I
Bundelverband. Waar ‘n gedig in ‘n bundel staan, is tersaaklik. Is dit eerste (die sogenaamde programgedig) of laaste in die bundel opgeneem?
Die programgedig is ‘n aankondiging van wat in die bundel gaan verskyn: die temas en motiewe.
Die laaste gedig in ‘n bundel is ‘n soort afsluiting. Dikwels met bronne en bedankings wat deel vorm van die teks.
Die verskillende afdelings (genommer) met gedigte in afdelings wat bymekaar hoort.
Opperman se Komas uit ‘n bamboesstok (1979) is ‘n deurgekomponeerde eenheidsbundel waar tekste in verskillende rolle geplaas word in navolging van Marco Polo.
Verder terug in die tyd is Emily Dickinson se gedigte wat sy in sogenaamde fascicles (letterlik: pakkies) geplaas het.
II
Johann Lodewyk Marais se Sirkelgang (Naledi, 2023) kan ‘n mens só beskou.
Waar elke gedig staan, is tersaaklik. 7 afdelings met ‘n programgedig wat “Interteks” heet. Die titel van die gedig “Interteks” neem die leser nie net na ander skrywers nie, maar veral ook na die skrywer se eie ondersoek van hierdie temas, soos nou onlangs beskryf in Kumbukumbu: ’n Reisboek oor Kenia (2022). In hierdie bundel vind ‘n mens veral ‘n bemoeienis met Afrika en die natuur.
Daar is gesprekke met skrywers soos hierdie een met Pound:
Ek lees Ezra Pound
in die trein en sien druppels
op die vuil blare. (83)
Ezra Pound:
The apparition of these faces in the crowd:
Petals on a wet, black bough.
Interteks
Na John Updike
’n Mens kan nie verhelp om meer te leer
wanneer jy die aarde in jou hand neem
en gebuk by die kleisloot ’n vorm,
oeroud én nuut, te voorskyn wil bring nie.
Tel dit met eerbied op: Dit is rou klei
met miljoene vingerafdrukke op.
Hierdie leser het weer gaan kyk na Palimpses (1987) en Diorama (2010) en hoe netjies die digter sy bundels komponeer. L.S. Strydom se doktorale studie in 1976 het gehandel oor die eenheid van die digbundel na aanleiding van Louw se Gestaltes en diere. Hierin verwys hy na die sogenaamde tipologie van gedigtegroepe. Daar is eweneens Bernard Odendaal se artikel oor T.T. Cloete: “Eenheid-in-veelheid as struktuurstramien in die poësie van T.T. Cloete, met klem op bundelbou” opgeneem in Literator van Maart 2013. Die mikro-, meso- en makrotekstuele vlakke word hier ondersoek.
Elke digter skep uiteraard sy of haar eie raamwerk van samehang of eenheid. Net soos digters hul eie ervarings simbolies laai.
Soos hierdie haikoe:
II
Die afgesaagde
naboom het in sy spinthout
‘n volmaakte ster. (83)
In Sirkelgang:
Die eerste afdeling ‘n terugkeer na die jeug en verwysings na die Nyl en o.a. na Darwin. In die tweede afdeling besoek hy Ladysmith-Harrismith en daar is ervarings met bekende letterkundiges. In die derde afdeling is daar mitologiese verwysings en die Kompanjiestuin word beskryf. In die vierde afdeling die slangreeks – dit is belangrik dat hierdie gedigte in die middel geplaas word. In die vyfde afdeling is daar gedigte oor slagting. Asof die digter hier self getroop word van sy eie sieninge en ervarings uit sy verlede. In die sesde afdeling is daar verwysings na oorlog (verlede) en tans (Kiëf). Die politieke verse beklemtoon ‘n verdere sirkelgang van hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde. In die sewende en laaste afdeling is daar metafisiese en religieuse besinnings.
In “Gewone luislang” (47) word die slang gekoppel aan die digter se jeugherinneringe. Dit is ‘n gedig oor primordialiteit met die verwysing na die Kinderbybel. Die kinderblik is hier tersaaklik. Dit word ‘n dubbele fokalisasie met die ouer persoon wat as kind terugkyk.
Gewone luislang
Python natalensis
Tussen die plaashek en die voorhekkie
vlam die weste op in ’n wêreldbrand
soos uit ’n prent in die Kinderbybel
en ek dink die einde het aangebreek.
En uit Genesis hoor ek van die slang
in die Paradys: Adam en Eva
se ontmoeting in hulle vrugteboord
met ’n listige en slu besoeker.
* * *
In die dieretuin op Okahandja
lei Pa my tussen kameeldorings deur
na olifante, leeus, kameelperde
en ape ingehok agter tralies.
Skielik lê reg voor ons oë ’n slang
met yslike donkerbruin rugvlekke,
die kop soekend en nie vermorsel nie
en ek vlug gillend los uit Pa se hand.
Zoopark, Okahandja
Ook sinryk hier omdat die uroboros ook die slang van kreatiwiteit is met die ewigdurende siklus van geboorte en dood. Die terugkeer na die jeug en hoe dit die volwassene se lewe bepaal, neem ons terug na Carl Gustav Jung se sieninge oor argetipes, die sirkelgang van die bewuste en onbewuste en die numineuse.
Toe “Karkas” op die Versindaba verskyn het, was die sub-titel “Sonnet”. Dit staan nie in die bundelweergawe van die gedig nie op bladsy 63 nie.
Karkas
Sonnet
Nek
Skof
Borsstuk
Kruis
Dikrib
Platrib
Primarib
Voorrib
Filet
Lende
Binneboud
Diklies
Skenkel
Stertstuk
© Johann Lodewyk Marais, 2022
https://versindaba.co.za/2022/04/22/77493/ Besoek 21 Julie 2023
‘n Slim spel met die sonnetvorm (letterlik van nek tot stert) nes die gedigte oor Kiëf waar die leser genooi word om verskillende eindes te versin.
Die slotafdeling vergestalt ‘n spirituele bewussyn mooi verwoord as volg:
Die uur
Daar is ’n uur as die lig verander,
die skadu van die bome langer word,
die tortelduiwe se gekoer aanhou
en die kraaie naby die huis kom sit.
Dit is die uur om varkore te pluk
in die ruie tuin van vantevore
en oorkant na die graftes toe te neem
waar my voorouers steeds ter ruste lê
in bestrede en belaste aarde. (86)
Elke gedig is presies geplaas. Die kommentaar op die politiek en ekologie maak dit in hierdie tydsgewrig relevant. Maar die verse is argetipies en universeel van aard in die beskrywing van die ewige sirkelgang van lewe en dood; politieke onrus en soeke na spirituele rus.
Joan Hambidge
23 Julie 2023
Bronne:
Jung, C. G. 1964. Man and his symbols. Londen: Aldus Books.
Jung, C.G. 1953 – 1979. The collected works (Bollingen series XX). 20 volumes. Vertaal deur R.F.C. Hull. Ed. H. Read, M. Fordham, G. Adler, Wm. McGuire. Princeton: Princeton University Press.
Strydom, L.S. 1976. Oor die eenheid van die digbundel. Universiteit van Pretoria: D. Litt.