”, “Rinkhals” en “Pofadder”. In dié gedigte word slange verbind aan gevaar, onheil en diaboliese mag. Dié kernbetekenisse word oortuigend uitgebeeld, maar dit is jammer dat ander assosiasies nie verreken word nie. Slange beskik oor meerdere simboliese betekenisse soos heling, transformasie, hergeboorte en onsterflikheid.
Die ekobewuste kommentaar in die vyfde afdeling is veral afgestem op die redusering van beeste tot slagobjekte vir menslike verbruik. Dié aspek is aanwesig in gedigte soos “Lewende hawe”, “Bloedreuk”, “Oskarkas” en “Karkas”. In laasgenoemde gedig word die algehele objektivering van slagvee uitmuntend verwoord deur die kliniese opnoeming van vleissnitte. Uiteindelik is bees of skaap, van nek tot stert, bedoel vir die vleisvretende mens:
Nek
Skof
Borsstuk
Kruis
Dikrib
Platrib
Primarib
Voorrib
Dié tema word verder ontwikkel in “Mark in Bangui” in die sesde afdeling. Die spreker spreek ontstemmende kritiek uit teenoor die bushmeat-industrie en veral die katastrofiese gevolge wat dit vir bedreigde spesies soos die ietermagô inhou. Dié gedig sluit af met ’n kontroversiële vraag: “Kom uit Afrika die grondgedagte / dat alles wat lewe geëet mag word?”
Ander gedigte in dié afdeling handel oor magsmisbruik en geweld. Die magsvergrype van diktators soos Bokassa, Poetin en Bolsonaro word aan die kaak gestel. In “Wladimir Poetin” maak die spreker van slim woordspelings gebruik om die geslepenheid van dié Russiese despoot uit te wys – ’n eienskap wat sommiges reeds vroeër vermoed het, maar sonder enige benul van die latere toedrag van sake:
en in Sochi laat hy sy Labrador
inkom en soos ’n donker skaduwee
die Afgaanse mat oorsteek en soekend
snuffel aan Angela Merkel in swart,
stadig omdraai en doodluiters gaan lê.
Om hulle swerm die joernaliste saam
en kry al hoe meer hond se gedagtes.
Die afgeronde en weldeurdagte aard van Marais se digterskap val weereens in sy jongste bundel op. Hier is geen sprake van mislukte truuks soos geykte kragwoorde, onnadenke, Engafrikaans en versboueksperimente nie. Marais volstaan by taal en tegniek wat funksioneel is vir die spesifieke gedig. Sy voorliefde vir kompakte eenstroofverse is duidelik, alhoewel hy wel sy hand waag aan ander digvorme soos die haikoe. Hy beskik ook oor ’n deeglike kennis van die Afrikaanse poësietradisie wat veral opval in die intertekstuele gesprek met Van Wyk Louw in “Onvoltooid II”. In ’n mate stem ek saam met die volgende opmerking van Du Plooy (2018) in haar resensie van Insektarium en ander gedigte: “Dit is nie poësie wat jou soos ’n hamerslag teen die voorkop tref nie, dit stamp nie jou asem uit nie, dit skok jou nie, dit manipuleer jou nie openlik en eksplisiet nie…”
Tog beteken dit nie dat Marais se poësie vervelig is nie. Dit beskik wel oor emosionele impak wat hy juis bewerkstellig deur ’n nugter aanslag, suggestie en verrassende toespelings. Gedigte soos “Kevin”, “Swartmamba”, “Bloedreuk”, “Karkas” en “Kroegpraatjies” is enkele voorbeelde uit Marais se jongste bundel wat dié leser laat regop sit. Verder dig Marais oor pertinente en aktuele sake soos omgewingsvernietiging wat ons almal wel soos ’n hamerslag teen die voorkop moet tref. Tans brand Griekeland weens ’n globale kookproses, terwyl almal net “bla-bla-bla oor hierdie aarde” soos die spreker in “Retoriek” tereg uitwys.
Die somer is lank nie meer ’n dag oud nie en die sirkelgang van tyd snel onverpoos voort. Tog bly Marais ’n gerekende figuur in die Afrikaanse poësie, ofskoon hy na my mening nie voldoende na waarde geskat word nie. Sy digkuns handel oor eksplorasie en ontdekking van nuwe dinge, plekke en kontekste – die komplekse biosfeer in haar volle omvang kom in sy poësie aan bod.
Johann Lodewyk Marais is die David Livingstone, Pablo Neruda en David Attenborough van die Afrikaanse poësie. Belangriker nog – hy is ’n seun van Afrika wat dig oor Afrika. Sirkelgang is die klinkklare bewys hiervan.
Bronnelys
Du Plooy, H. 2018. Resensie: Insektarium (Johann Lodewyk Marais). Versindaba. Aanlyn beskikbaar: https://versindaba.co.za/2018/05/23/resensie-insektarium-johann-lodewyk-marais/ (Geraadpleeg: 26 Julie 2023).
Maree, L. 2015. Taksonomie, taksidermie en diorama: bewaring in die poësie van Johann Lodewyk Marais. Ongepubliseerde MA-verhandeling. Pretoria: Universiteit van Suid-Afrika.