Middernag in Wene
Die interval tussen moderniteit en tyd
is slegs ’n oogwink lank terwyl die nag
’n asinchrone nabeelding van gister bly.
Die stad ontslaap nou soos ’n ou baron
onder die spinnerag van leeftye en lot:
sy swart jas dra die jare weerloos saam
en in sy hoed is daar ’n adelaar se veer.
Hy is die keiser met die uitgerolde snor
wat langs die stilbeelde van lugkoetse
en hingste in die eerste skrikkelure wals.
Die woude hou hom warm waar hy slaap
terwyl die hoewe oor sy pleine resoneer:
dit is die metrum van arkane voorwetes
se onvoltooide simfonieë wat refrein.
Ek groet beleefd wanneer hy vir my kyk
hier waar ek laatnag in die wolfgange
rondom die Heldenplatz se tuine loop.
Maar hy, die doofstomme, erken my nie:
hy soek die holtes van sy minnares se lyf
waar sy in staatsie langs die Donau rus.
© Mellet Moll, 2023